fbpx
Motiverende skrywe aan skrywers vir die nuwe jaar.

Motiverende skrywe aan skrywers vir die nuwe jaar.

Daar is iets aan skryf wat die gedagtes losmaak en die tonge laat wapper.
Skryf gee ons die vryheid om dit te sê wat ons soms bang is om te uiter. Dit help ons om ons gedagtes te orden en om nuwe perspektief te kry. Hetsy in ons lewe of tydens ‘n krisis.
Ek dink nou terug aan die dag toe ek begin skryf het. So, in die stilligheid van my kantoor by die huis toe dinge te veel begin raak het. Die telefoon vir die soveelste keer dreigend in ons oor neergesit is met die belofte dat hulle sal terug bel. Toe alles alreeds klaar gevat is en jy wonder wat meer wil hulle nou hê. Toe het ons elke oproep gevrees. Ons skuldeisers het ons bloots gery totdat daar naderhand niks meer oor was nie. Geen eie ek, geen sin en geen rigting nie. Nogsteeds het dit aangehou en het ek ‘n uitkoms gesoek.
Skryf het dit vir my geword. Dit was ‘n natuurlike uitvloeisel waar woorde net begin sin maak het en my gedagtes een vir een rus begin kry het. Dit was in 2010.
Daar het elke storie vorm aangeneem en my weggevoer na ander plekke. Mooi plekke waar liefde, genade en barmhartigheid sin gemaak het. Woorde wat die seer en verwyte gestil het, asook die moedverlorenheid.
My eerste storie het vorm aangeneem in die oomblikke wat daar petrol was vir die kragopwekker. Wanneer die petrol klaar was het die storie verder in my kop gebroei en het ek geleef vir die oomblikke wat ek voort kon gaan. In die stil tye was ‘n notaboek en pen byderhand om die skryfstem te stil. Dit was die enigste rede wat my uit die bed laat kom het, en voort gegaan het. Niks anders het sin gemaak nie.
Ek het nooit beplan om ‘n skrywer te word nie. Ek het nooit gedink ek sal ooit ‘n boek publiseer nie. Al wat ek geweet het was dat dit vrede bring te midde van die chaos waarin my lewe was.
Ongeag van waar jy jou mag bevind op hierdie reistog weet dat jou woorde belangrik is. Of jy soos ek ‘n groentjie is wat als moes leer, woord vir woord om sin te kon maak, en of jy nou ‘n geleerde skrywer is.
Jou woorde het waarde. Jou storie is uniek aan jou.
Al dink jy mense kyk neer op jou, maak jou storie jou uniek in die aflewering daarvan. Jy kan besluit hoe om dit te skryf, hetsy fiksie of as motiverende stuk. Jou woorde se trefkrag is juis daarin dat dit eiesoortig joune is. Geen persoon: geleerde, kenner of beterweterige kan dit weg vat nie.
Die feit dat jy skryf maak jou ‘n wenner. Op daardie skoon bladsy stort jy jou hart uit. Die bladsy verdoem jou nie. Lag jou nie uit nie. Veroordeel jou nie. Hy aanvaar elke letter as jou waarheid.
Leef daardie waarheid. Skryf dit. Want iewers, uit die niet sal jy weer mens word. Sal jy weer die wêreld in die oë kan kyk en jou kop kan oplig. Wie weet wat môre sal bring: ‘n gepubliseerde boek, die wenner van ‘n kompetisie, of dalk is jy die volgende Anjie Krog, Stephan King, C.S Lewis of Dalene Matthee. Niemand sal weet nie tensy jy nie begin nie. Ons almal het iewers begin.
Daarom skryf. Al val jy uit ‘n kompetisie. Probeer weer. Leer. Skryf en lees. Want môre is jy dalk die een wat almal wens hulle kan wees juis omdat jy nie opgehou het om jou waarheid te skryf nie.

Opsoek na Stilte

Om meer te leer oor die boek kliek hier

‘n Doodsheid vul my binneste, soveel so toe ek die by die snelweg aansluit kan ek nie onthou hoe ek daar gekom het nie. Ek voel moeg en gedreineer. Dit is veby. Trane loop teen my wange af, versper my visie en ek ry stadiger. ‘n Kar jaag verby, ‘n toeter blaas en instinktief weet ek dit is vir my. Toe ek my oë afvee besef ek hoekom, ek ry wydsbeen oor twee bane. Ek ruk die kar na die linkerbaan net toe nog ‘n groterige motor verby my skuur met blêrrende toeter. Die man swaai vuis deur sy venster, woedend.

Ek is ‘n gevaar vir myself en die motoriste om my, syfer die besef deur. By die volgende afdraai volg ek die afdraaipad en stop by die Engen garage. Ek vee spore van my afgelope tranedal af en stap by die eetplek in. Daar sak ek by die naaste sitplek neer.

“Môre Mevrou, hoe lyk dit met ‘n heerlike koppie koffie?” ek vermy die kelner se oë maar koffie sal heerlik smaak.

Stilweg verdwyn die man en ek sit terug. Nog ‘n traan baan afwaarts en verergd vee ek dit af. Ek moet myself ordentlik kry en gewaar die badkamers in die linkerhoek van die vertrek en baan my weg soontoe. Gelukkig is die plek nie vol nie en kan ek darem my kop ietwat lig net om seker te maak waar ek is. Struikel is die laaste ding wat ek nou nodig het.

In die ruskamer doen ek my besigheid soos ‘n robot. Ek weier om te dink oor die afgelope naweek se gebeure. Weier om weer my asem of my trane daarop te mors. Ek moet eintlik verlig voel dit is verby. Die beeld wat terug weerkaats is van ‘n weerlose bleek vrou met rooi, opgepofde oë. Ek lyk lelik en onthou ek het my handsak by die tafeltjie gelos. Baie onverantwoordelik van my dink ek benoud. Met lang vingers kam ek my deurmekaar hare reg. Dit maak nie ‘n groot verskil nie maar dit lyk tog beter. ‘n Haarknip sou beter gewerk het maar ek gaan nie nou daaroor top nie. Ek spoel my gesig met koue water af. Dit voel verfrissend en ‘n sweempie van ‘n glimlag verskyn. Met die papier handdoek druk ek my gesig droog en kyk weer na my beeld, dit lyk beter, heelwat beter. Ek voel meer in beheer van my gevoelens.

By die deur stop ek. Vir ‘n oomblik kan ek nie onthou waar my sitplek is nie en die vriendelike kelner wink vir my. Sy bedagsaamheid lig my gemoed nog verder en die keer kan ek hom in die oë kyk. Merkwaardig wat ‘n veranderde gemoed kan doen, dink ek, verleë oor my houding van vroeër.

“Wat van ietsie om die innerlike te versterk?” vra hy beleefd. Sy Afrikaans het ‘n merkbare aksent. “Ons het vars skons, kan ek vir mevrou bring, saam met aarbei konfyt en room?”

“Baie dankie, klink heerlik.” En weer verdwyn hy uit my gesigsveld. Die wagtende koffie ruik heerlik en vinnig gooi ek twee bruinsuikers in, voeg dan ‘n titseltjie melk by. Al roerende kyk ek rond, nie seker waar ek is nie. Die plek lyk skaflik, nie die standaarde waaraan ek gewoond geraak het nie maar vandag pla dit my nie. Die verandering sal my die wêreld se goed doen.

Ek vat die eerste sluk, versigtig om nie te brand nie. En geniet die aroma, ryk en lekker net soos pa altyd daarvan gehou het. Boeretroos. Sy het altyd gewonder oor die beskrywing maar nou, hier in die onbekende dring dit deur. Die troos wat dit haar gee is verkwikkend amper eufories en sy vat nog ‘n sluk. ‘n Perfekte koppie koffie. Welbehaaglik ontspan sy net om weer aan haar handsak te dink. Dit lê nog op dieselfde plek dink sy verlig en sy plaas dit op haar skoot. Sy grawe rond en kry haar selfoon beet. Met misnoeë kyk sy na die swart skerm en besef hy moes iewers afgegaan het.

“Kan ek vir mevrou op die laaier sit, dan is hy nou, nou weer vol lewe?” vra die kelner. Ek skrik, ek het hom beslis nie opgemerk nie en ‘n bord met die geurigste skons word voor my neergesit. ‘n Wit bakkie met room word langs dit neergesit en dan volg twee kleiner bakkies met gerasperde kaas en aarbeikonfyt, onderskeidelik.

“Asseblief, maar ek het nie die draad hier nie.” Verergd dat sy in haar haas dit by die huis gelos het. “Ons het ‘n paar drade hier en dit lyk na ‘n bekende maak so ek sal beslis kan help.” Ek wik en weeg die aanbod, skeptisisme so deel van my dat ek wonder wat sy intensies is. Dan kyk ek na die oop gesig, onskuld weerkaats terug na my. Met ‘n ry wit tande wat vol verwagting na my kyk. Dan oorhandig ek die foon met ‘n dankie. En met diè stap hy weg, na ‘n rak in die een hoek waar hy die foon konnekteer. Met ‘n breë glimlag gee hy my ‘n duimpie op en ek gee ‘n skalkse glimlag. Darem iets wat reg werk.

“Life goes on.” Het sy eendag iewers gelees en selfs in die verbygaan het sy dit nooit rerig gesnap nie. En hier sit sy, by ‘n onbekende plek en kom tot die besef dat selfs in die klein dingetjies die lewe nog voort gaan. Al het haar wêreld momenteel kom stil staan gaan dit eintlik nog aan. Sy is finaal vry van Diwan.

“Jy het ‘n regte keuse gemaak.” Word my gedagtes onderbreek deur ‘n growwe stem. Verdwaas kyk ek op. Die man voor my se vriendelike gesig stel my dadelik gerus. Verward staar ek na hom, snap nie waarna hy verwys nie en hy wys na die bord voor my.

“Die skons, dit is Helga se beste gebak. Mense stroom spesiaal hiernatoe vir haar varsgebakte skons.” En hy gaan sit oorkant my. Vies kyk ek hom aan. Ek het hom nie genooi nie, dink ek verergd. Sommer omgekrap oor sy voorbarigheid. Hy klap sy vingers en bulder dit uit: “Ag bring vir my daar ook ‘n koffie en skons, Gertman.” Die kelner van vroeër grynslag weer en verdwyn die kombuis in.

“Die naam is Wikus. Wikus Boonzaaier. Ek bly net buite die dorp.” En steek ‘n growwe hand uit wat ek bedeesd vat. Nie lus vir geselskap nie maar antwoord tog beleefd:

“Rika van den Berg.”

“Bly te kenne Rika. Kom jy dikwels hier?” val hy sommer dadelik met die deur in die huis. Ek wil my nog verder vervies maar bedink my. Miskien moet ek net leer om te ontspan.

“Nee, is my eerste keer.”

“Waarheen is jy oppad?”

Kriewelrig vermy ek sy priemende oë. Goeie vraag, nie seker nie, dink ek in die stilligheid. Gertman is terug en plaas die man se bestelling voor hom neer. Dit gee my ‘n oomblik om my eie skons te sny en met botter te smeer. Die vraag hang in die lug en ek weet eerlikwaar nie die antwoord nie. Waarheen is ek oppad? Vandat ek Bergendal verlaat het, het ek net die pad gevat.

Die man smeer sy eie gehalveerde skons. Die konfyt word sommer dik opgeplak en hy gee ‘n groot hap. “Dit bly darem die lekkerste skons in die geweste.” Ek knik my kop in ooreenstemming. Dit is heerlik vars.

“Verskoon my voorbarigheid maar kan ek help?” vra hy weer, die ondersoekende blik gevul met opregte belangstelling. “Nie rerig nie.” antwoord ek bedees.

“Dit lyk my jy het ‘n stil-word-plek nodig.” Gee hy sy mening en vat weer ‘n hap. Ek lag amper sinies. Stilte is seker die laaste plek wat ek nodig het en ek vat ‘n sluk van my koffie.

Sonder om sy steeds priemende oë te ontmoet kyk ek weg, nie seker wat om te antwoord nie. Stilte… ek het genoeg daarvan gehad op Bergendal. Dit is juis van die stilte wat ek weg vlug. Die soort stilte wat kasty en letsels los. Daardie soort het ek nie nodig nie.

“Ek sal eerder tussen mense wil wees. Miskien is die stad juis wat ek nodig het.” antwoord ek en wink vir Gertman om die rekening te bring. Skielik haastig om op die pad te kom.

“Mevrou, waarvoor jy ookal vlug ek hoop jy kry jou antwoorde daar.” Ek knik my kop, sit ‘n R100 noot op die tafel neer en staan beslis op. Ek hoor Gertman roep maar ek ignoreer hom. Die footjie is seker te veel.

Terug in my kar vang my oog die inligtingsbord na Durban. Is nie juis ‘n plek waarvan ek hou nie maar is miskien juis wat ek nodig het. Die klop teen die ruit laat my skrik en ek gewaar Gertman met ‘n breë glimlag. My foon in sy hande. Versigtig rol ek die venster af en met ‘n dankie ontvang ek die foon. “Mooi ry, Mevrou. Tot ‘n ander dag.” En ek rol weer die venster toe sonder ‘n woord.

Met haas trek ek weg om die soort stilte te vind wat net afstand my kan bied.

Oupa, Waar Kom Babas Vandaan?

Oupa, Waar Kom Babas Vandaan?

“Jislaaik, het oupa daai drie gesien, vandag is ons op ‘n ‘winning streak’,” verbreek Hansie die stilte en Oupa kyk hom kwaai aan. Van pure opgewondenheid was die manne amper op aandag. Jy kon ‘n speld hoor val van ingehoue asems.

Lyk nie asof dit baie goed gaan met die spel nie dink Anna wanneer sy die groepie sien. Die normale opgewondenheid is sluimerend so asof hulle enige oomblik ‘n doodstyding verwag.

Met een blik slaan sy die dinge gade die oomblik wat sy in die TV kamer verskyn. Haar doelwit is aan die anderkant van die vertrek. Dit gaan weer ‘n epidermiese stryd wees, sy weet dit sommer al klaar.

Die toeskouers gaan sit, elkeen gewapen met ‘n drankie in die hand, en staar na die skerm. Die TV kamer lyk al klaar of ‘n orkaan hom getref het met ‘n Afrikaanse koerant wat argeloos opgevou lê langs oupa se voete.  Die koffietafel is besaai met afstandbeheer toestelle, tydskrifte, en ‘n paar geleesde rekeninge wat nie weer terug gesit is in hul koeverte nie. “Ma gaan ‘n oorval kry,” mompel sy binnesmonds.

“Praat jy Anjie?” vra oupa en sit verder terug in sy stoel.

“Nee Oups.”

“Wat doen julle?” vra sy ewe onskuldig en plaas haar eie notaboek op die klein tafeltjie neer. Die atmosfeer is maar dik vir ‘n pas afgelope drie, dink sy in die stilligheid.

“Jy kan mos sien,” haak Frik af wat die naaste aan haar is. Sy gee hom ‘n verveelde kyk en skuifel verby hom. Op daardie oomblik versper sy, sy sig in die verbygaan.

“What is wrong with you?” vra Frikkie geïrriteerd en stoot haar uit die pad uit. Oupa maak eensklaps sy keel skoon: “Watse Engels hoor ek, is hierdie nie ‘n Afrikaanse huis nie? Hier is ons trots op ons taal, verstaan mannetjie.” Sê-vra Oupa wat momenteel sy aandag op Frikman gevestig het en Frik krimp ineen. “Almiskie man. Die Engelse is al klaar besig om oor te neem, selfs in ons geliefkoosde spel en nou wil jy hulle nog verdere eer kom gee. Nogal in my eie huis.” As jy Oupa wil kwaad hê en laat vergeet van enige iets dan moet jy net ‘n paar Engelse woorde voor hom rondgooi. Dit maak hom op die plek briesend.

“Julle weet goed ek kan hulle nie verdra nie, kyk wat het hulle met my pa gedoen.” Begin hy en al drie die jongmense rol hulle oë onderlangs… hulle weet ja. Die storie is nou ook al holrug gery. Hoe Smuts eenvoudig hul plaas gevat het en net so vir die Khakies gegee het. Dit was ‘n groot slag vir die Kriek familie.

“Yes Oups, ek bedoel, ja Oupa.” En Frik skuif dieper sy stoel in. Anna maak gebruik van die oomblik om verby te skuifel. Vies vir oupa en kleinsus skuif hy sy stoel nog nader aan die televisiestel en versper haar tog na die boekrak. In hierdie huis, soos meeste Afrikaanse huisgesinne, is dit mos Saterdag godsdiens, heilige tye ‘RUGBY AANBIDDING’. Soos wat haar familie altyd praat. Eerder rugby kens, as jy my vra, spoel die gedagtes deur haar en sy skuifel vinnig weg.

“Sit verdomp stil, het jy rooimiere!” gee Oupa ook sy mening en gee haar ook ‘n ligte stoot. Hoeveel keer het sy nou al vir ma gesê om die sitkamer so te skuif om toegang na die boekrak makliker te maak, sug sy moedeloos. Die boekrak is, soos vele ander meubelmente in die Kriek huishouding net ‘n wit olifant. Niemand gebruik die ding nie daarom dat dit so toegepak is. Ma dink dit gee die TV kamer meer ‘ambience’. Sy wonder of haar ma weet wat dit beteken. Vir haar is dit ‘n mooi woord en sy dink dit moet iets te doen hê met ‘n eiesoortige karakter wat so eie is aan haar ma.

Die boekrak was ‘n erfstuk van Ouma Bora, haar ma se ma. Sy was ‘n kranige leser en die boekrak is ‘n getuienis van haar gunsteling tydverdryf. Dit is gepak met ‘n verskeidenheid Afrikaanse en Engelse boeke. Van fiksie en poësie tot dokumentêre boeke wat in netjiese rye in die rakke staan. Sy self kan lekker wegraak met ‘n boek vir haar ouderdom en het al ‘n paar gelees. Die dokumentêre boeke is verskuil agter ‘n uitstalling van dekoratiewe fotoraampies van hul kinderjare en padda ornamente. Diè staan in die middel van die boekrak. Ma sê dit is haar ‘center piece’. Dit is haar ma se gunsteling versamelgoed, die paddas; kleintjies en grotes in elke vorm denkbaar.

“Pas tog om vadersnaam op vir daardie tierlantyntjies van jou ma,” blaf oupa en sy skrik. Sy het nie gedink oupa weet eers van haar bestaan nie wat om te sê waar sy is. Sy vang sy oog en hy knipoog vir haar en dan glimlag sy. Oupa het geen geduld met die goedjies nie. Moan gereeld oor die verkwisting van geld. Maar ma steur haar maar min en kom gewoonlik huistoe met nog ‘n cute paddatjie.

Gister se byvoeging was ‘n groen padda wat op die toilet sit en boek lees. Mamma het gedink dit sal perfek op die boekrak lyk en oupa het net onderlangs gebrom. “’n Mens sou dink die vrou het nou al genoeg van die slymerige goed, maar nee, hier is weer een, net so verspot soos die res.” Sy kon nie help om te lag nie en haar ma het hom net geïgnoreer. “Gun haar, haar plesiertjie,” sê oupa Jan gereeld. Wanneer hy kom kuier. Maar oupa Hans het geen geduld met die goed nie. Skuif dit gereeld rond, vernaamlik wanneer ma naby is… dit jaag haar die harnas in. Ma se waardevolste besitting is die padda-teestel, kompleet met ‘n teepot, die tuit lyk kompleet soos die bek van ‘n padda en sy ril – sy hou nie daarvan nie. Oupa maak gereeld vir hom koffie in die koppie, sonder ma se medewete.  Dit is haar en Oupa se geheim.

Anna fokus weer op haar doel. Paddas gaan haar nie nou help nie. Die taak moet Maandag in wees en sy het inligting nodig om die taak te voltooi. Hopelik is daar ‘n boek wat dit aan haar kan verduidelik. Een wat nie hoogdrawende woorde bevat nie. Haar Oupa glo nie aan die wêreldwye web nie. Hy sê dit is net ‘n onnodige euwel en verkwisting van sy geld. Hulle het al hoeveel keer daaroor gestry, maar hy hou voet by stuk.

In ‘n desperate poging stamp sy aan haar nefie, Hansie, wat die spel saam kom kyk het.  Dié het opgeskuif toe sy probeer verby kom en amper oor sy groot nommer tiens gestruikel toe haar weg weereens versper word met ‘n afjak. “Kry jou ry, nig,” net om luidens te skree van plesier.

Dit weergalm soos wat haar broer en neef bokspring in die beperkte spasie en sy klap haar ore toe vir die harde geluide. Oupa sit met ‘n selfvoldane glimlag terug teen die bank en skop sy kaalvoete voor hom uit. “Dit is mos nou hoe dit gedoen word.” Sê hy dawerend. Waarderend.

Nog ‘n drie en sy rol haar oë in verveeldheid. “Oups, kan ons praat, asseblief oups?” vra sy meer uit verveling uit. Haar pad nou heeltemal versper na die boekrak toe.

“Ons is nou besig Anna,” Sê Frikman ewe vernaamlik, sy oë vasgenael op die skerm. Oupa ignoreer haar heeltemal, verdiep in die spel.

“Julle is ook altyd besig.” Snip sy astrant, haar kieste sommer vet gebol en plof op die enigste leë stoel in die vertrek neer.  Haar rokkie skuif ‘n entjie op en sy trek dit verleë reg. Met ‘n vinnige kyk na die mans maar hulle het haar klaar vergeet. Ek haat rugby dink sy stroef. Elke blêrrie naweek is dit dieselfde ding. Rugby. En nogmaals Rugby. ‘Afrikaner godsdiens wat eerbiedig moet word,’ sê Oupa gereeld. Dit is genoeg om van naar te word.

Vandag, van alle dae moes haar ma besluit om ‘n ‘girls outing’ te hê saam met haar vriendinne. Sy moes agter bly om seker te maak dat die mans hulle gedra. Asof hulle enigsins na haar luister. Sy is mos net 13 jaar oud en stupid. So glo Frikkie, haar oudste broer, wat op 22 nogsteeds in die huis bly. Sy wonder wie is nou eintlik die stupid een. Sy skiet verergd haar armband se bandjie dat dit klap. Frik kyk haar skeef aan en Hansie gluur haar aan, vir beide steek sy haar tong uit.

Sy maak haarself gemaklik en vat ‘n sluk van haar koeldrank terwyl sy die petalje op die TV dophou. Dan vat sy ‘n tydskrif van die tafeltjie af en blaai lusteloos daarin. By die bekende mense bladsy haak sy vas en lees elke rubriek nuuskierig deur. Sy geniet die wenke van die sterre en lees graag oor mooimaak goed. Soms maak haar ma haar op en dan voel sy soos ‘n regte prinses. Miskien eendag sal sy ook so mooi wees soos die meisies wat sy bewonder het vandag. Met die omblaai slag blink haar oë as sy in die pas bekroonde Mej Heelal vaskyk, “Sjoe sy is mooi.” Sê sy met helde vereering, amper droomverlore en lees die artikel van die meisie se pad deur die kompetisie. Elke foto word bestudeer want Maandag gaan daar defnitief tydens pouse daaroor gesels word. Sy gee ‘n klein suggie en kyk dan na haar eie kierie beentjies. Dream on girl dink sy.

“Maar my magtag!” hyg Oupa na asem en sy ruk soos sy skrik. Hansie sit verleë oupa se glas neer en sluk vervaard. “Waar kom jy daaraan om aan ‘n man se drankie te drink?” Verontwaardig spring hy op en kyk haar neef kwaai aan en stap dan ergelik weg. Met sy drankie in die hand neem hy plaas by die eetkamertafel reg agter haar. “Vandag se kinders het ook geen respekte nie.” Mor hy gekrenk en kyk vies na sy glas net om dan ook ‘n groot sluk te vat. Dis soos Afrikaner godsdiens se nagmaalwyn, bier of brandewyn en coke, heilige watertjies. Bewaar jou siel as jy daaraan raak.

“Is nes oupa daar sê,” snip Frikkie ewe kordaat wat hom ‘n vuil kyk van Oupa af besorg. Hansie krimp in sy stoel weg maar opper tog bedees, “Skuus Oupa.”

“Bepaal jou by die game, mannetjie en nie my drankie nie.” Waarsku oupa en Hansie rig blitsvinnig sy aandag na die kassie. Hy trek sy skool-rugby-trui so bietjie, so asof die ding te nou is vir hom. ‘n Senuweeagtige gebaar wat Anna leer ken het by haar neef.

“Kinders van vandag het geen respekte nie. Jy is hopeloos te groot vir jou skoene.” Die twee jonger mans kyk vir mekaar en grinnik onderlangs vir mekaar. Anna weet dat hulle gereeld die kat in die donker knyp wanneer hulle in die motorhuis verdwyn. Hulle asems ruik altyd sleg agterna. Sy het eendag gevra daarna maar was summier stil gemaak voor oupa of ma kon hoor.

Hansie is oom Adriaan se seun, alreeds in matriek en net soos wat oupa sê hopeloos te groot vir sy skoene. Hy is haar oorlede pa se jongste broer se seun. Haar pa is oorlede dieselfde dag wat sy gebore is. Haar verjaarsdag het gewoonlik maar ‘n nostalgiese gevoel. Ma en oupa pik gewoonlik ‘n traan weg van die vêr dink. Maar tog het sy altyd almal se liefde ten spyte van die hartseer gebeure wat die datum teweegbring.

“Is ook nie so erg nie, Antjie, ons kan hom weer vol maak.” Troos Oupa van agter af nadat hy ‘n bietjie kalmeer het en sy glimlag. Sy is mal oor haar Oupa. Almal sê dat sy hom om haar pinkie draai, wat nie waar is nie, nie volgens haar nie, in elk geval. Sy mik om by hom te gaan staan vir ‘n wyle maar hy stop haar. “Sit nou stil ounooi en kyk die spel. Dit is goed. Die Bokke is weer op hulle stukke vandag.” Paai hy haar met sy oë vasgenael op die kassie.

“Kyk nou wat maak hulle!” gil Oupa woedend en stort van sy drankie op die teëls. “Vandag is die dag wat ek hulle gaan roskam oor hul swak spel!” Roep hy verergd uit. “Ek bel sommer daai kamma-afrigter en vertel hom presies wat ek van sy span dink!”

“Hulle het nou al weer ‘n aanslaan,” beaam Frikkie, “hulle gee die spel vir die Engelse op ‘n skinkbord.”

“Kyk,” tik oupa haar op die skouer en met ‘n verveelde kyk bekyk sy die spel weer soos algar dit ken. Die gemaal op die grasgroen gras is deurmekaar. Natgeswete mans tuimel en vertrap mekaar in die bondel. Niks maak vir haar sin nie. “Kyk, sien, net daar is die aanslaan maar die skeidsregter blaas ons. Dit is hulle fout.” Verduidelik hy en wys terselfdertyd na die skerm. Sy kyk maar sien nie. Verstaan ook nie. Die man op die skerm staan met sy rug na die kamera en staar na bo, afwagtend. Sy neem aan dit is waar die skerm gemonteer is en almal hou hul asems op. Die skare ‘boo’ in die agtergrond maar die skeidsregter ignoreer hulle. Dan draai hy na nog ‘n man wat net buite die kamera se gesigsveld is en die kamera fokus in en die man kom in beeld. Die twee praat, koppe word geskud en dan word die fluitjie geblaas. Strafskop aan die Engelse. “Ag hel man,” roep Frikkie uit, “is die aap blind!” Roep hy verergd uit. “Frikkie!” roep Oupa protesterend uit. “Jou taal asb. Hier is nog kinders in die vertrek.”

Anna trek ‘n verbaasde gesig en Hansie lag stilweg by die aanhoor van die grutaal. Oupa sal hom ‘n oorveeg gee as hy dit moet sien daarom hou hy sy hand voor sy mond.

“Ja Oupa.” Frikkie staan dikbek op en gaan staan by die patio deur. Sy plakkies slof agter hom aan en sy t-hemp hang oor sy gekreukelde kortbroek. En dan wonder hy hoekom meisies nie van hom hou nie. ‘Pleinweg slordig’ sê mamma altyd. Maar praat is min, hy doen soos hy wil. By die glasdeur steek hy ‘n sigaret aan en blaas na buite. Ma haat rook in die huis, soos klokslag, word daardie bepaalde plek deur een van die mans ingeneem. Die wisseling mooi gekoördineer sodat daar genoeg ruimte is wanneer sy of ma wil uitgaan. Met die gevolg is dat dit altyd lyk asof hulle rock stars is, omring met ‘n wolkie rook wanneer hulle die patio betree.

“Kyk wat doen Frikkie, Oupa.” Verkla sy hom en Oupa kyk hom vies aan,

“Maak dood daai sigaret,” snou oupa hom toe. “Jy weet hoe jou ma voel oor die gifstokkies.”

Vies vat Frik nog ‘n diep teug en skiet dit dan in die bak in. Dit sal nie help om te moan nie, ma se woord is wet en oupa maak seker dit word toegepas. Behalwe natuurlik op homself. Hy is mos te oud om in te pas by die huislike wette.

Dan skuif almal se aandag weer terug na die kassie in die middel van die vertrek, binne sy spesiale kas. Die kas word nooit beweeg nie maak nie saak hoe ma die meubels rondskuif nie. Die ding bly vasgenael op sy plek.

Anna is nou klaar gelees en sien oupa se selfoon raak. Sy draai om en staan half op haar knieë op die bank, wetende dat ma nie daarvan hou nie maar sy is nie nou hier nie. So, as sy vinnig maak dan sal niemand eers weet nie.

“Kan ek maar kyk, Oups?” vra sy saggies en wys na die Android op die tafel. Oupa kyk skalks na haar en knik instemmend sy kop. Gemaklik sit sy terug en gaan reguit na die foon se gallery toe. Hy ontvang altyd die mooiste prentjies en snaakste video clips wat sy baie geniet. Gewapen met oorfone sit sy en lag saggies vir die snaakse goed wat die mense aanvang. Vasgevang in haar eie wêreld terwyl hulle ‘besig’ is.

Die drie is siende blind en horende doof soos wat hulle asem ophou vir die naelbyt spel en alle oë is vasgenael op die man wat die treë aftel en dan skop. Die skare agter die pale juig en Engelse vlae verrys omhoog. Dit dreun behoorlik op die paviljoen. Die Bok ondersteuners boo nog steeds, die groen en goud pette en vlae wapperend in die blou lug. Die telling is Engelse 18 Springbokke 17. “Dit is ‘n taai stryd.” Sê oupa diplomaties en hul oë ontmoet. Sy knik maar net haar kop en lees verder.

Weer blaas die fluitjie en Oupa staan stywerig op en vat liggies aan haar skouer om sy ewewig te behou. “Rustyd, tyd om die keel nat te maak. Dinges het my nou behoorlik op hol. Ek kan nie glo daardie skeidsregter gee ons spel so weg nie.” Kla hy op pad kombuis toe. “Maar wat verwag jy van die Franse?” Mompel hy voor hy in die kombuis verdwyn. Anna kyk op en sien hoe die mans hul skaars maak en verwyder die oorfone om net betyds hul gesprek te hoor.

“Hansie, hoe lyk dit, gaan ons bietjie bal gooi?” vra Frik en gooi sy neef met die rugbybal wat die heeltyd langs hom op die vloer gelê het. Hansie laat val die bal en moet strek om dit te vang voor dit weg rol.

“Jissie, nou praat jy neef. Kom, dié plek is hoeka dood.” beaam Hansie en gooi die bal dan in die lug wat hy netjies weer vang. Anna staar hulle aan asof hulle mal is en Hansie kyk na sy niggie met rollende oë. “Pasop vir jou,” sê sy waarskuwend. “Ma sal die oorval kry as haar goed breek.” Snip sy.

“Dit is hoeka tyd dat jy bietjie bal beheer oefen, jou spel is maar vrotsig.” Gaan sy voort.

“Ag stil man, wat weet jy.” Vra hy gekrenk. Hy is immers in die eerstespan, al is dit net reserwe.

“Issie ek wat so sê nie.” Snip sy hom weer toe.

“Wie dan?”

“Oupa.” Kom die antwoord en sy grinnik vermakerig. Frikman vat hom aan sy arm toe Hansie mik om haar met die bal te gooi. Gebelgd volg hy sy neef na buite. Nie seker wat om van die aanmerking te dink nie.

‘n Ruk later verskyn oupa en sak welbehaaglik terug in die rusbank, ‘n glas in die hand. Die ysblokkies klingel met elke beweging wat gemaak word. Met een vinger roer hy die mengsel van sodawater en whiskey. Suig die vinger af en vat dan ‘n sluk, voor hy dit lip-smakkend op die kleintafeltjie neer sit.

“Oupa?” haar stemmetjie is maar dun maar sy moet nou vra. Sy weet darem ook genoeg van die spel om te weet wanneer die regte tyd is. Enige ander tyd sal fataal wees. Die mans in hierdie huishouding word nie gepla tydens Afrikaner vastyd nie – dit is ‘n algemene reël in die Kriel huishouding. Die bordjie by die voordeur se slagspreuk is ook duidelik. ‘Moenie die klokkie lui tydens rugby nie (as jy weet wat goed is vir jou.)’ Ja nee, die Kriel mans is ernstig oor hul godsdiens. Een keer, lank gelede, was daar ‘n insident met die dominee. Hy wou oplaas kom huisbesoek doen tydends die spel tussen Frankryk en Suid Afrika. Hy wou fondse insamel vir die nuwe orrel. Oupa was woedend en sommer siek van kwaadgeit en Frikkie was pleinweg ongeskik. Dominee het hulle lank daarna nog vermy. Ma het hom gewaarsku maar die man het geglo dat hulle ruimte sou maak vir die dinge van die Here wat toe nie die geval was nie.

Op die kassie word die spel gedesekteer deur die panel kenners op die Sportprogram en elkeen het ‘n geleentheid om sy siening te gee. Sy weet oupa luister net met ‘n halwe oor omdat hy sy foon by haar gevat het en gou kyk of daar enige boodskappe deurgekom het.

“Ja, Pop?” so nou en dan lewer hy kommentaar in sy kenmerkende mompelende manier. Sommige nie goed om te herhaal nie. Sy het al geleer om ‘n dowe oor te gooi. Elke dan en wan word ‘n spel terug gespeel van die pas afgelope eerste helfte en so hou dit aan tot sat wordens toe.

“Oupa, ek het hierdie taak wat Maandag ingehandig moet word en ek kort inligting om dit klaar te skryf.” Sy speel met die potlood, ongemaklik met die onderwerp. Sy het nooit gedink dat sy haar oupa sou moes vra oor die feite van die lewe nie. Vasbyt en deurdruk soos die rugbyspelers is al wat nou gedoen kan word. Sy verstaan teen die tyd dat babas uit die vrou se liggaam kom maar waar weet sy nie. Maar wat haar die meeste pla is hoe kom hulle daar in die eerste plek.

“Waaroor gaan dit?” en hy vat nog ‘n teug wat hy amper uitspoeg toe sy vra, “Oupa, waar kom babas vandaan?” met onskuldige oë kyk sy hom aan, vol verwagting vir die antwoord. Oupa proes so erg dat drank oor die tafeltjie trek en hy trek sy gesig vieserig. “Ag nee, verdomp Anna, kyk nou wat laat jy my doen.” Hy vee vies oor sy eie groen en goud trui en vee dan ‘n nat hand aan sy denim se broekspyp af. Hy kyk weer na haar en sonder ‘n verdere woord gaan neem hy stelling in by die patiodeur, glas in die hand. Oupa blyk nie ‘n kenner op diè gebied te wees nie.

Sy volg hom, hardnekkig om die onderwerp agter die rug te kry. Gewapen met ‘n notaboekie en ‘n skerp potlood gaan staan sy voor hom. “Seblief Oups, ek moet die taak klaar maak, vandag nog. Môre is buite die kwessie. Oupa onthou dit is Lenie se doop dan is dit neusie verby vir enige skoolwerk.” Doop dag of enige ander familie geleentheid is rede tot ‘n partytjie wat heeldag kan aanhou ‘n ander sy van Afrikaner kultuur. Die kans dat enige volwassene dan nog reguit sal kan loop is nul op die skaal van moontlikhede. Dit is beter om nou ‘n pleidooi vir haar saak te maak. Sover sy kan vasstel is oupa darem nog nugter.

Hans self kyk haar aan asof sy van lotjie getik is.

“Kan jy nie wag dat jou ma by die huis kom nie? Sy is goed met die soort van dinge.” Sy is seker sy kan amper ‘n benoude klank in haar oupa se stem gewaar maar sy moet deurdruk. “Oups is die enigste een met wie ek kan praat. Frikkie is beslis nie die regte persoon nie en Hansie… nee, dit sal net verkeerd wees om met hom te praat.” Skud sy haar kop heftig. Sy weet Hansie sal haar heel moontlik alles, in detail, kan vertel maar daar is geen manier wat sy hom sal vra nie. Hy het nie verniet ‘n reputasie tussen die meisies nie. Sy stoomroller voort, self maar ongemaklik oor die onderwerp. Sy haal skaars asem so tussen die lang relaas. Vandag moet haar oupa net instem.

“Hmm…” is al wat hy uiter terwyl hy die sigaret so trek dat die punt rooi word. Hy het laas so benoud gevoel tydens… en hy dink hard aan ‘n geleentheid maar niks val hom by nie.  ‘Hoe kan die kind hom nou sulke dinge vra?’ mompel hy so met sigaret en rook in sy mond. Waar is Irma tog?

Anna staar hom grootoog aan maar die rooi gloed was die enigste bewys van lewe by oupa.

“Ek is seker ons kan later hieroor praat. Gaan maak eers ‘n paar toebroodjies. Ek hoor hoeka jou broer en neef is op soek na iets te ete.” Dwaal hy weg van die onderwerp en haar moed sak sommer in haar skoene.

“Ek sal later. Asseblief, Oupa.” pleit sy nou en gee haar beste pleitende kyk en gee hom ‘n drukkie. Maar dit help nie soos wat oupa haar wegstoot en beslissend sê, “Nee, eers toebroodjies maak. Toe gaan nou.” Oupa vat nog ‘n sluk van die drankie en trek dan weer aan sy sigaret. ‘n Besliste trek skuif oor sy mondhoeke en sy weet daar is nou geen salf te smeer nie. Hy kan erger as ‘n steeks donkie wees wanneer hy wil, dink sy traag.  Met trae tree stap sy kombuis toe nie lus vir die taak nie. Die tweede helfte is al aan die gang toe sy terug kom met ‘n bord vol toebroodjies.

“Jy kan ook jou tyd vat.” Mor Frikkie en duik vir die bord.

“Jy kon gehelp het.” Val oupa hom in die rede.

“Gaan blaas doppies, man!” snou sy hom toe en sit die bord moedswillig vêr van hom af.

“Waar is jou maniere, Frikkie? Hou vir Oupa die bord.” Vermaan oupa hom toe hy homself eerste wou help.

“Ja Frikman, waar is jou maniere?” beaam Hansie met ‘n skewe grinnik en skuifel vorentoe op sy stoel, afwagtend op die aptytwekkende vrag op die bord.

“Lekker.” sê sy vermakerig, amper onhoorbaar. Frikkie kyk haar aan met dolk gevulde oë en sy steek vir hom tong uit terwyl sy weer op dieselfde stoel plaas neem. “Jy soek skoor vandag.” Maan hy.

“Bite me.” Snou sy hom toe en skop haar eie plakkies uit. Die steentjies lyk tog so mooi in die middagson dink sy, en sny haar broer effektief af.

“Eendag is eendag.” Mor hy ook en sy trek haar skouertjies op. Min gepla oor sy waarskuwing.

“Okay Frik, gee aan die broodjies.” Stop Oupa hom en vies hou hy vir oupa die bord met sy oë wat nou vasgenael is op die TV. Diè help homself met twee handevol broodjies. As ma nou hier was sou sy iets daaroor te sê gehad het. Om nie eers te praat van die krummels wat nou soos wit konfettie om die bord lê nie.

“Aggenee man!” roep Oupa uit. “Kyk wat vang hulle nou weer aan.” Beduie hy na die skerm.

Radeloos staan Anna op, trek weer haar plakkies aan, Ek sal eerder buite gaan sit. Dit is 40-minute van loutere hel wat voorlê waarvoor sy nie kans sien nie. Gewapend met die Android en oorfone los sy die mans alleen.

⸸⸸⸸

40 minute later begroet rookwolke haar toe sy instap by die deur en sy waai dit vies weg. Sy kyk op in oupa se vraende blik: “Ek wag Oupa,” snip sy astrant. Teen die tyd erg verveeld met die hele spul. Vanuit haar hoekie op die patio kon sy die vertrek en sy insittendes dop hou. Die heel tyd het sy aan ‘n plan gedink, en as sy nie ‘n antwoord gaan kry nie gaan sy haar plan uitvoer. Die hemele hoor haar.

“Waarvoor wag jy?”

“Vir die game om klaar te kry.”

“Die game is klaar.” Verduidelik Oupa, “Daardie dinges het weer lekker droog gemaak.”

Vraend kyk Annatjie hom aan: “Jy weet, dinges man.”

“Nee Oupa, ek weet nie. Van wie praat Oupa?”

“Ag kind, moet jou nie dom hou nie. Almal weet wie is dinges,” en met dié druk hy die stompie dood in die bak, wat ma spesiaal vir die rokers by die deur geplaas het, en nadat hy sy kaalvoete aan die matjie afgevee het stap hy die huis in. Sy spring op, haastig om by hom aan te sluit voor hy weer ‘besig’ raak. Sy plons langs hom neer op die rusbank en kyk hom aan met vraende oë. Miskien sal hy my sien en onthou wat die vraag was, dink sy wrang. Maar sy was verkeerd, volgens oupa kon sy net sowel nie daar gewees het nie soos wat hy konsentreer op die volgende bespreking op die program. Seker weer ‘n bespreking van die spel in die tweede helfte en sy rol haar oë. Sy is seker hy is moedswillig.

“Oupa?” maar daar is geen antwoord nie daarom maak sy haar keel skoon en verhef haar stem net ‘n oktaaf harder: “Oupa?”

“Ek hoop nie jy skree op oupa nie?” sê-vra Hansie groot meneer waar hy neer plons op ‘n stoel. Sy tekkies val met ‘n slag op die vloer neer en sy kon die groen bevlekte sole sien. Ma sal die oorval kry. Die bal word tussen sy hande gegooi en veroorsaak ‘n dowwe klank en sy kners op haar tande.

“Ek probeer oupa se aandag kry maar hy ignoreer my.”

“Oupa, antwoord tog vir Anna,” val Frik ook in. Net so gehawend as vroeër, nou net met ‘n natgeswete gesig en deurmekaar toue langs die kop. Die lang baard wys tekens van sy bier wat seker gestort het. Toe hy sien sy kyk vir hom vee hy die baard glad en die druppels verdwyn so in die vee.

“Het jy gepraat, Frikman?” vra oupa.

“Nee oupa, Anna het gepraat.”

“Wat is dit Annatjie?”

“Die taak, Oupa.”

“Wat van dit?”

“Ek het hulp nodig met dit, Oupa.” Vir lank kyk hy haar aan asof sy nie al haar varkies op hok het nie en dan gaan ‘n lig op. Hy skuif ongemaklik rond en kyk oral behalwe vir haar. Vat ‘n lang sluk van sy vars drankie, sigaret pakkie alreeds in die hand. Sy hou oupa fyn dop, geniet sy ongemaklikheid maar vandag is die dag wat hy gaan praat. Sy weet sommer haar plan gaan hom in sy spore stop. Sy moet net wag vir die regte geleentheid.

“Watse taak?” vra Frikkie nuuskierig.

“Ek moet hierdie taak inhandig Maandag en ek het oupa se hulp nodig.”

“Op my dag moes ek my eie take doen,” brom oupa.

“Ek ook,” sê Frik en Hansie gelyktydig wat oupa sinies laat lag. Sy was klein maar sy kan onthou hoe ma en oupa altyd moes baklei dat sy huiswerk gedoen moet word. Veral naweke. Dan was dit ‘n geskreeu en deure wat klap maar Frik het net nooit sy huiswerk, wat nog take, gedoen nie.

“Op Oupa se dag was daar nie take nie.” Skerts sy. Oupa vertel gereeld stories van sy jong dae. Sy het nog nêrens iets gehoor van take nie.

“Ons het ja. Ons moes eenmaal ‘n taak inhandig oor verskillende koeie. Nou dit was ‘n taak en ‘n half. Ek het omtrent gesukkel om die ding vervoer te kry op my fiets. As ek reg kan onthou het ek 75% gekry vir daardie taak. Ek moes elke koei ras verduidelik met prentjies wat ouma nog moes teken. Gelukkig het my pa – jou grootjie, my gehelp met die inligting.”

“Ek dog grootjie het oupa nie gehelp nie,” stop sy die relaas.

“Moet jou nou nie verdomp dom hou nie Antjie. Natuurlik moes hy vir my vertel hoe hulle lyk. Ons het nie slim boeke gehad om na te slaan nie. Jou groot oupa het met Jerseys geboer. Hy het ‘n goeie geheue gehad ook.”

“Ja, Oupa,” antwoord sy en sug, raad op.

“Oupa?”

“Wag tot jou ma hier is,” antwoord oupa en gaan staan by die deur, sy blik vasgenael op die kassie. G’n wonder haar ma raak so vies vir oupa nie. Hy het ‘n gewoonte om doof te speel wanneer belangrike dinge bespreek moet word. Oupa is lief om dom te speel ook. Maar nie vandag nie.

“Ek kan nie wag nie. Ma gaan weer laat hier aankom en ek dink sy sal nie in staat wees om my te help nie.” Ma kan maar net so lekker die voggies wegslaan as haar familie nie naby is nie. Sy weet. Word dikwels tot stilswye gesweer.

Doodse stilte hang in die lug, al wat sy hoor is die doef-doef van die bal. “Stop dit!” gil sy toe die bal amper die boekrak tref.

“Ek pla jou nie,” kap Hansie terug en gooi die bal opsetlik harder.

“Moet jy nie huis toe gaan nie?” sê-vra sy. “Ek is seker een van jou meisies wag vir jou.”

“Watter meisies?” hak oupa af. So nou kan hy aandag gee, dink sy vies.

“Sy is kens, Oupa. Daar is geen meisies nie.”

“Dit is nie wat jy nou net gesê het nie,” val Frik ook in.

“Bly stil man,” knor Hansie maar Frik skerts verder. Anna stap weg. Die vader weet, vandag is weer een van daardie dae. Sy self is nou so dors maar niemand dink mos aan die kind in die huis nie.

Oupa kla by die mense op die kassie, glad nie gelukkig met die afgelope spel nie. “Laat ek vir julle kom afrig, Bokke. Julle sal ‘n ander deuntjie sing. Ek is nie soos julle tooty-fruity bok afrigter wat niks weet nie. Die dinges.” Hoor sy met die intrap slag. Dinges word kort-kort geskel maar diè is duidelik nie daar om homself te verdedig nie.

Sy kyk na die drie in die vertrek en kry so ‘n lekkerkry laggie.

“Ek dink ek is swanger!” seker bietjie harder as wat sy moes maar pure frustrasie laat ‘n mens mos maar verkeerde dinge doen, wel, so vertel haar ma haar. Die mans ruk hul koppe gelyktydig na haar toe en staar haar gapend aan. Frikkie kom eerste tot verhaal, “Het ek reg gehoor, is jy swanger?” gevolg deur ‘n paar minute se stilte waar hulle haar bestudeer en sy trek haar rokkie reg, net vir ingeval. “Jy is hopeloos te jonk daarvoor.” Gee hy sy mening.

Radeloos lig sy haar hande in die lig en stort van die koeldrank oor haar. Binnensmonds swets sy, versigtig vir oupa wat haar nog steeds aangaap, stomgeslaan. Vies vee sy die nattigheid met ‘n doekie af. Sy was nou sommer stupid, sy gaan die storie lank hierna nog hoor. Sy stap weg tong-klikkend en verdwyn dan kamer toe.

“Annatjie, kom hier!” roep oupa, so hard dat sy hom in haar kamer kan hoor. Sy stem laat haar duidelik verstaan hy gaan nie haar nonsens duld nie daarom betree sy die vertrek huiwerig. Sy het darem genoeg tyd gekry om eers ‘n ander rokkie aan te trek. Die ander een was nat en taai van die koeldrank.

Tot haar verbasing wag oupa haar in met ‘n glasie koeldrank, duidelik verleë. Nie seker hoe om die hele gedoente te hanteer nie, dit weet sy.  “Anna,” begin hy en bly dan stil. En hou haar koeldrank na haar toe uit wat sy skamerig vat. Nou is dit haar beurt om hom met ‘n onskuldige blik aan te kyk. Hy maak sy keel skoon, ongemaklik met die draai van die situasie, “Anna, is jy seker?”

“Ek is oor niks seker nie, maar ek weet vir seker ek gaan nul vir my taak kry,” sê sy astrant en gaan sit op die bank.

“Jy is darem baie parmantig vir iemand wat oor die draad getrap het,” val Frikkie in, ewe groot meneer. Oups gee hom ‘n kyk wat nie eers seep sal skoon kry nie en Frik spits sy volle aandag op sy foon toe.

“Annatjie, my kind,” begin oupa en gaan sit dan op die naaste stoel. “Ons sal ‘n plan maak. Weet jy wie is die pa?”

“Oupa!” gil sy verontwaardig en bloedrooi. “Ek is dertien en naïef maar nie stupid nie!”

“Hoe nou?” vra hy verdwaas.

“Ek is nie rerig swanger nie, oups.” Radeloos met die hele gedoente.

“Maar jy het gesê…”

“Dit was net om aandag te kry, maar ek moet weet waar babas vandaan kom, Oupa. Kan ons nou hierdie taak doen, asb?”

“Wel, jy sien.” Begin hy en bloos dan bloedrooi.

“Hoeveel wil jy weet?” vra hy skugter.

“Alles.”

“Alles?”

“Sy sê mos alles, Oupa,” gooi Hansie ook ‘n stuiwer in die beurs en lag bulderend wat hom ‘n klap teen die kop besorg. Toe oupa na haar kyk lyk hy kompleet soos ‘n vasgekeerde buffel in ‘n kamp vol likkewane.

“Kan jy rerig nie vir jou ma wag nie?”

“Nee Oupa.” Op daardie oomblik kry sy haar oupa jammer. Die uitdrukking op sy gesig is hartseer gemeng met verdwaald. Gewoonlik het oupa baie om te sê maar op diè onderwerp was hy stom.  Hoe hy vir Frikkie die feite vertel het weet sy nie. Maar Frikkie is so slim hy het seker klaar geweet.

Oupa vryf deur sy ylwordende hare, heeltemal uitgeboul. Stilweg verdwyn hy die gang af. Keer gaan nou nie help nie. Altwee die ander moegoes kyk haar vermakerig aan en sy steek weer haar tong uit in pure vermakerigheid. Sy was seker die WhatsApp familie groep gons teen die tyd.

Die meeste van haar maats sukkel ook om met hul ouers te praat. Saartjie het nou net laat weet op WhatsApp dat sy opgegee het om te vra, haar ouers slaan soos tronkdeure toe. Sy, wat Anna Kriel is, het hierdie punte nodig anders pluk sy Lewens Orienteëring dan kan sy maar net sowel swanger wees.

“Ek wonder wie is die pa?” praat Frikkie in die lug in.

“Dit sal nou ‘n ding wees,” snip Hansie ook. “Sy hou haar mos preuts, en kyk nou.” As haar oë dolke was, was hulle albei nou gekastreer dink sy woedend en val in die bank in – dikbek.

“Moet julle nie simpel hou nie.” Waarsku oupa weereens. “Sy het mos gesê sy is nie swanger nie. Buitendien is sy hopeloos te jonk vir swangerskap.”

“Oupa sal verbaas wees wat vandag se kinders doen.” Gooi Hansie ‘n stuiwer in die beurs. “Vroeg ryp, vroeg vrot sê my ma.”

“Jou ma sal weet.” Antwoord oupa met ‘n sigbare geïrriteerdheid.

“Wat bedoel Oupa?”

“Ag jirre tog kind, moenie so dom wees nie.” sê oupa nou hoogs bedonnerd. “Miskien moet jy bietjie met jou ma gesels oor die bytjies en blommetjies sodat jy kan weet wat aangaan in jou lewe.” en hy beklem die jou beterweterig.

Verstom kyk Hansie oupa aan terwyl die ratte duidelik hard draai maar daar gebeur niks en Frikkie proes van die lag. “O ja, jou ma sal beslis weet.” ‘n Bal trek deur die lug en tref Frikkie skrams teen die skouer. “Shut up neef, jy praat van my ma.” Knor hy.

“Ek is bewus daarvan. Maar jy weet van niks, lyk dit my.”

“Wat?”

“Jou ma het oor die tou getrap nes Betsie.”

“Hoe weet jy?” vra Hansie onskuldig.

“Want ek kyk na haar glips.” Bloedrooi draai Hansie om toe hy snap wat Frik bedoel.

“Jy weet ook nie wanneer om op te hou nie, nê Frikman?” sê-vra oupa, en kyk hom skerp aan.

“Iewers sal hy seker twee en twee by mekaar sit.” Gaan Frik voort, onverstoord met sy neef se ongemaklikheid of oupa wat besig is om kalkoene te skiet.

“Ja, maar dit was nie jou plig om dit so kras te vertel nie.”

“Ag Oupa, vroeër of later sal hy weet, siende nou dat Anna ook swanger is.”

“Maar magtag man, skei uit. Sy is nie in die ander tyd nie.”

Maar Frikkie ignoreer oupa en gaan voort met sy eie relaas. “Ek dink dit moet daardie nuwe outjie wees.” Oupa kyk hom skeef aan. “Oupa weet, daardie nuwe ou wat so ‘n indruk gemaak het in Saterdag se wedstryd.”

Hans onthou die mannetjie. Sy spel was puik gewees. Hy het twee drieë vir die eerstespan besorg. Hy het gesien hoe die meisies om hom geswerm het na die spel. ‘n Regte kapokhaantjie. Oor sy dooie liggaam sal die mannetjie aan Antjie raak.

“Jy is laf,” beantwoord oupa vieserig. “Jy het gehoor sy is nie swanger nie.”

“Sy is dertien, wat sal sy nou weet.” Hou Frikkie aan.

“Meer as jy, sou ek sê” mor Oupa weer. Oupa se sigaret is verruil vir sy pyp, diè word kort-kort gestop en gestamp vir die beste resultate. Diep ingedagte. Die bal in Hansie se hande vergete.

“Wanneer is jou aflaai tyd?” die keer is dit Frikkie wat geklap word dat hy verstik aan sy chip.

“Ouch!” gil hy

“Sie jy ophou” sê oupa beslis en kyk hom kwaai aan. Hansie wou ook iets sê maar bly liefs stil. Die bal weer in beweging.

“Ek. Is. Nie. Swanger. Nie.” Herhaal Anna en deurboor haar broer terselfdertyd met dolkende kyke. Terwyl sy elke woord beslissend beklemtoon.

“Wag tot ma hiervan hoor.” Snou Frikkie ewe kordaat.

“Die kind het mos nou gesê sy is nie swanger nie, waarom karring jy so?” hou oupa aan. Hy kyk na die muurhorlosie, “Magtig, dit is tyd om die braaivuur aan die gang te kry.”

“Hansie.” En sonder enige verdere aansporing spring Hansie weg. Te bly om uit te kom. “Ja Oupa.”

Oupa kan ook goed befoeterd raak maar niks en niemand staan tussen hom en sy kos nie. Stilte daal oor die groepie neer elkeen vermy die ander se oë.

“Oupa?” vra Anna met ‘n benoude stemmetjie. Sy is al klaar jammer oor al die moeilikheid en besef sy het die ding verkeerd benader maar die taak is nog nie gedoen nie en sover het sy geen inligting nie. Oupa is haar enigste uitweg.

“Hiervoor wil ek insit, dit behoort interessant te wees” haak Frikkie af en skuif hom reg op sy stoel. Sy hele gelaat vertel hy gaan die episode geniet.

“Gaan help Hansie” maak oupa sy stem dik en Frikkie wil nog teëpraat maar hy word summier dood gekyk en hy verdwyn by die patiodeur uit. Die TV, wat tot nou op sy eie geblêr het word ook sagter gestel. Stilte hang tasbaar tussen haar en oupa. Geduldig wag sy dat hy sy glas neer sit voor sy vraend na hom kyk. Potlood en notaboekie in gereedheid.

Oupa maak sy keel skoon en skuif rond op sy stoel, kompleet of hy rooimiere het. Anna wag geduldig. Sy besef dit is ‘n gewigtige oomblik en oupa is nou in die diepwater gegooi. Sy moet net geduldig wees.

“Jy sien, die saak staan so…” begin hy en vermy haar oë, diè is vasgenael op die TV. “Babas kom vanuit die hemel en…”

“Oupa.” stop sy hom laggend… “Dit is nie waar nie.”

“Dit is… jy is mos my engeltjie.” Spot hy.

“Issie Oupa, kom nou,” protesteer sy glimlaggend en gee hom ‘n drukkie.

“Is ja.” En hy lag ongemaklik.

“Kom nou Oupa, alle grappies op ‘n stokkie, vertel my nou,” por sy.

“Daar breek die stokkie.” Hou oupa aan en sy weet hy probeer nou net tyd koop, hulle albei lag uit hul mae uit en die oomblik wat daar weer stilte neerval kyk oupa weg en vat nog ‘n sluk van sy drankie.

“Jy weet dat mans en vrouens verskillend is.” Begin hy uiteindelik en Oupa proes skielik. “Dit laat my mos dink aan die keer wat ek ook agter gekom het dat die geslagte verskillend is.” Lag hy, so ‘n regte stoute laggie diep uit die maag uit. Anna rol haar oë en skud haar kop. Diè storie het sy nou al so baie gehoor dat dit nie meer snaaks is nie. En elke keer raas haar ma met oupa maar oupa steur hom min aan ma. “Ek glo nie ek het die een al vir julle vertel nie,” gaan hy voort, trane word nou afgevee, van lekker kry.

“Ek glo Oupa het,” snip Anna met ‘n glimlag. Oupa kan darem lekker lag.

“Wat wou, jy was tot nou toe nog te klein. Geen manier dat ek dit vir jou sou vertel het nie.”

“Nou vertel dan Oups.” Gee sy in.

“Wel jy sien, ek was ‘n jong lat van so 4 of 5 toe ek meer geleer het van die menslike anatomie, as wat ek moes.” En hy kraai van die lag. Anjie kyk oupa met groot oë aan, nie seker wat die woord beteken nie – sover sy weet is dit die eerste keer dat hy dit gebruik. Sy probeer hom in die rede val maar oupa is op dreef met sy storievertelling.

“Hoe bedoel Oupa nou?” vra sy op einde laas.

“Pa het die gewoonte gehad om Sondae middae te dut. Klokslag. Ons kon ons horlosies maar stel… nie dat ons gehad het nie… maar jy verstaan wat ek bedoel.” En Anna knik haar kop. Oupa is ook so. Klokslag. En sy lag saam. “My pa was baie lief vir sy pyp ook, en die ding was nooit te ver van sy soekende hande af nie. So gebeur dit dat pa op die bepaalde Sondagmiddag weer gaan slaap met die pyp in sy broeksak vergete. Die Sondagmiddag stilte het net begin neerdaal toe ons ‘n skreeu hoor. Onaards en vreesaanjaend. Ek was soos blits by pa se bed, nie seker wat om te verwag nie… maar wat ek gesien het, het ek beslis nie verwag nie.” Oupa skater dit nou behoorlik uit, so asof hy dit weer beleef en Antjie lag saam, nie vir die storie nie maar vir oupa.

“Ai my kind, dit was nou ‘n sien wat nie ontsien kan worre nie…,” en hy proes toe Anna hom verstom aankyk, geen benul wat hy nou eintlik probeer sê nie. Almal lag gewoonlik saam hier maar Anna kon die deel nog nooit verstaan nie en bly maar stil. “Jy sien, toe ek in die kamer kom het my pa, jou grootjie, se broek op die vloer gelê. Die pyp het hom gebrand en agterna het ons uitgevind hy het gedroom van ‘n slang. Toe hy die slang probeer klap toe…” oupa bly skielik stil en bloos bloedrooi.

“Wat toe Oupa?” vra sy en oupa vat weer ‘n sluk van sy drankie.

“Die pyp het hom gebrand, natuurlik, daar waar ‘n man nie gebrand wil word nie en toe pluk hy sy broek af.” Anna kraai van die lag, sy kan net dink hoe hy moes gebrand het. Oupa se pyp is gewoonlik vuurwarm en binne sy broek moes dit erg gewees het.

“Waar Oupa?” vra sy so deur die lag deur…maar oupa gaan voort met die storie, “Daar staan oupa toe, poedelkaal. Daardie dag het ek geweet ek en oupa verskil hemelsbreed.”

“Hoe bedoel oupa nou? Oupa is ook ‘n man?”

“Ja maar, tussen oupa en my 5 jarige….” En oupa sluk sy woorde skielik en kug verleë.

“Jy sien, my pa het vergeet om ‘n onderbroek aan te trek, toe storm ons almal daar in en hier staan oupa, broek om die voete terwyl ouma probeer toe hou. Oupa het ons omtrent verskree om ons uit die kamer te kry. Maar die sien was klaar gesien.” Hy lag nou sagter en is dan eensklaps weggevoer in sy eie wêreld. “Ja, dit was goeie tye.” Sluit oupa af en droog sy wange af.

“Hoe het dit nou met verskillend uit te maak?” wil Anna weet, nie seker hoe dit nou by haar dinge inpas nie.

“Moenie jou stupid hou nie, sus,” snip Frikkie die oomblik toe hy verby stap met ‘n bak in die hand.

“Gaan help Hansie!” bulder oupa nou. Sommer vies dat hy in die rede geval is. Anna bly doodstil. Haar oë vasgenael op die notaboekie en skriffel dan ‘n gedagte neer.

Die oomblik wat hulle alleen is gaan oupa voort, “Mans en vrouens is verskillend in baie opsigte. ‘n Vrou se liggaam is anders saamgestel as ‘n man sin daarom dat sy so spesiaal is.” En hy glimlag verleë. Vir ‘n oomblik kon sy sweer oupa se oë wasem op so sy bly eerbiedig stil. Wetende dat sy gedagtes nou vêr paaie loop. Ouma Hettie is ‘n dag na pa dood. Dit was ‘n swaar slag vir oupa. Na ‘n ruk se stilte por sy oupa weer aan.

“Oupa?” sê-vra Anna saggies. Hy maak keel skoon en sit dan penorent en staar ‘n wyle in die niet in en gaan voort met sy praatjie. Anna duidelik slag gereed om alles neer te pen.

“Vrouens se liggame is so ontwikkel dat net hulle babas kan kry. Hulle liggame produseer eiertjies wat deur mans bevrug word. Wanneer die bevrugting plaasvind ontwikkel ‘n baba in die vrou se baarmoeder. Die baba groei vir 9 maande in haar maag en dan gee sy geboorte aan ‘n pragtige babatjie.” Dit was asof hy dit aframmel en dan asem haal aan die einde.

“Maar Oupa ek verstaan nou nie. Hoe kom die baba binne ‘n vrou se lyf?”

Oupa word bloedrooi en skuifel ongemaklik rond op die bank. Sy glas is leeg en hy mik om op te staan.

“Gee en ek sal gaan vol maak,” bied Anna aan die oomblik toe die foon lui. Sy weet as oupa nou die vertrek moet verlaat kom hy nie weer terug nie.

“Dankie, my kind.” En oupa stel die klank op mute terwyl sy reguit kombuis toe stap. Onbewus van wie op die foon is.

“Ja Irmatjie.” Antwoord oupa sy skoondogter, duidelik bietjie aangeklam aan die ander kant. Die sein is swak en oupa staan op en stap na die deur waar die opvangs nog beter is en probeer weer.

“Is pa daar?” kom haar stem deur die foon.

“Ja my kind,” praat hy nou bietjie harder.

“Hoe gaan dit daar? Die kinders maak pa seker mal.”

“Nee wat ons oorleef so sonder jou.”

“Hoe was die game?”

“Engelse het ook net-net gewen. Die Franse het ons die game gekos.”

“Hoe so pa? Ek dog dit was die Bokke teen die Engelse?”

“Ja dit was, maar die Franse het geblaas. Gee mos als vir die Engelse.”

“So, jammer Pa. Waar is Annatjie?”

“Sy is hier rond.”

“Ek hoop die seuns gedra hulle voor haar. Sy is tog so sensitief oor die geringste dingetjie.”

“Nee wat, sy kan haarself goed handhaaf tussen hulle. Sy word nou groot.” Hans kan nie help om te dink aan die onvoltooide gesprek wat hy met haar gehad het nie en sy stem raak sommer stil van die dink.

“Ja Pa, als reg, Pa?” haar tong trip so bietjie en sy raak ook ‘n oomblik weg. Musiek blêr in die agtergrond en Hans kan mense hoor lag en gesels. Die party hou ook verdomp lank aan. Sy rinkink terwyl hy vir Annatjie die feite van die lewe moet vertel. Oupa skud sy kop. Vandag se kinders darem. “Als reg hier.” Antwoord hy, amper kortaf.

“Pa seker?” met die stap Frikkie in en stamp teen oupa. Die selfoon val en Frikman vang die foon net betyds, voor dit die teëls tref. Toe hy sien wie die persoon is lag hy skalks en praat sommer kliphard, “Ma sal nooit raai wat hier aan gaan nie?” smaal hy en oupa kyk hom waarskuwend aan. Hy gryp na die foon maar Frikkie klou verbete aan die Android. “Wat gaan aan?” vra sy so deur die lawaai deur.

“Anna is in die ‘ander tyd’, ma.”

“Wat bedoel jy ‘ander tyd’?”

“Frikman, ek waarsku jou,” grom oupa maar Frik staan nou met sy rug na oupa toe. Omdat hy so bietjie langer en ratser is sukkel oupa om die foon te kry en hy ys wat sy skoondogter gaan sê.

Al dansende om sy Oupa kry hy sy woorde uit, “Sy is swanger ma,” giggel hy, toe hy die foon weg van sy oor hou vir die gil ruk oupa die ding uit sy hande uit. Albei kan hoor hoe Irma na haar asem snak en dan gil, “Nee, fok, nee!” Hans kan net dink wat sy nou doen, hande in die hare en al gillend terwyl die vrouens om haar kloek.

Frikman lag hom simpel en oupa druk die foon teen sy oor en praat paaiend met haar, haar asem hortende oor die foon se golwe. “Frik maak ‘n grap, Irma. Ons Annatjie is ongeskonde en nie in die ‘ander tyd’ nie.” Frikman staan armlengte van oupa af, oupa vasgeanker met die foon se verlore sein. Frik kry sommer lekker oor die meevallertjie. Sy ma dink mos die meisiekind is net te wonderlik. Om haar ballon te bars is net die regte teenmiddel vir sy eie gemoed.

“Ek kom nou Pa, ek kan nie glo…” maar hy val haar in die rede.

“Irma, Frik is net onnutsig. Bedaar nou my kind. Annatjie is net Annatjie.” tree hy nou vir sy enigste kleindogter in die bresse. Hy sal moet keer voor sy hier aankom want dan is hulle hele naweek daarmee heen.

“Maar Pa, Frik sê…”

“Vergeet wat Frik gesê het,” en Hans belowe homself om die mannetjie ‘n goeie oorveeg te gee die oomblik wat hy klaar is.

“Bly jy nou net daar waar jy is, geniet jou aandjie, Irmatjie. Ek het als onder beheer hier,” sit hy nadruk op sy laaste woorde.

“Ai Pa, is Pa seker?”

“Ja my kind, geniet jou aand.” En hy trek oor die foon se skerm voor sy nog iets verder kon dink om te praat.

“Jy weet as ek my sonde nie ontsien nie…” begin hy en lyk soos ‘n blasende padda.

“Hoe kan jy vir jou ma so lieg?

“Ek het nie gelieg nie,” antwoord Frik, nie meer so braaf as oomblikke gelede nie. Hy ken darem ook sy oupa goed genoeg. Jy moet hom nie te vêr dryf nie dan verloor die ou ballie dit heeltemal. En miskien het hy te vêr gegaan as hy so na hom kyk.

“Jy het gelieg vir jou ma, dit nadat ons jou hoeveel keer gesê het Anna is nie swanger nie. Jy wil nou eenmaal jou sussie in ‘n slegte lig stel,” grom hy nou en gaan staan voor sy oudste kleinseun. Soms kan hy nie glo hoe dom die mannetjie kan wees nie.

“Oupa dit was net ‘n grappie,” begin hy met sy verweer.

“Ag stil man, jou idiotiese gedrag staan my nie aan nie.”

“Die kind is nie swanger nie, en as jy dit weer vir iemand vertel is daar moeilikheid, mannetjie.” Druk oupa amper sy vinger in sy gesig in en Frik sluk verbete. Hy besef hy het te vêr gegaan maar hy het soveel pret gehad dat hy homself nie kon keer nie.

⸸⸸⸸

Anna sug beswaard toe oupa nie op sy plek sit nie die oomblik toe sy terug kom. Hoe gaan sy ooit hierdie taak klaar kry as sy nie alles verstaan nie? Die ding tel ‘n hele 50 punte en is 20% van haar eindpunt. Nee man, dit kan mos nie so moeilik wees om dit vir haar te verduidelik nie.

“Oupa!” roep sy.

“Ek kom,” antwoord oupa en dan hoor sy die spoel trek.

Terwyl Anna wag skribbel sy dit neer wat oupa alreeds vertel het. Soos die vrae opkom skryf sy dit ook neer. Dan, potlood in die mond kom Frikkie weer in. “En toe, het oupa jou geantwoord?” sy skud net haar kop en hy grinnik en slaan ‘n sluk van sy bier weg. “Oupa sal jou nooit vertel nie, jy sal maar soos ek, dit self moet leer.” Snip hy en sy trek hom ‘n vieserige gesig. “Ek sê jou wat, ek sal jou ‘n DVD leen van my, daarin sal jy presies weet hoe dit gebeur.” Antwoord hy vernaamlik maar die duiwels is duidelik sigbaar op sy gesig en Anna weet sommer hier kom moeilikheid.

Oupa stap die TV-kamer in, ‘n boek onder sy arm vasgeklem. ‘n Mandjie met haar geliefde skyfies in die een hand en ‘n bier in die ander. “Wat hoor ek van ‘n DVD?” vra hy terwyl hy plaas neem en vir Anna die skyfies aangee. Anna neem dit en plaas dit tussen hulle twee neer. Onmiddelik verdwyn ‘n paar skyfies in haar mond.

Hierdie keer is dit Frikkie wat van kleur verander en hy skuif ongemaklik rond. “Ek hoop nie jy wil vir jou suster van jou pornografie gee nie?” sê-vra oupa.

“Nooit nie Oupa.” koer hy maar Anna weet sommer dadelik oupa het die spyker op die kop geslaan. “Jy weet goed daardie goed is nie opvoedkundig nie.”

“Ja Oupa, is so Oupa. Maar ek het darem baie by hulle geleer ook, Oupa. Pa wou my ook nooit vertel hoe dit gebeur nie.” Kerm hy, “ek moes maar self uitvind.”

“Sal jy nou jou pa se gedagtenis nou so kort vat, nee man. Skaam jou om te praat as hy homself nie kan verdedig nie. Jy was die een wat voor op die wa was en dit self probeer het. Die rede dat Bettie aandring dat jy die pa is van daardie vyfjarige seun, Frik. Almal op die dorp weet dit is joune behalwe jy.”

“Issie Oupa.”

“Gaan jy nou wragtag met my stry hieroor?” vra oupa, omgekrap.

“Nee Oupa, maar hy is nie my kind nie. Ek het dit vir Bettie gesê ook,” dring hy aan.

“Ag man, los dit, ek is nie nou lus vir jou beterweterigheid nie. Gaan sny die gras.”

“Dit is nog te warm oupa, ek sal later. Ek wil die aksie fliek kyk wat nou wys.”

“Maak jou uit die voete, Boet.” Waarsku oupa hom.

“Ja oupa.” en Frikkie gooi die kontrole op die bank neer en verlaat die vertrek, dikbek.

“Wat het ek gehoor van ‘n pornografiese DVD?” vra Hansie terug van die toilet af.

“Dit is niks nie.” Antwoord oupa nogsteeds ietwat befoeterd.

“Ek hoop nie Frikkie wou Anna porno wys nie?”

“Nee, sal jy nou stilbly. Hoe vêr is die vuur?”

“Nie vêr nie oupa.” Skerts hy, “In die braaier, die laaste keer wat ek gekyk het.”

“As ek my sonde nie ontsien nie klap ek jou sommer vir jou parmantigheid.” Maar lag tog goedig toe Hansie koes-koes weg hardloop.

“Frikkie sê die vuur is reg, ons kan maar braai.” Lig Hansie oupa in nog voor hy ‘n woord kon sê.

“Nou braai julle twee, ek is nou besig.” Antwoord oupa beslissend.

Weer verlaat Hansie die vertrek en ‘n stilte daal neer tussen Anna en haar oupa. Vir ‘n oomblik is daar ‘n gemaklike stilte tussen hulle, elkeen besig met sy eie gedagtes. Nie in haar wildste drome sou Anna ooit kon dink dat sy hier sou sit en gemeensaam verkeer met haar oupa nie. Dat die onderwerp seks sou wees, beslis nie. Sy moet eerlik wees, sy en haar maats het al dikwels daaroor gesels maar, in vergelyking met haar maats is sy ‘n kloosterkoek. Nie dat sy weet wat dit is nie. Sy het eenmaal gevra maar haar ma was smoorkwaad daaroor toe los sy dit. Haar ma hits haar altyd aan om liewer by sport en skool betrokke te wees as seuns. En sy moet hulle gelyk gee, daar is nie rerig ‘n seun wat haar aandag trek nie. Dit is as jy nou die nuwe rugbyspeler weg laat uit die gesprek uit. Die het net oë vir Hanlie. Die skool se tert en liefling van haar pa, die skoolhoof. In sy oë is sy die beste ding wat die skool nog opgelewer het. Maar hulle weet beter.

Hans se gedagtes stoomroller voort. Hy het nooit kon dink dat hy die een sou wees om met sy kleindogter moes praat oor die feite van die lewe nie. Nietemin voel hy goed dat sy hom genader het vir die belangrike gesprek. Hy voel kompleet soos die uitverkorene. Sy draai al klaar koppe en hy merk dit telkens op daar langs die sportsveld waar sy uitblink in atletiek. Hy is trots op die jong meisie en weet Hannes sou ook trots gewees het op die meisiekind van hulle.

“Jy mis darem baie van ons Antjie, my kind.” sug hy.

“Praat Oupa?” hy skud sy kop en maak sy keel skoon.

Hans vat nog ‘n sluk van sy koue bier en draai dan skuins. “Hierdie boek sal dalk al die tegniese woorde beter kan beskryf as wat jou oupa kan doen, Antjie,” begin hy en druk dan die boek in haar hande in. Diè het die heeltyd onderstebo op sy skoot gelê so asof Anna nie mag sien waaroor dit gaan nie. Maar sy weet, het dit selfs ‘n paar maal deur geblaai as niemand by is nie. Die dinge wat daar binne gewys word het haar laat bloos. Maar sy sal die inligting vir haarself hou.

“Jy sien my kind, omdat ons so verskillend is pas ‘n man en vrou eintlik perfek in mekaar in.” Anna kyk nou op haar beurt dom na haar oupa, nie seker waarop hy sinspeel nie maar luister nietemin.

“Wanneer ‘n man met ‘n vrou gemeenskap het dan stel hy saad vry wat die eiertjie in haar bevrug en so word ‘n nuwe mensie gemaak.”

“Wat is gemeenskap?” vra sy onskuldig.

Oupa kug verleë, “Dit is wanneer ’n man en vrou baie styf by mekaar lê.”

“Hoe bedoel Oupa?” vra sy met skokkende verstarde oë. Die prentjie wat in haar kop op kom laat haar bloos en nou vermy sy oupa se priemende kykers. Die blote gedagte laat haar intrek van benoudheid: “Eww. Oupa bedoel ‘n man en vrou is kaal tydens gemeenskap?” verklaar sy grootoog.

Oupa lag nou verleë en vat nog ‘n sluk van sy bier voor hy aangaan, “Eendag, my kind, sal jy die plesier daarvan verstaan. Vir nou is dit genoeg vir jou om te weet dat ‘n man en vrou ingeskakel moet wees om die gewenste resultate te kry. ‘n Meisie kan nie swanger word deur ‘n man wat haar soen of enige ander kontak nie. Daar moet fisies saad in haar gedeponeer word. Dit is ook nie altyd ‘n uitgemaakte saak dat sy swanger sal word van elke saadstorting nie. Daarom is dit elke keer ‘n unieke gebeurtenis wat gebeur tussen ‘n man en vrou. ‘n Swangerskap is ‘n spesiale gebeurtenis vir ‘n man en vrou.” Die kyk in haar oupa se oë is mooier as wat sy dit al ooit gesien het, dit is sag en gevul met liefde en Anna verkyk haar aan haar oupa se gedaanteverwisseling.

Weg is die ongemak. Aandagtig luister sy na sy verduideliking, “Die dag toe ek die nuus kry van jou ma se swangerskap, was die mooiste dag al het dit gestortreën daar buite. Toe jy opgedaag het was ons lewe volmaak.” Hy lag skalks en maak dan sy keel skoon. Aangedaan oor sy eie vertelling.

Anna kyk hom stilweg aan en onthou die storie van haar geboortedag. Pa Hannes het besluit om haar ma te verras met ‘n wegbreek in die Drakensberge voor die nuwe baba sou arriveer. Hulle het aangedring om ouma en oupa saam te vat vir die wis en onwis. Gedurende die nag was daar ‘n onverwagte sneeu storm en hulle was gestrand in die berge. Oupa het nie goed gevoel nie en het by ma gebly toe haar kontraksies begin. Ouma en pa het gery om hulp te gaan kry. Op die pad na die naaste huis toe het hy beheer oor die kar verloor terwyl haar ma geboorte gegee het aan haar. Dit bly die mooiste maar ook hartseerste storie van haar lewe. Sy was nou betrokke en voel selfs skuldig oor die gebeure maar haar ma het haar telkemale verseker dat sy geen skuld het daaraan nie. Dinge het maar so uitgewerk. Soms, wanneer sy daaroor dink, huil sy lang trane oor ‘n pa en ouma wat sy nooit geken het nie. Ouma het die volgende dag beswyk aan haar beserings.

Sy weet daar is nog baie om te vra maar vir nou was dit genoeg. Sy het genoeg inligting om haar taak te voltooi, saam met die boek wat die tegniese aspekte verduidelik.

Anna staan op, leun oor haar oupa en gee hom ‘n stywe drukkie voor sy hom los en verdwyn na haar kamer.

Vir ‘n paar oomblikke is dit stil in die TV kamer en Oupa vat ‘n lang teug van sy, nou louerige, bier. Die gesprek het hom op vêr paaie gelei. Voor sy Anna was daar ‘n buurmeisie. ‘n Pragtige dingetjie. Antjie herinner hom baie aan haar.  Maar anders as Antjie was sy baie voor op die wa en het hom eendag agter haar pa se skaapkraalmuur vasgekeer. Saartjie. Sy het behoorlik die man in hom wakker gemaak en hulle twee het agterna ‘n paar keer so intiem verkeer. Toe verdwyn sy so sonder woord. Wat was haar van nou weer? En Oupa dink lank en diep tot wanneer ‘n liggie opgaan. Hy grynsslag plesierig… Saartjie Vosloo. “Miskien moet ek haar soek en dan weer… mens weet nooit.” En hy smak behaaglik aan die laaste sluk van sy bier.

“Ek sê jou Tania, om kinders te kry is toe nie so maklik nie.” Anna kon nie wag om die inligting met haar beste vriendin te deel nie. Sy het haar sommer dadelik gebel en die hele storie aan haar oorvertel. Tania het geluister met die nodige kommentaar tussenin.

“En om te dink jy moet kaal saam met ‘n man slaap om kinders te kry,” en sy giggel van verleentheid en bloos bloedrooi.

“Ek sê jou Tansie: om babas te kry is maar ewww,” en lag verleë.

Ek is Marieta

Marieta kyk na haarself in die lang spieël. Die nuwe snyerspak pas haar perfek. Die potloodromp omhels haar heupe stylvol. Die wit sybloes wys net genoeg sodat sy saaklik maar tog vroulik voorkom. Die baadjie skep die indruk dat sy in beheer is. Haar gemaklike swart skoene, met gemaklike hakkie, blink gevryf. Haar grimmering is foutloos aangewend en haar kort kapsel is vroegoggend al deur Heloïse gedoen. Dit omraam haar gesig pragtig. Die geheel prentjie lyk versorgd en afgerond. Presies soos wat sy dit wou gehad het.

“Ek is ‘n wenner.” Herhaal sy haar daaglikse mantra.

“Niks staan in my pad nie.”

“Ek besit die vermoë om suksesvol te wees.”

“My toekoms is nou. My drome manifesteer vandag. Ek is die beste bate vir Greeff, Van Ryhn en Hoekstra Prokureurs.” Tevrede streel sy oor haar klere. Die dae van hartseer is verby. Weg is die versukkelde vrou wat altyd in haar man se skadu moes bly. Sy het verander in ‘n pragtige vlinder.

“Binnekort sal jou naam ook op die bord verskyn: Greeff, Van Ryhn, Hoekstra en Mulder Prokureurs.” Sy kan al die naamplaat sien en sy glimlag vir haar eie beeld. Sy besef dit kan ‘n geruime tyd wees voor dit realiseer maar sy kan nou al droom.  Op daardie oomblik dring ‘n sonstraal die kamer binne en dit voel asof sy op ‘n verhoog staan met die hoofligte op haar gefokus. Sy straal.

“Jy is dinamies, Marieta Mulder.” Verspot gee sy ‘n kniebuiging aan haarself en lag vrolik. Sy kyk dan na die horlosie teen die muur en besef dat dit tyd is om te gaan. Sy tel haar swart leer-aktetas op – ‘n geskenk van haar ouers toe sy die toelatingseksamen tot die Balie geslaag het.  Maak seker sy het alles en stap by die voordeur uit. Met ‘n defnitiewe klik sluit die deur agter haar. Vir Marieta is dit die mooiste klank. Die deur simboliseer haar onafhanklikheid asook haar nuwe lewe. Sy het al die negatiewe gebeuretenisse agter gelaat en bewys sy kan dit doen. Sy moes baie brûe oorbrug om tot hier te kom. Die feit dat sy op pad is na die grootste Prokureurs firma in die stad, vir haar laaste onderhoud is ‘n groot oorwinning. Sy het gedroom van hierdie dag vandat sy 18 jaar oud was. Dit het haar 30 jaar gevat, maar sy het dit gemaak. Sy is op die regte plek.

Marieta stap na haar geparkeerde motor onder die afdak in die kompleks, een van die gegoede buurte in Pretoria. Met ‘n vinnige druk van die knoppie ontsluit sy die kattebak en plaas haar aktetas binne en druk die bak toe. Elke stap vat haar nader na haar toekoms en opgewondenheid bruis deur haar. Sy voel lig en vry en sy glimlag vir haar weerkaatsing in die motorvenster.

‘n Vinnige kyk na agter ry sy agteruit. Vir oulaas kyk sy na haar beeld in die truspieëltjie. Die vrou wat terug kyk is professioneel. Elke haar op sy plek. Met ‘n rustige verandering van ratte volg sy die geplaveide pad na die hoofhek toe. Sy word vriendelik gegroet deur die dag sekuriteit en trek haar kaart deur die kontrole paneel. Die hek swaai geruisloos oop en sy ry stadig vorentoe. By die ingang stop sy en wag vir ‘n geleentheid om by die verkeer aan te sluit. Die oomblik wat dit skoon genoeg is sluit sy aan by die oggend verkeer en volg die padgebruikers op ‘n veilige afstand.

Terwyl Marieta ry herhaal sy die motiverende woorde tot by die kantoorgebou in die middestad. Sy was nog nooit so goed voorbereid vir ‘n onderhoud soos op daardie oomblik nie. Alles het net reg gevoel.

By die moderne toonbank, ‘n groot bos blomme het die plek opgekikker, meld sy aan en na ‘n vinnige gesprek met die ontvangsdame volg sy die sekretaresse na die raadsaal waar die vennote vir haar wag.

“Mev. Mulder, welkom terug.” Groet die jongste van die drie vennote haar. Ferm neem hulle hande en groet mekaar soos ou kennisse: “Asseblief noem my Marieta.” Die ander twee mans groet haar ook vriendelik en ‘n paar konvensionele vrae word gevra wat haar dadelik op haar gemak stel. Koppies koffie word onmiddelik voor hulle neergesit en die sekretaresse trek die deur agter haar toe.

Die onderhoud was amptelik aan die gang en elke prokureur het vertel wat hy verwag van die nuwe junior prokureur. Doktor Greeff, die oudste van die drie, het haar ingelig oor die visie van die maatskappy. Marieta het aandagtig geluister en elke vraag flink beantwoord. Daarna word haar vergoedingspakket bespreek. Haar oë rek met die aanbod en sy glimlag tevrede. ‘n Geleentheid word ook aan haar gegee om vrae te vra en om die beurt beantwoord die mans haar. Die uur was sommer vinnig verby. Hoekstra was die eerste prokureur wat homself verskoon het omdat hy aanstons in die hof moes verskyn.

“Wel Marieta, sien jy kans om saam met die klomp te werk?” vra Greeff minder formeel en sy lag gemaklik; bly dat die onderhoud tot ‘n einde gekom het.

“Defnitief Mnr Greeff. Dit sal vir my ‘n groot eer wees om saam met u en die span te werk.” Alhoewel hulle genoem het dat sy hulle op hul name kan noem het sy tog gevoel dat dit heeltemal onvanpas sal wees en het gebly by die formele aanspreekvorm.

“In daardie geval sien ons jou môreoggend.” Marieta se hart spring in haar keel. Het sy reg gehoor. Sy het die werk gekry. Vir ‘n oomblik was sy stomgeslaan maar antwoord vinnig. “Beslis, ja. Dankie Mnr Greeff.”

“Die besluit was eintlik maklik. Jou Professore het met die grootste lof van jou gepraat en ons sou dom wees om jou vir ons opposisie te los. Welkom aan boord.”

“Baie dankie meneer.” Sy groet albei die mans en verlaat die vertrek eerste. Al die pad na haar voertuig toe voel dit asof sy sweef. Sy het dit gedoen. Sy het dit wraggies gedoen.

“Marieta?” roep iemand haar naam en sy draai om: “Ek is Marieta.” Beantwoord sy die persoon. ‘n Skoot knal so naby dat sy nie anders as om te koes nie. Eensklaps brand haar bors soos vuur en sy druk daarteen. Geskok kyk sy na haar hand. Diè is rooi bevlek met haar bloed en voor sy nog tot verhaal kon kom val sy slap op die plaveisel neer.

(C)LynelleClark2017

Die storie verskyn in GedagteKringe, 'n Afrikaanse bundel.

Die Man met die Swart Skoene

Die Man met die Swart Skoene

“Ouma lyk baie mooi vandag.” Met ‘n waarderende oogknip gee Santie haar ouma ‘n liefdevolle drukkie.

“Dankie my kind. Dit is ‘n ou rokkie wat ek lanklaas aan gehad het.” verduidelik haar ouma met ‘n blos. Haar groen oë skitterend en vol lewe.

“Ek is bly Ouma trek weer mooi aan. Dit is hoog tyd dat Ouma weer ‘n bietjie uitkom.”

“Moenie vir jou stuitig hou nie Santie. Ek is ‘n ou vrou. Wie sal nou in my belangstel?” maar die hoë blos gee haar weg en Santie giggel van lekkerte. Met ondeunde oë bestudeer Santie haar ouma van kop tot tone. Vir 65 lyk Ouma Helen baie goed en die sagte blou somersrokkie vlei haar postuur perfek. Sy kan raai hoekom haar ouma skielik aandag aan haarself gee.

Twee weke vantevore was sy en ouma aangenaam verras met die nuwe buurman wat ingetrek het. Die huis was al ‘n geruime tyd leeg. Die eienaars het min omgegee vir die plek en verwaarlosing het ingetree. Leeglêers was gereeld rondom die plek gewaar, wat vir hulle ‘n bekommernis was. Ouma was knaend by die polisie oor die situasie maar hulle het net hul skouers opgetrek. Nou dat hy daar is kon hulle ontspan. Twee dae het verby gegaan voor hulle die man gesien het.

Gekleed in ‘n netjies swartbroek en glad gestrykte wit hemp was hulle baie nuuskierig oor die man. Sy kop het gespog met ‘n dik bos grys hare.  Die enigste keer wat Santie hom sonder ‘n hoed gesien het. Lanklaas het sy ‘n ouer man met so ‘n goeie houding gesien. Dit was iets om te waardeer.

Een middag het Santie haar ouma betrap waar sy by die voorkamer venster gestaan het. Die gordyn was versigtig weg getrek en ‘n droomverlore kyk was duidelik sigbaar op haar gelaat. Oupa is al vyf jaar gelede oorlede en ouma was alleen. Omdat Santie permanent by haar ouma woon het sy geweet hoe vereensaam sy was, so sy het die nuwe verwikkeling verwelkom.

‘n Week terug het sy gekyk hoe die twee kennis maak oor die muur. Beide was besig in die tuin. Die weer het eindelik opgeklaar na die heerlike reëns en ouma het gaan seker maak dat haar blomme nog ongeskonde is. In die stilligheid het Santie besluit om ‘n nadere ogie oor alles te hou en seker te maak dat die man nie ‘n kansvatter is nie. Haar ouma was nie ryk nie maar sy het ’n gemaklike lewe gelei – te danke aan oupa Hendrik se goeie beleggings.

Die nuwe buurman, Mnr González, het die hele buurt aan die gons. Met sy statige stappie, is elke vrou – jonk of oud – beïndruk met die ouerige man.  Santie kan verstaan hoekom al wat ‘n vrou is, lam knieë kry wanneer hy die straat af stap. Die stylvolle kierie die perfekte magneet om die vroulike geslag aan die gons te hou. Oral waar Santie kom praat hulle oor hom.

Elize het selfs gister haar lippe rooi gekleur die oomblik toe sy hom buite haar koffiewinkel gewaar. Normaalweg is Elize baie waardig en op haar plek maar het begin giggel toe hy vir haar gegroet het – kompleet met ‘n geligte hoed. Die galante maniere ‘n teenstelling met die dorpvrouens se ondervindings.

Die mans was neidig en kon hom nie verdra nie wat natuurlik die vrouens vuur gegee het. Daar is ‘n permanente verwagting in die lug vandat hy daar aangekom het.

Sy weet nie veel van die man nie. Maar dat hy almal aan die praat het is gewis. In sy perfekte Engels kom hy afgerond voor. Alhoewel die luisteraar tog ‘n aksent kan waarneem wat bydra tot die misterie.

Sy intelligente gesprekke vertel hy is werêldwys met woorde wat mooi geformuleer is om sy gedagtes duidelik op ‘n waardige manier weer te gee. As apteker op die dorp is Santie privy om al die verskillende weergawes van sy lewensverhaal aan te hoor maar sy weet nie of een waar kan wees nie. Self het sy haar eie opinie maar hou dit vir haarself. Nie dat iemand al gevra het nie, hulle is te besig met hul eie teorieë.

Oom Chris het genoem hy was ‘n afgetrede prokureur wat naby sy kinders kom bly het. Oom Dewald dink hy is ‘n pierewaaier en het geen erg aan hom nie. Johan glo weer hy moes iets met edelgesteentes te doen gehad het, diè dat hy so netjies uitgevat en blink gepoets lyk. Chrissie glo hy kruip weg vir die polisie want hy tree baie verdag op. Self kan Santie nie haar argument verstaan nie.

So kom elke kliënt in en hou haar op hoogte van enige verwikkelinge rakende die man.  Omdat sy nou betrokke is by die gemeenskap luister sy na elke storie. Sy self sal hom graag wil ontmoet om haar eie opinie te vorm.

“Mevrou kan ek hierdie plakkaat teen die venster opsit, asseblief?” die jong meisie hou ‘n plakkaat na haar uit en sonder om dit te neem vra Santie saaklik: “Waaroor gaan dit?”

“Ons gaan ‘n regte Spaanse konsert hou volgende Saterdag, hier in die saal. ‘n Baie bekende Spaanse minnesanger en danser gaan ons vergas met sy sang en passies. Ons wil almal nooi.”

“Dit klink alte lekker. Ken ons die man?”

“Hy bly in die area, ek verstaan sy kinders is albei met Afrikaanse meisies getroud en nou is hyself ook op soek na sy eie Afrikaanse meisie.” En sy giggel kommervry.

“Ken jy die man?” vra Santie en bekyk die meisie deursoekend deur. Haar lang swart poniestert dans rond soos wat sy gesels. Sy het haar al ‘n paar maal opgemerk in die apteek maar nog nooit met haar gesels nie.

“Ja Mevrou, hy is ‘n familie vriend.”

Tevrede met die nuus gee sy haar toestemming. “Sit dit gerus op.”

“Dankie Mevrou.” En met ‘n swaai van haar grasieuse heupe stap sy in die rigting van die winkelvenster. Sy moet tog kyk waaroor dit gaan. Met die gedagte raak Santie besig en vergeet van die pamflet.

‘n Dag later stop Santie by die pamflet, ‘n foto van hul buurman pryk op die blad. Sy prominente Spaanse styl onmiskenbaar. Minnesanger en danser nê, dit sal sy graag wil sien. Sy glimlag ingenome en tree die apteek binne. Tydens ‘n seldsame stil breuk in die apteek word haar gedagtegang onderbreek.

“Middag dame.” Die Latyns-Engelse aksent die eerste wat sy hoor. Verras kyk sy op. Beleefd lig hy sy hoed in ‘n galante groet. Dit is die eerste keer wat sy hom van nader sien en die helderblou kykers is die eerste wat haar opval. Glad geskeer merk sy die onnutsige kuiltjies in die verouderde gesig op en sy weet sommer sy gaan baie van hom hou.

“Middag Meneer, hoe kan ek help?” vra sy beleefd.

“Jy is die kleindogter van Helen, korrek?”

“Ja meneer González.” En sy glimlag op na hom.

“Noem my Enrico asseblief.” En sy knik haar kop instemmend. “Ek kan sien dat skoonheid hoog loop in die Van der Walt familie.” En hy knipoog vir haar waarop sy self in ‘n blos uitslaan. Hul van het nog nooit so romanties geklink nie.

“Baie dankie Enrico, ek waardeer dit.”

“Jou ouma praat met trots van jou.”

“Ouma Helen is ‘n engel en verdien geluk.”

“Juis die rede hoekom ek in gekom het. Ek wil kom kennis maak en jou op jou gemak stel. Mense kan tog so vinning iets rond vertel sonder om die feite te weet.” Lig hy haar in, “Ek sal jou nie verder uit die werk hou nie.” Santie glimlag waarderend.

Mense het alreeds in ‘n tou agter Enrico González gevorm.  “Goeie dag Santie.” En met die stap hy flink weg. Sy kan verstaan hoekom die dames so praat van hom. Jy kan hom deur ‘n ring trek.

Weereens vlieg die dae vinnig verby en die naweek is op hande. Die Saterdag middag laat, stap Santie die huis in. Ouma was duidelik reg om uit te gaan. Die bloedrooi rok se wye romp val sysag om haar vol heupe en die bloedrooi skoene rond die prentjie elegant af. “Ouma lyk darem vreeslik mooi, wat is die geleentheid?”

“Ek en Enrico gaan ‘n dans bywoon vanaand, ek verwag hom enige oomblik.”

“Ek is bly vir ouma. Hy lyk na ‘n goeie man.”

“Dankie my kind. Hopelik sal julle binnekort kan ontmoet.”

Voor Santie kon antwoord, kyk sy hoe haar ouma vir oulaas in die gang spieël kyk voor sy na die voordeur loop.

Die klokkie het pas gelui en die onmisbare blos verduidelik wie die besoeker is. Met een swierige swaai van die arm het Enrico ingestap die oomblik toe die deur oopswaai, fier en regop. Hy self het ‘n swart pak aan, spierwit syhemp, rooi das. ‘n Rooi satyn sakdoek loer kordaat by die baadjiesak uit. ‘n Swart hoed met rooi lint rus gemaklik in sy hand terwyl ‘n bos rooi rose aan ouma uitgehou word.

Sy neem dit by hom en gee hom ‘n ligte soentjie op die wang. So met die instap kon Santie nie die blink gepoeste swart skoene miskyk nie.

Die piksoen wat op Ouma Helen se wang geplaas word terwyl hy saggies in haar oor fluister laat Santie ongemaklik wegkyk. Die blos vertel sy eie storie. Versigtig kyk sy terug en vat dan die bos rose by ouma. “Gee vir my Ouma, ek sal in die water sit. Geniet julle aand.”

“Goeienaand Meneer Gonzales.” Groet sy beleefd.

“Goeienaand Santie. Is dit reg as ek jou so noem?”

“Ja asseblief. Ek is nie gesteld op formaliteite nie.”

“Dankie my kind.” En sy kry ‘n drukkie van albei. Toe hy haar groet klik hy sy skoene teen mekaar in ‘n galante buiging.

“Totsiens Santie.” Groet hy.

Lank nadat hulle alreeds weg is en Santie die blomme in ‘n vaas gesit het, het sy geweet dat sy baie van die man sal hou. Wie sou kon raai dat haar ouma op ‘n Spaanse troebadoer verlief sou raak.  Sy glimlag stil, te bly vir ouma se geluk.

Met ‘n vinnige kyk op haar horlisie besluit sy om tog ook na die dansery te gaan. Dit is nie aldag dat jy ‘n minnesanger in die dorp hoor nie.

In elk geval nie een met sulke blink gepoetste swart skoene nie.

(c) Kopiereg voorbehou.

Lees aanlyn GedagteKringe, 'n Afrikaanse Bundel of koop 'n gedrukte boek hier

Hart’s Kiekies deur Lynelle Clark

Hart’s Kiekies deur Lynelle Clark

Kliek—en nog ‘n terugflits so duidelik soos die vorige.

Kliek—wens jy was hier.

Kliek—vergeet van hom. Hy het.

Kliek—Soos kortstondige flitse spoed ons verhouding voor my verby.

Elke keer dat ek my ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees kristal helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie? Dit is ‘n vraag wat ek myself baie afvra.

Daar is niks tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele gedurigdeur in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë oop te maak met die hoop om hom daar te kry nie.

Sy peinsende oë priemend op my ingestel; sy glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart gesmelt het. Gevolg deur die ondeunde laggie wanneer hy in ʼn stoute bui was.

Die manier wat hy sou vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”

Die tye wanneer hy staaltjies van sy lewe vertel het en ek net kon luister. Vasgevang in die oomblik van sy nostalgiese bui.

Nooit was daardie oomblikke op film vasgelê nie. Maar dit is vasgenael in my geheue. So werklik dat dit voel ek kan my hande uitstoot en hy sal daar wees —voor my.

Hoe harder ek probeer om te vergeet, hoe meer spring hy op in my gedagtegang. Hy bly deel van my lewe. Soms is die onthou so ongevraagd. Soms raak ek moeg vir dit. Vir die onthou. Dit mergel my uit. LOS MY UIT! Wil ek dan skreeu. Hy het sy keuse gemaak en die seer vloei oor die damwalle wat ek probeer bou het.

So verloop meeste van my dae—in tweestryd gewikkel tussen verlange, onthou en herlewing. Tussen woede en teleurstelling.

Ek het nie foto’s nodig nie. Die realiteit van ons saamwees leef nog helder binne my—selfs nou jare later.

Waar ek ookal gaan - hy is daar. Onbewustelik is ek altyd op die uitkyk en hou ek ‘n deur dop met die verwagting dat ek hom gaan sien.

Dan volg die teleurstelling wanneer hy nie opdaag nie. Dit is soms so oorweldigend dat dit voel of my hart opnuut weer uit my borskas geruk word.

Die absolute alleenheid oorweldig my wanneer ek na my foon kyk en daar geen boodskap van hom is nie. Die stille bewys dat ons nie meer is nie.

Daardie stille leegheid wat niks of niemand kan vul nie.

“Is als reg met jou?” Henriette kyk na my met groot vraagtekens in haar helder blou kykers. Outomaties knik ek my kop en gee haar ʼn skalkse glimlag.

“Jy is al die heel dag besig met jou eie gedagtes, als reg met die kinders?"

“Ja wat, net besig soos altyd.” Beantwoord ek haar starende oë en plaas die afgedroogde bak terug op sy plek in die kas.

“Enige nuus oor jou vakansie?”

“Ja, ek het my kaartjie vanoggend gekry. Ek vlieg môre.”

“Hoe laat?”

“Vroeg, moet sesuur op die lughawe wees.”

“Dit is goed, ek sal jou aflaai.”

“Dit is nie nodig nie, Hettie. Die lugredery het gereël vir vervoer.”

Vir ʼn paar oomblikke rek daar ʼn gemaklike stilte tussen die twee vriendinne terwyl hulle die eentonige werk van kombuis skoonmaak afhandel. Wanneer hulle klaar is, dryf die soel lug van die aand hulle na buite. Met ʼn waarderende sug gaan sit elkeen in hul geliefkoosde stoel en staar in die donker dieptes in. Kondensering vorm teen elkeen se glas en maak ʼn water ring; so nou en dan word die stilte verbreek deur die plasing van ʼn glas op die glasblad. Elkeen verdiep in haar eie gedagtes.

Hettie en Meisie bly al vier jaar saam. Hulle het die eerste dag  dat Meisie begin werk het by Jansen Prokureurs ontmoet. Die onderhoud is gevoer deur Dr. Jansen snr, Hettie se pa. Meisie is aangestel as assistent vir Prokureur Henriette Jansen of Hettie soos haar vriende haar ken. Hul vriendskap het vinnig geblom. Hulle het mekaar in soveel aspekte aangevul.

ʼn Gemaklike samesyn het praat dikwels oorbodig gemaak en Hettie het Meisie vinnig touwys gemaak oor die wel en weë van die klein dorpie aan die Weskus. Meisie, oorspronklik afkomstig van die Wes Rand het na haar egskeiding haar weg op haar eie aangedurf.

Hettie was twee maal getroud, albei kere so traumaties dat sy nooit daaroor praat nie en Meisie het dit so aanvaar. Albei het kinders: groot volwasse mense met hul eie lewens en hulle sien of hoor maar min van hulle. Hettie het Meisie genooi om by haar groot huis in te trek: in ‘n suite van haar eie – kompleet met private kombuis en sitkamer - om die huis te vul soos wat sy dit gestel het.

Met tye kom al die kinders kuier en word die huis ‘n regte tuiste waar die vriendelike gelag van mense-stemme die stilte in die lang gange verbreek.

Vroeër is die huis gebruik vir menigte deftige onthale en die Jansens was bekend vir hul gasvryheid. Na Mev. Jansen se afsterwe het Dr. Jansen onttrek van die samelewing en afgesonder in ‘n gastehuis op die landgoed nie ver van die hoofhuis af nie. Elke Sondag middag is hy daar vir die middagmaal, netjies uitgevat in ‘n driestuk pak en strikdas net om weer stilweg te verdwyn na sy eie plek.

Meisie en Hettie is twee eensame vrouens wat geleer het om saam te werk, saam onder een dak te woon en pak allerlei projekte gesamentlik aan. Van stokperdjies tot dien op verskeie rade in die omgewing. Dit is selde wat hulle nie bymekaar is nie en die kontrei se mense het dit so aanvaar.

Dié jaar het Meisie besluit om vir vriende en familie te gaan kuier in Gauteng – nadat sy ‘n uitnodiging vir ‘n troue ontvang het. Hettie bly alleen agter. Dit is die eerste keer dat Meisie teruggaan.

Hettie het al agtergekom dat haar vriendin al hoe stiller geword het hoe nader die datum gekom het. Al het sy gebrand van nuuskierigheid het sy nie gevra wat aangaan nie. Dat Meisie nie aldag by haar was nie, is gewis. Maar sy kan nie anders as om haar stiptelik aan te kyk nie. Die vrae sigbaar in haar kykers.

Met ‘n sug staan Meisie op, haar glas alreeds in haar hand toe Hettie haar stop.

“Is als reg Meisie?”

“Ja, ek is net moeg vanaand.”

“Lekker slaap vriendin.”

“Jy ook, Het.”

“Sien jou môre oggend.”

“Moenie moeite doen nie, ek sal iets op die lughawe kry.”

“Ek sal in elk geval jou wakker maak met ‘n koppie tee.”

“Dit is regtig nie nodig nie.” En Meisie skuifel weg so asof daar iets swaars op haar rus.

Hettie staar haar vriendin agterna. Sy is bewus van die verlange wat so diep in Meisie se hart weggebêre is. Hoekom dit juis nou weer sy kop moet uitsteek weet sy nie. Sy het geleer om nie vrae te vra nie, want Meisie praat nie daaroor nie.

Net eenmaal het sy haar sluier gesak—in ‘n aand van te veel wyn drink, het sy haar hart oopgemaak en Hettie kon net luister na haar vriendin se hartseer—haar rede vir vlug van die Wes Rand af. ‘n Kortstondige liefdesverhouding wat haar met baie vrae agter gelaat het.

Daardie verlange wat haar vriendin weer kruppel maak vanaand en Hettie weet dat Meisie min gaan slaap.

⸸⸸⸸

 “Het jy alles?”

“Ek glo so, as ek iets vergeet het sal ek dit maar kry by die menigte Malls aan die Rand.”

“Goed dan. Geniet jou vakansie, en groete aan almal.”

“Maak so. Kyk mooi na jouself en onthou om jou pille te drink.”

“Ja, Ja. Gaan nou. Hulle roep alweer.”

Met stywe drukkies neem die twee vriendinne afskeid. Hettie wag totdat Meisie by die hekke instap voor sy ook haar weg baan deur die vroeë oggend skare.

Meisie gespe haarself in die stoel, vandag het sy ‘n sitplek gekry langs die gang. Sy weet sommer dit gaan ‘n lang vlug wees soos mense en trollies by haar gaan verby beweeg in hul haas. In plaas daarvan dat dit haar omkrap, maak sy haar oë toe en raak weg in ‘n sluimerende wêreld van verlange en drome. Na ‘n gister wat nooit sal wees nie.

⸸⸸⸸

“Hoe gaan dit met almal?”

“Baie goed—die kinders stuur groete. Die kleintjies word nou woelig. Ek raak skoon moeg net om na hulle te kyk.” Meisie se gesig straal soos altyd wanneer sy van haar kinders praat.

“Chrissie-hulle se huis is uiteindelik klaar. Dit lyk werklik pragtig met al die nuwe verbouings.”

“Dit moet seker nou ‘n reuse huis wees?” vra Hettie nuuskierig en lus vir gesels na die twee weke van alleen wees.

“Praat jy vrou. Maar dan is dit verstane met al die kinders en ... jy sal nie glo nie maar Chrissie is weer swanger.” En Meisie gee ‘n skalkse laggie as Hettie se oë rek.

“Alweer?” En Hettie klap haar hande saam van stomme verbasing. “Pieter kon nog nooit sy hande van haar af hou nie, sy is ‘n pragtige mens binne en buite.”  Verduidelik Meisie onnodiglik. Hettie het die man al gesien, skoon simpel oor sy vrou.

“Hoeveelste een is dit dan?”

Vir ‘n oomblik bly Meisie stil terwyl sy ‘n silwerraam op die boekrak neersit, peinsend staar sy daarna en beantwoord ingedagte: “Vyfde kindjie.”

“Goeie genugtig.” En Hettie zoom in op die foto maar Meisie skuif die foto so dat sy nie die beeld kan sien nie.

“ Maar weet jy, hulle is gelukkig en geseënd. Ek gun dit vir hulle.” Meisie draai om en pak haar tas verder uit diep in haar eie gedagtes gekeer.

Hettie hou haar vriendin dop vanwaar sy stelling ingeneem het op die rusbank wat ‘n uitsig het oor die private sitkamer en ‘n gedeelte van die gemanikeerde tuin. Die oop patio deur laat ‘n koel windjie inwaai en so nou en dan bol die gordyne. Uit pure baldadigheid. Die sonstrale laat strepe oral oor die mat en die plek lyk vrolik met die vars blomme wat sy nog daardie môre in haar vriendin se suite geplaas het.

Nog ‘n fotoraam verskyn vanuit die dieptes van die tas en word versigtig neergesit op ‘n ronde tafeltjie nie ver van waar Hettie sit nie. Vir ‘n paar oomblikke staan Meisie stil voor die raam terwyl ‘n vinger oor die glas getrek word. Hettie kon sweer sy sien ‘n traan, maar kon haar ook verbeel het. Meisie draai weg en raak doenig in die slaapkamer. Kas deure word oop en toe gemaak. Laaie word toegestoot met ‘n finaliteit. ‘n Anderse stilte heers in die stel kamers.

Hettie wonder hoe dit regtig gegaan het. Sy fokus opnuut in op haar huismaat. Die lyne op haar gesig, stroef en droewig. Haar skouers is vorentoe gebuig.

Meisie is stil. Te stil.

Hettie loop stadig na die deur toe en staan teen die deurkosyn en kyk hoe Meisie rondskarrel om alles weer georden te kry. Nog twee fotorame het plek gekry op haar spieëlkas. Laggende gesiggies straal vanuit die rame en instinktief weet Hettie dit is die kleinkinders.

“Hoe was jou twee weke?” verbreek Meisie die stilte sonder om regtig op te kyk van die uitpakkery.

“Goed. Mnr Joubert het uiteindelik geskik en ons kon voortgaan met die registrasie van die eiendom.”

“Ag dankie tog. Ek het gedink ons gaan nooit daardie man tevrede stel nie.” Meisie glimlag tevrede—bly dat die moeilike man uiteindelik uit hulle lewe is.

“Blykbaar het dit iets te doen met wat jy gesê het die laaste keer wat hy daar was.”

“Regtig? Wat?”

“Hy het nie gesê nie, maar die skikking is aanvaar.”

“Dan is dit goed.”

“Mnr. Joubert het al tweemaal gebel en gevra na jou.”

“Hoekom?”

“Hy het nie verduidelik nie, jy weet mos. Die man praat net die nodigste.” Meisie sug net. Die onthou lê net onder oppervlak. Sy wens Hettie wil nou loop. Sy wil alleen wees. Maar nee sy staan. Mnr Joubert moet ook nou nie sukkel nie. Sy is nie lus vir mans nie.

‘n Laaste tas word op die bankie voor die bed neergesit en oopgemaak. Toegedraaide geskenke word uitgehaal en sy stap na Hettie toe.

“Die kinders het dit vir jou gestuur,” Vier mooi versierde pakkies word in haar hande gesit.

“Maar hoekom—dit is nie my verjaarsdag nie?”

“Hulle het gevoel om vir jou iets te koop, daar is iets van die kleinkinders ook.” Merk sy op.

“Ek sal hulle ‘n luitjie gee om dankie te sê.” En sit die pakkies onder haar arm in. Sy sal later kyk. Meisie broei en sy is nuuskierig.

Nog ‘n fotoraam verskyn, dié een is groter as die voriges en die figure duidelik uitgebeeld in die outydse silwerraam. Die bruid en bruidegom staan glimlaggend langs mekaar in ‘n hul trougewaad. Formeel en deftig staan die man daar, elke haar op sy plek. Sy baard netjies getrim, das bietjie skeef. Die bruid straal in ‘n sagte pienk pakkie. Die bruidegom se arm om haar vol lyf.

Langs hom staan Meisie ewe deftig in haar lig groen rokkie wat hulle nog saam uitgekies het. Meisie lyk vrolik en jeugdig langs die egpaar. Die bruidegom se arm rustig om haar skouers—soos ou vriende.

Sy ken nie die blondekop vrou aan sy regtersy persoonlik nie. Meisie self het net eenmaal haar naam genoem, Alida Breytenbach, ‘n weduwee wat nou weer gelukkig lyk in die nuwe man se arms. Sy straal behoorlik terwyl sy opkyk na haar bruidegom – wie vir daardie vlietende oomblik na Meisie kyk. ‘n Kyk wat meer sê. Of verbeel sy haar?

Meisie stap weg van die tafeltjie en hang die einste rok in die hangkas op. Hettie kon nie anders as om die fotoraam op te tel en te bestudeer nie. Dit vertel meer as wat Meisie sê en sy moes haar oë ‘n paar keer knip om dan te onthou - die man wat sy nog net eenmaal  - ook op ‘n foto—gesien het.

 “Gerrie Heyns, jou bliksem.”

(c) Kopiereg voorbehou.

GedagteKringe, 'n Afrikaanse Bundel.

You cannot copy content of this page