“Ouma lyk baie mooi vandag.” Met ‘n waarderende oogknip gee Santie haar ouma ‘n liefdevolle drukkie.

“Dankie my kind. Dit is ‘n ou rokkie wat ek lanklaas aan gehad het.” verduidelik haar ouma met ‘n blos. Haar groen oë skitterend en vol lewe. 

“Ek is bly Ouma trek weer mooi aan. Dit is hoog tyd dat Ouma weer ‘n bietjie uitkom.”

“Moenie vir jou stuitig hou nie Santie. Ek is ‘n ou vrou. Wie sal nou in my belangstel?” maar die hoë blos gee haar weg en Santie giggel van lekkerte. Met ondeunde oë bestudeer Santie haar ouma van kop tot tone. Vir 65 lyk Ouma Helen baie goed en die sagte blou somersrokkie vlei haar postuur perfek. Sy kan raai hoekom haar ouma skielik aandag aan haarself gee. 

Twee weke vantevore was sy en ouma aangenaam verras met die nuwe buurman wat ingetrek het. Die huis was al ‘n geruime tyd leeg. Die eienaars het min omgegee vir die plek en verwaarlosing het ingetree. Leeglêers was gereeld rondom die plek gewaar, wat vir hulle ‘n bekommernis was. Ouma was knaend by die polisie oor die situasie maar hulle het net hul skouers opgetrek. Nou dat hy daar is kon hulle ontspan. Twee dae het verby gegaan voor hulle die man gesien het.

Gekleed in ‘n netjies swartbroek en glad gestrykte wit hemp was hulle baie nuuskierig oor die man. Sy kop het gespog met ‘n dik bos grys hare.  Die enigste keer wat Santie hom sonder ‘n hoed gesien het. Lanklaas het sy ‘n ouer man met so ‘n goeie houding gesien. Dit was iets om te waardeer.

Een middag het Santie haar ouma betrap waar sy by die voorkamer venster gestaan het. Die gordyn was versigtig weg getrek en ‘n droomverlore kyk was duidelik sigbaar op haar gelaat. Oupa is al vyf jaar gelede oorlede en ouma was alleen. Omdat Santie permanent by haar ouma woon het sy geweet hoe vereensaam sy was, so sy het die nuwe verwikkeling verwelkom.

‘n Week terug het sy gekyk hoe die twee kennis maak oor die muur. Beide was besig in die tuin. Die weer het eindelik opgeklaar na die heerlike reëns en ouma het gaan seker maak dat haar blomme nog ongeskonde is. In die stilligheid het Santie besluit om ‘n nadere ogie oor alles te hou en seker te maak dat die man nie ‘n kansvatter is nie. Haar ouma was nie ryk nie maar sy het ’n gemaklike lewe gelei – te danke aan oupa Hendrik se goeie beleggings. 

Die nuwe buurman, Mnr González, het die hele buurt aan die gons. Met sy statige stappie, is elke vrou – jonk of oud – beïndruk met die ouerige man.  Santie kan verstaan hoekom al wat ‘n vrou is, lam knieë kry wanneer hy die straat af stap. Die stylvolle kierie die perfekte magneet om die vroulike geslag aan die gons te hou. Oral waar Santie kom praat hulle oor hom.

Elize het selfs gister haar lippe rooi gekleur die oomblik toe sy hom buite haar koffiewinkel gewaar. Normaalweg is Elize baie waardig en op haar plek maar het begin giggel toe hy vir haar gegroet het – kompleet met ‘n geligte hoed. Die galante maniere ‘n teenstelling met die dorpvrouens se ondervindings.

Die mans was neidig en kon hom nie verdra nie wat natuurlik die vrouens vuur gegee het. Daar is ‘n permanente verwagting in die lug vandat hy daar aangekom het.

Sy weet nie veel van die man nie. Maar dat hy almal aan die praat het is gewis. In sy perfekte Engels kom hy afgerond voor. Alhoewel die luisteraar tog ‘n aksent kan waarneem wat bydra tot die misterie.

Sy intelligente gesprekke vertel hy is werêldwys met woorde wat mooi geformuleer is om sy gedagtes duidelik op ‘n waardige manier weer te gee. As apteker op die dorp is Santie privy om al die verskillende weergawes van sy lewensverhaal aan te hoor maar sy weet nie of een waar kan wees nie. Self het sy haar eie opinie maar hou dit vir haarself. Nie dat iemand al gevra het nie, hulle is te besig met hul eie teorieë.

Oom Chris het genoem hy was ‘n afgetrede prokureur wat naby sy kinders kom bly het. Oom Dewald dink hy is ‘n pierewaaier en het geen erg aan hom nie. Johan glo weer hy moes iets met edelgesteentes te doen gehad het, diè dat hy so netjies uitgevat en blink gepoets lyk. Chrissie glo hy kruip weg vir die polisie want hy tree baie verdag op. Self kan Santie nie haar argument verstaan nie.

So kom elke kliënt in en hou haar op hoogte van enige verwikkelinge rakende die man.  Omdat sy nou betrokke is by die gemeenskap luister sy na elke storie. Sy self sal hom graag wil ontmoet om haar eie opinie te vorm.

“Mevrou kan ek hierdie plakkaat teen die venster opsit, asseblief?” die jong meisie hou ‘n plakkaat na haar uit en sonder om dit te neem vra Santie saaklik: “Waaroor gaan dit?”

“Ons gaan ‘n regte Spaanse konsert hou volgende Saterdag, hier in die saal. ‘n Baie bekende Spaanse minnesanger en danser gaan ons vergas met sy sang en passies. Ons wil almal nooi.”

“Dit klink alte lekker. Ken ons die man?”

“Hy bly in die area, ek verstaan sy kinders is albei met Afrikaanse meisies getroud en nou is hyself ook op soek na sy eie Afrikaanse meisie.” En sy giggel kommervry.

“Ken jy die man?” vra Santie en bekyk die meisie deursoekend deur. Haar lang swart poniestert dans rond soos wat sy gesels. Sy het haar al ‘n paar maal opgemerk in die apteek maar nog nooit met haar gesels nie.

“Ja Mevrou, hy is ‘n familie vriend.”

Tevrede met die nuus gee sy haar toestemming. “Sit dit gerus op.”

“Dankie Mevrou.” En met ‘n swaai van haar grasieuse heupe stap sy in die rigting van die winkelvenster. Sy moet tog kyk waaroor dit gaan. Met die gedagte raak Santie besig en vergeet van die pamflet. 

‘n Dag later stop Santie by die pamflet, ‘n foto van hul buurman pryk op die blad. Sy prominente Spaanse styl onmiskenbaar. Minnesanger en danser nê, dit sal sy graag wil sien. Sy glimlag ingenome en tree die apteek binne. Tydens ‘n seldsame stil breuk in die apteek word haar gedagtegang onderbreek.

“Middag dame.” Die Latyns-Engelse aksent die eerste wat sy hoor. Verras kyk sy op. Beleefd lig hy sy hoed in ‘n galante groet. Dit is die eerste keer wat sy hom van nader sien en die helderblou kykers is die eerste wat haar opval. Glad geskeer merk sy die onnutsige kuiltjies in die verouderde gesig op en sy weet sommer sy gaan baie van hom hou.

“Middag Meneer, hoe kan ek help?” vra sy beleefd.

“Jy is die kleindogter van Helen, korrek?”

“Ja meneer González.” En sy glimlag op na hom.

“Noem my Enrico asseblief.” En sy knik haar kop instemmend. “Ek kan sien dat skoonheid hoog loop in die Van der Walt familie.” En hy knipoog vir haar waarop sy self in ‘n blos uitslaan. Hul van het nog nooit so romanties geklink nie.

“Baie dankie Enrico, ek waardeer dit.”

“Jou ouma praat met trots van jou.”

“Ouma Helen is ‘n engel en verdien geluk.”

“Juis die rede hoekom ek in gekom het. Ek wil kom kennis maak en jou op jou gemak stel. Mense kan tog so vinning iets rond vertel sonder om die feite te weet.” Lig hy haar in, “Ek sal jou nie verder uit die werk hou nie.” Santie glimlag waarderend.

Mense het alreeds in ‘n tou agter Enrico González gevorm.  “Goeie dag Santie.” En met die stap hy flink weg. Sy kan verstaan hoekom die dames so praat van hom. Jy kan hom deur ‘n ring trek.

Weereens vlieg die dae vinnig verby en die naweek is op hande. Die Saterdag middag laat, stap Santie die huis in. Ouma was duidelik reg om uit te gaan. Die bloedrooi rok se wye romp val sysag om haar vol heupe en die bloedrooi skoene rond die prentjie elegant af. “Ouma lyk darem vreeslik mooi, wat is die geleentheid?”

“Ek en Enrico gaan ‘n dans bywoon vanaand, ek verwag hom enige oomblik.”

“Ek is bly vir ouma. Hy lyk na ‘n goeie man.”

“Dankie my kind. Hopelik sal julle binnekort kan ontmoet.”

Voor Santie kon antwoord, kyk sy hoe haar ouma vir oulaas in die gang spieël kyk voor sy na die voordeur loop.

Die klokkie het pas gelui en die onmisbare blos verduidelik wie die besoeker is. Met een swierige swaai van die arm het Enrico ingestap die oomblik toe die deur oopswaai, fier en regop. Hy self het ‘n swart pak aan, spierwit syhemp, rooi das. ‘n Rooi satyn sakdoek loer kordaat by die baadjiesak uit. ‘n Swart hoed met rooi lint rus gemaklik in sy hand terwyl ‘n bos rooi rose aan ouma uitgehou word.

Sy neem dit by hom en gee hom ‘n ligte soentjie op die wang. So met die instap kon Santie nie die blink gepoeste swart skoene miskyk nie.

Die piksoen wat op Ouma Helen se wang geplaas word terwyl hy saggies in haar oor fluister laat Santie ongemaklik wegkyk. Die blos vertel sy eie storie. Versigtig kyk sy terug en vat dan die bos rose by ouma. “Gee vir my Ouma, ek sal in die water sit. Geniet julle aand.”

“Goeienaand Meneer Gonzales.” Groet sy beleefd.

“Goeienaand Santie. Is dit reg as ek jou so noem?”

“Ja asseblief. Ek is nie gesteld op formaliteite nie.”

“Dankie my kind.” En sy kry ‘n drukkie van albei. Toe hy haar groet klik hy sy skoene teen mekaar in ‘n galante buiging.

“Totsiens Santie.” Groet hy.

Lank nadat hulle alreeds weg is en Santie die blomme in ‘n vaas gesit het, het sy geweet dat sy baie van die man sal hou. Wie sou kon raai dat haar ouma op ‘n Spaanse troebadoer verlief sou raak.  Sy glimlag stil, te bly vir ouma se geluk.

Met ‘n vinnige kyk op haar horlisie besluit sy om tog ook na die dansery te gaan. Dit is nie aldag dat jy ‘n minnesanger in die dorp hoor nie.

In elk geval nie een met sulke blink gepoetste swart skoene nie.

(c) Kopiereg voorbehou.

GedagteKringe, ‘n Afrikaanse Bundel.

You cannot copy content of this page