fbpx

During the gala event, held at Royal Elephant Hotel in Pretoria, I got the surprise of my life. One of my stories has won the second price in short stories and is published in the book, Inkspraak 2.

I feel honored to be featured in this book and want to thank Anzé Bezuidenhout, founder and owner of INK in Afrikaans, for the privilege. The gala was a wonderful affair with all the glitz and glam associated with it.

Moedelose Verslaenheid se Nadraai.

Van onder die huis dawer ‘n deur wat toe klap, dan word die trappe bestyg met soveel geweld dat die houttrap steier. Ek wil nog dink om te beweeg, toe is Waldo in die deur. Sy gelaat is spierwit en lippe blou.

“Wat gaan aan?” vra ek geskok. My hele lyf is yskoud asof daar iemand oor my graf geloop het.

“Alles is weg,” fluister hy en sak teen die bed af tot op die vloer.

“Wat is weg?” vra ek benoud.

Doodse stilte heers in die kamer en ek staar in magteloosheid af op Waldo. Trane loop teen sy gesig af. Diep lyne kloof sy gesig in skok en hy lyk ouer as sy sestig jaar.

“Waldo, wat gaan aan?” vra ek weer en neem versigtig plaas langs hom op die vloer.

“Sy het als gevat.” Hy druk sy kop in sy hande – hande wat harde werk ken. Sy skouers is sommer krom getrek en ʼn snik ruk uit sy bors.

“Ek verstaan nie, Waldo. Wie het wat gevat?”

“Alet. Sy het my rekening leeg gemaak. Ons het niks oor nie.” Die yskoue gevoel verander na ys. Dit loop teen my rug af en maak my lam, so lam dat ek net kan sit. My krag weg.

Daardie geld is Waldo se pensioengeld – geld waarmee ons moet leef. Nie een van ons het ‘n inkomste nie en moes amper twee maande wag vir dié gelde se uitbetaling. Die huur is agterstallig, die kos is bitter min en die bakkie se dieselnaald is net bokant leeg.

Die dag toe sy egskeiding afgehandel is, het hy ‘n prokureursbrief ontvang waarin sy sekere gelde geëis het wat volgens haar, aan haar verskuldig is. Toe hy ʼn prokureur daaroor gaan sien het, het hy vir Waldo gesê dat sy geen gronde het om op te staan nie en hy moet dit vergeet. Gister het hy die lasbrief ontvang. Indien hy dit wil beveg moet hy môre in die hof verskyn. Hy sou die bakkie kon vol maak vandag om dit te kan doen.

Waldo ruk sy foon uit, soek die nommer en druk dit dan teen sy oor. Hy wag nie lank nie.

“Is jy nou tevrede? Jy het my sopas op straat gesit. Ek het niks nie.” Met ʼn bewende hand druk hy die foon dood.

Stilte sny deur my. Ek is verslae. Ek ken armoede. Ek weet wat dit is om geen kos te hê, en geen elektrisiteit te hê nie. Ek is weg van my man omdat ek hom nie meer vertrou het met ons geldsake nie. Ons het als verloor. Toe ek weggestap het, het ek net my tas met klere gehad.

Na ‘n lang soeke en baie seer het Waldo my standvastigheid gebied. Vir agtien maande het dit goed gegaan. Nou dit. Here, hoekom?

“Jy moet vir Dries bel,” mompel ek. “Miskien kan hy ons help,” probeer ek deur die newels praat en staan op. Ek voel baie ouer as my eie twee-en-vyftig jaar en gaan sit op die bed. In die spieël weerkaats my halfklaar opgemaakte gesig terug na my. Ons sou gaan uiteet het vanaand. Hy moes net eers tandarts toe gaan vandag omdat hy nou al weke met tandpyn rondloop.

Verslae soek Waldo weer ʼn nommer en bel.

“Hallo Dries, Waldo hier. Het jy tyd om te praat?”

“Hallo Waldo, praat gou. Ek is oppad hof toe.”

“Onthou jy die dagvaarding wat ek gekry het van my gewese vrou?”

“Ja, ek onthou,” kom die antwoord hard deur die luidspreker.

“Sy het my bank vandag leeg gemaak. Ek het niks oor nie. Ek moet môre in die hof verskyn en ek kan nie gaan nie.” Die verdwasing sit vlak in die growwe stem. Sy kop rus in sy hande.

“Betaal R10 000 in my rekening en ek sal jou verteenwoordig in die hof. Jy hoef nie daar te wees nie.”

“Ek dink nie jy verstaan nie, Dries. Ek het niks geld nie.” Sy stem klim ʼn oktaaf hoër.

“Dan kan ek jou nie help nie. Goeie dag.” Die lyn gaan dood.

Verstom staar ons albei na die dooie foon en Waldo gooi dit eenkant toe. Die selfoon hop op die bed voor dit afgly van die bed af en met ʼn dowwe klank op die vloer beland.

Ek syg op die bed neer, my hele wêreld weereens onderstebo. Ek ontmoet die vrou in die spieël. Sy is wasbleek. Die blosser lyk grostesk teen haar vel.

Bly ek of gaan ek? Warrel my gedagtes deur my. Ek voel momenteel so moeg, ek kan nie dink nie. Die spieëlvrou se verslaentheid raak my hart en trane begin om oor my wange te loop. Hoe lank ek daar gesit het weet ek nie, maar my keel voel so droog dat ek opstaan en na die rooi deur loop. Vir ʼn oomblik staan ek in die kosyn en leun moeg teen dit.

“Rose?”

Maar ek antwoord hom nie en loop die trappe stadig af. Die steil trappe was nog altyd iets wat ek versigtig benader het, maar vandag gee ek nie om hoe naby my voete by die rante is of hoe vinnig ek daar af gaan nie. Ek wil net wegkom.

“Rose?” roep hy agterna, maar ek antwoord nie. Haastig volg hy my tot onder. Ek staan voor die ketel en sit dit aan. My kop laat weet my daar is nie koffie nie, maar my hande reageer outomaties.

“Ek is jammer, Rose.”

Ek knik my kop verdwaas. “Dit is nie jou skuld nie.” mompel ek. Ek ontmoet sy pyngevulde oë en stap gewillig in sy arms in.

“Ons sal hier deur kom, liefie. Ek belowe jou.”

Ek knik my kop teen sy bors en hoor die egalige ritme van sy hart. Amper, net amper wil ek dit glo. Dan syfer ʼn ander klank deur. Soos ʼn sirene weergalm dit deur die huis en Waldo stap weg. Stadig draai ek om en kyk hoe hy vroetel aan die voorafbetaalde meter. Sy gesig spreek boekdele toe hy na my kyk. Die ketel stop. Die krag is klaar. My grootste vrees kom waar voor my oë; en ek kan niks daaraan doen om dit te verander nie. Weer dreun die vraag deur my kop. Hoekom Here? Wat het ek gedoen om dit te verdien? Is ek ʼn slegte mens? Meer trane meng met die droës en loop teen my gesig in strome af. Ek probeer dit nie eers keer nie.

Waldo loop tot by my en neem my weer in sy arms. Ons staan lank so en hou mekaar vas. Dit is later donker voor ons weer beweeg.

“Ek het vyftig rand in die bakkie. Kom ons gaan kry iets om te eet.”

Verwese los ek hom en voel koud. Bo lui ʼn selfoon, maar ons albei ignoreer dit. Hoe verduidelik jy? Hoe sê jy vir die kinders ma is alweer ʼn las. Hoe sal ons aangaan? Waar gaan ons bly?

“Ons sal vir Marie en Piet moet laat weet dat ons nie huur kan betaal nie,” praat ek terwyl ek hom volg na die bank in die donker sitkamer. Nie een van ons het die energie om kos te gaan kry nie.

“Ek sal môre met Piet praat.” Hy trek my styf teen hom aan en dan vou ons ons hande saam.

“Here God, U ken ons pad. U weet dat ons U lief het met ons hele hart. Daarom kom ons in alle nederigheid en vra vir voorsiening, Here. Here, maak Rose se hart stil vanaand. Verseker haar van U liefde. In Jesus Naam. Amen.”

Weer lui die foon en Waldo staan op.

Hy bly lank weg terwyl ek my kop op die leuning laat sak en net in stilte sit. My gedagtes stil.

Toe hy terugkom is daar ʼn ander klank in sy stem – amper lighartig. Hy kom staan op sy knieë voor my en gee my ʼn soen. Ek glimlag saggies op na hom.

“Die Here is getrou. Die kinders het die Lotto gewen. Hulle gaan daardie huis met die mooi gastewoonstel koop en ons moet by hulle kom bly. Jy weet die een wat hulle altyd so bewonder het, hy is in die mark.”

Verstom kom ek orent. “Wanneer het hulle die geld gewen?”

“Buks het vanoggend sy kaartjie nagegaan. Al ses die nommers is reg. Hy het die boerpot gewen, Rose. Die boerpot! Is dit nie fantasties nie?”

Ek knik en val terug teen die kussings. Waldo kom sit weer langs my. Hy plaas sy growwe hand oor myne en sê:

“Hulle sê ons kan vereers by hulle intrek. Hulle sal ons help om môre in te trek in die spaarkamer in. Sien jy lief, ek het geweet God sal deurkom vir ons.”

“Prys die Here.” My hart voel skielik klein – te klein vir my borskas en ek huil.

“En nou, lief? Ek dog jy sou bly wees?”

“Ek is bly. Ek voel net klein in God se teenwoordigheid.”

“Ek verstaan hoe jy voel. Ek het ook getwyfel, maar God is getrou, Rose. Hy het voorsien. Daaroor kan ons net dankbaar wees, want dit is nie uit ons eie krag nie, maar God se krag.”

 

 

 

You cannot copy content of this page