fbpx

Om meer te leer oor die boek kliek hier

‘n Doodsheid vul my binneste, soveel so toe ek die by die snelweg aansluit kan ek nie onthou hoe ek daar gekom het nie. Ek voel moeg en gedreineer. Dit is veby. Trane loop teen my wange af, versper my visie en ek ry stadiger. ‘n Kar jaag verby, ‘n toeter blaas en instinktief weet ek dit is vir my. Toe ek my oë afvee besef ek hoekom, ek ry wydsbeen oor twee bane. Ek ruk die kar na die linkerbaan net toe nog ‘n groterige motor verby my skuur met blêrrende toeter. Die man swaai vuis deur sy venster, woedend.

Ek is ‘n gevaar vir myself en die motoriste om my, syfer die besef deur. By die volgende afdraai volg ek die afdraaipad en stop by die Engen garage. Ek vee spore van my afgelope tranedal af en stap by die eetplek in. Daar sak ek by die naaste sitplek neer.

“Môre Mevrou, hoe lyk dit met ‘n heerlike koppie koffie?” ek vermy die kelner se oë maar koffie sal heerlik smaak.

Stilweg verdwyn die man en ek sit terug. Nog ‘n traan baan afwaarts en verergd vee ek dit af. Ek moet myself ordentlik kry en gewaar die badkamers in die linkerhoek van die vertrek en baan my weg soontoe. Gelukkig is die plek nie vol nie en kan ek darem my kop ietwat lig net om seker te maak waar ek is. Struikel is die laaste ding wat ek nou nodig het.

In die ruskamer doen ek my besigheid soos ‘n robot. Ek weier om te dink oor die afgelope naweek se gebeure. Weier om weer my asem of my trane daarop te mors. Ek moet eintlik verlig voel dit is verby. Die beeld wat terug weerkaats is van ‘n weerlose bleek vrou met rooi, opgepofde oë. Ek lyk lelik en onthou ek het my handsak by die tafeltjie gelos. Baie onverantwoordelik van my dink ek benoud. Met lang vingers kam ek my deurmekaar hare reg. Dit maak nie ‘n groot verskil nie maar dit lyk tog beter. ‘n Haarknip sou beter gewerk het maar ek gaan nie nou daaroor top nie. Ek spoel my gesig met koue water af. Dit voel verfrissend en ‘n sweempie van ‘n glimlag verskyn. Met die papier handdoek druk ek my gesig droog en kyk weer na my beeld, dit lyk beter, heelwat beter. Ek voel meer in beheer van my gevoelens.

By die deur stop ek. Vir ‘n oomblik kan ek nie onthou waar my sitplek is nie en die vriendelike kelner wink vir my. Sy bedagsaamheid lig my gemoed nog verder en die keer kan ek hom in die oë kyk. Merkwaardig wat ‘n veranderde gemoed kan doen, dink ek, verleë oor my houding van vroeër.

“Wat van ietsie om die innerlike te versterk?” vra hy beleefd. Sy Afrikaans het ‘n merkbare aksent. “Ons het vars skons, kan ek vir mevrou bring, saam met aarbei konfyt en room?”

“Baie dankie, klink heerlik.” En weer verdwyn hy uit my gesigsveld. Die wagtende koffie ruik heerlik en vinnig gooi ek twee bruinsuikers in, voeg dan ‘n titseltjie melk by. Al roerende kyk ek rond, nie seker waar ek is nie. Die plek lyk skaflik, nie die standaarde waaraan ek gewoond geraak het nie maar vandag pla dit my nie. Die verandering sal my die wêreld se goed doen.

Ek vat die eerste sluk, versigtig om nie te brand nie. En geniet die aroma, ryk en lekker net soos pa altyd daarvan gehou het. Boeretroos. Sy het altyd gewonder oor die beskrywing maar nou, hier in die onbekende dring dit deur. Die troos wat dit haar gee is verkwikkend amper eufories en sy vat nog ‘n sluk. ‘n Perfekte koppie koffie. Welbehaaglik ontspan sy net om weer aan haar handsak te dink. Dit lê nog op dieselfde plek dink sy verlig en sy plaas dit op haar skoot. Sy grawe rond en kry haar selfoon beet. Met misnoeë kyk sy na die swart skerm en besef hy moes iewers afgegaan het.

“Kan ek vir mevrou op die laaier sit, dan is hy nou, nou weer vol lewe?” vra die kelner. Ek skrik, ek het hom beslis nie opgemerk nie en ‘n bord met die geurigste skons word voor my neergesit. ‘n Wit bakkie met room word langs dit neergesit en dan volg twee kleiner bakkies met gerasperde kaas en aarbeikonfyt, onderskeidelik.

“Asseblief, maar ek het nie die draad hier nie.” Verergd dat sy in haar haas dit by die huis gelos het. “Ons het ‘n paar drade hier en dit lyk na ‘n bekende maak so ek sal beslis kan help.” Ek wik en weeg die aanbod, skeptisisme so deel van my dat ek wonder wat sy intensies is. Dan kyk ek na die oop gesig, onskuld weerkaats terug na my. Met ‘n ry wit tande wat vol verwagting na my kyk. Dan oorhandig ek die foon met ‘n dankie. En met diè stap hy weg, na ‘n rak in die een hoek waar hy die foon konnekteer. Met ‘n breë glimlag gee hy my ‘n duimpie op en ek gee ‘n skalkse glimlag. Darem iets wat reg werk.

“Life goes on.” Het sy eendag iewers gelees en selfs in die verbygaan het sy dit nooit rerig gesnap nie. En hier sit sy, by ‘n onbekende plek en kom tot die besef dat selfs in die klein dingetjies die lewe nog voort gaan. Al het haar wêreld momenteel kom stil staan gaan dit eintlik nog aan. Sy is finaal vry van Diwan.

“Jy het ‘n regte keuse gemaak.” Word my gedagtes onderbreek deur ‘n growwe stem. Verdwaas kyk ek op. Die man voor my se vriendelike gesig stel my dadelik gerus. Verward staar ek na hom, snap nie waarna hy verwys nie en hy wys na die bord voor my.

“Die skons, dit is Helga se beste gebak. Mense stroom spesiaal hiernatoe vir haar varsgebakte skons.” En hy gaan sit oorkant my. Vies kyk ek hom aan. Ek het hom nie genooi nie, dink ek verergd. Sommer omgekrap oor sy voorbarigheid. Hy klap sy vingers en bulder dit uit: “Ag bring vir my daar ook ‘n koffie en skons, Gertman.” Die kelner van vroeër grynslag weer en verdwyn die kombuis in.

“Die naam is Wikus. Wikus Boonzaaier. Ek bly net buite die dorp.” En steek ‘n growwe hand uit wat ek bedeesd vat. Nie lus vir geselskap nie maar antwoord tog beleefd:

“Rika van den Berg.”

“Bly te kenne Rika. Kom jy dikwels hier?” val hy sommer dadelik met die deur in die huis. Ek wil my nog verder vervies maar bedink my. Miskien moet ek net leer om te ontspan.

“Nee, is my eerste keer.”

“Waarheen is jy oppad?”

Kriewelrig vermy ek sy priemende oë. Goeie vraag, nie seker nie, dink ek in die stilligheid. Gertman is terug en plaas die man se bestelling voor hom neer. Dit gee my ‘n oomblik om my eie skons te sny en met botter te smeer. Die vraag hang in die lug en ek weet eerlikwaar nie die antwoord nie. Waarheen is ek oppad? Vandat ek Bergendal verlaat het, het ek net die pad gevat.

Die man smeer sy eie gehalveerde skons. Die konfyt word sommer dik opgeplak en hy gee ‘n groot hap. “Dit bly darem die lekkerste skons in die geweste.” Ek knik my kop in ooreenstemming. Dit is heerlik vars.

“Verskoon my voorbarigheid maar kan ek help?” vra hy weer, die ondersoekende blik gevul met opregte belangstelling. “Nie rerig nie.” antwoord ek bedees.

“Dit lyk my jy het ‘n stil-word-plek nodig.” Gee hy sy mening en vat weer ‘n hap. Ek lag amper sinies. Stilte is seker die laaste plek wat ek nodig het en ek vat ‘n sluk van my koffie.

Sonder om sy steeds priemende oë te ontmoet kyk ek weg, nie seker wat om te antwoord nie. Stilte… ek het genoeg daarvan gehad op Bergendal. Dit is juis van die stilte wat ek weg vlug. Die soort stilte wat kasty en letsels los. Daardie soort het ek nie nodig nie.

“Ek sal eerder tussen mense wil wees. Miskien is die stad juis wat ek nodig het.” antwoord ek en wink vir Gertman om die rekening te bring. Skielik haastig om op die pad te kom.

“Mevrou, waarvoor jy ookal vlug ek hoop jy kry jou antwoorde daar.” Ek knik my kop, sit ‘n R100 noot op die tafel neer en staan beslis op. Ek hoor Gertman roep maar ek ignoreer hom. Die footjie is seker te veel.

Terug in my kar vang my oog die inligtingsbord na Durban. Is nie juis ‘n plek waarvan ek hou nie maar is miskien juis wat ek nodig het. Die klop teen die ruit laat my skrik en ek gewaar Gertman met ‘n breë glimlag. My foon in sy hande. Versigtig rol ek die venster af en met ‘n dankie ontvang ek die foon. “Mooi ry, Mevrou. Tot ‘n ander dag.” En ek rol weer die venster toe sonder ‘n woord.

Met haas trek ek weg om die soort stilte te vind wat net afstand my kan bied.

You cannot copy content of this page