Eerste indrukke word bepaal deur hoe jy kommunikeer. Die sielkundige Albert Mehrabian het die belangrikheid van die drie elemente van kommunikasie in persentasies uitgedruk:
Nieverbaal: 55%
Jou stemtoon: 38%
Jou woorde: 7%
Jy word dus op jou baadjie getakseer!
Goeie maniere en etiket is vandag noodsaakliker as ooit. Hoewel “dankie”, “verskoon my”, “asseblief” en “aangename kennis” vandag steeds korrek is, is dit nie meer voldoende in ons vinnig veranderende wêreld nie.
“’n Boom word aan sy vrugte geken, ’n mens aan sy dade.
Hy wat hoflikheid saai, pluk vriende, en hy wat
gaafheid plant, versamel liefde.”
– Basilius die Grote
Goeie maniere en bedagsaamheid maak deure oop, en etiket gee duidelike riglyne en reëls wat ’n persoon gemaklik laat voel. Waar hierdie reëls vroeër dae by die huis aangeleer is, gebeur dit vandag maar selde. Iemand moet dit weer vir ons leer.
As jy eers weet dat wat jy doen en hoe jy optree, korrek is, sal jy gemakliker voel. Dit bevorder selfvertroue en verbeter sodoende menslike verhoudings. En daar is ’n bonus: Navorsing het bewys dat dit enige mens ’n voorsprong in die lewe gee en groot geleenthede skep.
Etiket is ’n konvensionele gedragskode met reëls en voorskrifte vir hoflike en beskaafde optrede teenoor ander in die samelewing. Die woord beteken letterlik “kom die reëls na”.
Protokol behels etiket op plaaslike en internasionale vlak, en die beoefening van goeie maniere op ’n daaglikse basis. Dit is ’n belangrike komponent van die diplomatieke praktyk en hou verband met die geskiedenis, koninklikes, godsdiens, kultuur en taal.
Goeie maniere is eenvoudig bedagsaamheid wat “van binne jou” kom en deel word van ’n liefdesdaad vir jou naaste.
Etiket, daarenteen, kan enige tyd van jou lewe aangeleer word. Dit maak nie saak wie of wat jy is nie, en dit maak nie saak hoe oud jy is nie. Die aange-leerde reëls word dan deel van jou “persoonlike rykdom”. As jy eenkeer geleer het, weet jy mos en kan jy die wêreld met selfvertroue in die oë kyk!
Ons lewe in ’n veranderde wêreld: Die “groot wêreld” waarin ons ons vandag bevind, het letterlik in’n klein gemeenskapsdorpie verander, en kennis van die ou tradisies het plek gemaak vir vernuwende denke.
Die oorsprong van etiket
Die woord “étiquette” het eeue gelede in Frankryk letterlik “bly van die gras af” beteken.
Die tuinier van die Franse koning Lodewyk XIV het opgemerk dat die aristo-krate gedurig op die gras in die tuin van die Paleis van Versailles loop en het oral tekens of “etikette” laat opsit om mense van die gras af te hou. Die koning het opdrag gegee dat geen persoon verby die grense van die étiquette mag gaan nie.
Die betekenis van “étiquette” sou later heel gepas ook kaartjies na funksies insluit, sowel as lang lyste instruksies oor waar ’n persoon mag staan en wat hy/sy moet doen en nie doen nie. |
Alles word daagliks so vinnig deur die nuwe tegnologie verander dat ons as ’t ware in die kuberruimte leef. Daar is nou kitskommunikasie, kitsfoto’s, kitsnuus, kitskos … en nog ’n string allerhande ander kitsveranderinge. En tog is daar bewys dat goeie maniere en etiket ons steeds help.
Die belangrikheid van goeie maniere en etiket was trouens nog nooit meer van toepassing as nou nie. Hierdie kennis is dus onmisbaar vir die moderne mens, en veral vir die vrou, wat soveel veelsydige rolle in vandag se samelewing moet vervul – as eggenote of alleenloper, in baie gevalle as enkelouer en broodwinner, dan ook as ma, dogter, suster, ouma, tuisteskepper, sakevrou, reisiger, welsynswerker, kommunikeerder en nog stringe meer!
Vir die hedendaagse man in ’n wêreld wat soveel meer mededingend geword het, is etiket goud in die hand.
Vir die tiener en jongmens wat nog hul plekkie in die samelewing moet vestig, is kennis van etiket ook goud werd.
Hierdie boek sal vir jou ’n sinopsis en kitsnaslaanwerk word wat sal sorg dat jy altyd inligting oor goeie maniere en die korrekte etiket byderhand het – in jou persoonlike lewe en verhoudings, en as rolspeler in die nasionale en internasionale wêreld.
Protokol
Protokol het uit ou tradisies ontstaan. In die eerste dae van die beskawing het dit eintlik net bestaan uit die gasvryheid wat by die aankoms van ’n gas betoon moes word. Maar vandag is dit veral belangrik omdat dit nie net betrekking het op die seremoniële reëls wat tydens amptelike funksies nagekom moet word nie, maar ook op mense se optrede by hierdie spesiale geleenthede.
Protokol bied dus ook ’n stel gevestigde reëls oor hoflikheid en respek teenoor ander in die internasionale samelewing. |
Goeie maniere weerspieël jou karakter. Dit kom “van binne” en beteken as ’t ware goedheid of bedagsaamheid teenoor jou medemens. Onthou, selfs bedag-saam-heid kan aangeleer word. Jy kan weer leer om ander te respekteer en met deernis en goedheid te behandel. Dit alles help jou om die belangrikste lewensdoelwit te bereik, naamlik om lewenslange verhoudings, goeie verhoudings, te kweek met almal met wie jy in aanraking kom. Dit is tog waaroor die lewe gaan. Maak die lewe ’n fees!
Elke mens kan blom waar hy geplant is!
Meer as 300 jaar gelede het die filosoof Galileo die volgende stelling gemaak:
“’n Mens kan ’n ander niks leer nie, maar slegs die persoon help om dit binne homself te ontdek.”
Kom ontdek saam met my!
Anne Dreyer
Maart 2019
Reviews
There are no reviews yet.