fbpx
Afrikaanse Nie-Fiksie Uittreksels

Afrikaanse Nie-Fiksie Uittreksels

Nie-Fiksie

My verhaal lê opgesluit in my geskiedenis. Dit is verweef in elke sandkorrel, gevormde klip en die fynste veldblom van hierdie land. Van die Ooste tot die Weste, van die Suide tot die Noorde is my storie verspreid. Daar is geen area in hierdie mooie land waar jy ons nie sal vind nie. Oor majestieuse berge gekleed met wolke komberse en donker, soms verskuilde klowe is ons skaduwees gegooi. Voetspore verweef in elke era van die geskiedkundige boeke. Ons paaie nou saam gevoeg, soos ‘n vlegsel in een gesmelt hier aan die suide van Afrika.

Voor my bestaan het my voorvaders se sweet die grond benat. Verlore hand-velle die bemesting van hul gewasse terwyl hulle die land bewerk het. Son gebakte velle beskermd deur ‘n veldhoed so eie aan elke boer in ons land. Spierwit voete die enigste bewys van hul werklike velkleur. Gebrei deur wind en weer het hulle hier ‘n lewe uitgekap om die beste te doen vir hul nageslagte.

Terwyl die mans die aarde omgespit het, was die vrouens gebukkend voor die klei-oonde. Smullende warm brode en ander gebak ‘n daaglikse bedrywigheid terwyl kinders om hul enkels gespeel het; dolosse en lappoppe hul enigste speelgoed. Uitgelewer aan die natuur en barre landskap terwyl die geweer nie te vêr buite bereik gestaan het nie. Sorgsaam en getrou het hulle die vuur gestook terwyl hul mans in die veld was.

Braaivleis vure, dans op die breë stoepe en lang kuiers onder die koelte bome was die kenmerke van hierdie byeenkomste, en natuurlik eet. Die tafels het gekreun onder die gebak wat gewoonlik so ‘n paar dae voor die tyd begin het. Van opgestopte skaapboude, varkboude, gebakte hoenders, tuisgemaakte wors of pofadder en suurkos (Daar was natuurlik afval ook maar ek het seker gemaak om dit te mis – drywende oë is rerig nie vir my aptytwekkend nie. Elke denkbare groente was gekook, ingelê of geslaai, en dan die lekkernye, elke soet tand se droom, poedings, koeke en terte - klein of groot, dit het nie saak gemaak nie, daar was oorvloed. Tussenin was daar druiwe, geel perskes, waatlemoen en spanspek wat verorber was, genoeg om van naar te word. Net die blote gedagte aan daardie vragte kos laat my mond water en die heupe groei…LOL.

Vir my ouers was dit ‘n prioriteit en ons het mooi herinneringe van daardie tye. Maar daar is een of twee herinneringe gedurende hierdie tyd wat die meeste uitstaan; een daarvan was toe Kanoneiland krag gekry het vir die eerste keer.

Nou, ek weet nie van julle nie maar as kleinkind het jy nie rerig ‘n verhouding met jou ouma of oupa nie. Gesprekke tussen die twee geslagte was gehou tot die minimum: Die kinders-word-gesien-en-nie-gehoor-nie benadering. Albei my oupas is oorlede toe ek baie jonk was, so die geheue is maar yl rakende my grootvaders maar ons was geseënd om die oumas langer by ons te hê. Die rede dat hierdie een gebeurtenis uitgestaan het is die feit dat ek Ouma Baby as vrou leer ken het gedurende hierdie belangrike mylpaal in Kanoneiland se geskiedenis. Ek weet nie hoekom sy Baby genoem was nie want haar doop naam was Johanna, ek dink dit het te doen met die feit dat sy die jongste in haar gesin was - maar ek mag verkeerd wees.

Venterskroon is geleë tussen Parys en Potchefstroom binnein die Vredefort Koepel. Die Vredefort Koepel is bekend vir sy pragtige natuurskoon wat oor 300 km strek en is die grootste erfenisgebied in privaat besit in die wêreld. Die Koepel is bekend onder fietsryers, vissermanne en stappers en verleen hom as ‘n heerlike vakansieplek vir stadsjapies nie te vêr van die groot stad af nie. Om elke draai is daar ‘n interessante storie verbonde aan die murasies, verskans tussen bome en ruigtes, en het jy ‘n terugblik op die gisters vasgevang in die pleisterwerk wat plek-plek opgebreek word deur die natuur. Kronkelende grondpaaie lei na afgeleë plase, en netjiese vakansieoorde met plaasdiere en wild wat die veld geniet.

Dit is ‘n wêreld ryk aan geskiedenis – van die meteoriet wat daar geval het miljoene jare gelede tot die uitgewerkte goudmyn wat nou net ‘n vae herinnering is van die lewe in die laat 1800; die bewyse is oral te bespeur as jy jou oë oop hou.

Vir opgewekte geselskap en ‘n goeie kontrei-staaltjie kan jy ‘n draai gaan maak by die imposante kroeg in Imperial Inn vir ‘n vinnige lafenis of inboek vir ‘n lui Sondag en middagete onder die groot ou koelte boom geniet wat heerlik voorberei word deur die staatmaker spannetjie.

Hoe ookal, kosmaak is ‘n avontuur op sigself.  Ek sit soms net en lag oor die manewales. Die berge skottelgoed in my geestesoog groei met elke toeklap van ‘n kasdeur en ek sug innerlik. Hulle ken nie van briek aandraai nie.

Tussen my pa en my verloofde is daar ‘n twaalf jaar ouderdomsverskil, die twee verstaan mekaar en kuier lekker. Toe ons lewe ‘n draai maak bied my pa my ou kamer aan as blyplek. Ek moet erken dat ek gewonder het hoe dit gaan uitwerk; met ‘n beklemming om my hart. My pa is ‘set in his ways’ en Isak beslis ook. Elkeen redelik hardkoppig. Maar bo verwagting gaan dit goed.

O ja, ek moet nie van my broer vergeet nie, diè is die jongste in die huishouding, dus is die ouderdomsgaping groot tussen hom en Isak. Drie generasies in een huis en elkeen het sy eie manier van dink, maar dit daar gelaat.

Jannie is amptelik die enigste “permanently employed” in die huis en is elke dag, net na ses saans tuis. Die dag se gebeure word dan herhaal sodat hy darem ook kan weet wat aangaan. Alhoewel die twee soms lekker kan kuier is die twee afgetredenes meer dikwels in mekaar se geselskap en onthou-jy-nog-staaltjies so deel van elke dag.

Jip, julle het reg gehoor. Ek bly saam met twee afgetredenes. 77 en 65, en my broer is 43. Ek hoop iemand kry my jammer.  Nee, ek grap net, dit is darem nie so erg nie, want dit het sy voordele. Ek maak selde of ooit kos. Net die kombuis se skoonmaak word vir my gelaat, darem net soms - maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander keer. Berge en berge skottelgoed. Wel, julle kry die prentjie.

“Kan pa nog onthou jare gelede het ‘n mens…” dit is hoe dit gewoonlik begin of, “Onthou pa vir Jannie Engelbrecht…”  dan word daar in detail vertel van die drie of skop of wat ookal die geheue geprikkel het.

“Wag laat ek nou eers vir jou vertel…” is gewoonlik my pa se inleidende woorde. “Wragtig waar, dit is so…” bevestig hy sy eie storie so asof ons hom nie gaan glo nie. In een middag kan ek plekke soos Port Elizabeth of die Baai, Kanoneiland, Augrabies, Tsitsikamma, Johannesburg of Kimberley besoek sonder om die huis te verlaat. Moenie Upington, Kuruman en Keimoes uitlaat nie.

Ons bestaan word versinnebeeld in die paaie wat ons daagliks wandel; sommige paaie strek voor ons uit soos ‘n groot vet slang wie se kop weg raak op die horison - eindeloos en lui. Dan is daar paaie wat al kronkellend deur hoë bome vleg en jou uitnooi om deel te word van sy koeltes en skadus, maar indien jy nie versigtig is nie jouself misgis met die kronkels - wat soms so vinnig kom: sonder waarskuwing - dit is dan wat jy die pad maklik byster raak: verlei deur die mooi, maar daar is geen hoop aan die einde nie.

Ons kan liries raak oor ons kuslyne; ons het seker van die mooistes in die wêreld. Langs die einste kuslyne kan ons die uitgestrekte blou water massa bewonder: glimmend en golwend in Sy almag. Omsoom met wit strande wat land en see skei en reusagtige rotse wat uit die branders rys, die wind ‘n konstante metgesel wat sy eie taal praat, en die toneel dwing bewondering af. Die majestieuse berge aan die ander kant van die pad troon bo ons uit en jy kan nie genoeg kry van die verskillende rotsformasies en plantegroei nie. Soms word ons so meegesleur deur die strome van die lewe dat ons nie die verskanste gevare raak sien nie: die gety wat jou dieper meesleur tot waar jy maklik kan vergaan sonder dat jy dit besef.

Dan is daar die grondpaaie wat ons land deurkruis, wat voor ons uitstrek met die horison wat in ‘n “see” geleë is en net altyd aanskuif asof bodemloos en jy wonder wanneer gaan dit klaar kry. Geen skaduwee om jou warmte in te baai nie en geen borde wat jou rigting of bakens aandui nie. Jy het geen benul of jy wel nog op die regte pad is nie en iewers sluimer die twyfel van omdraai, van stop. Dan, skielik sien jy ‘n windpomp uitrys soos ‘n baken van hoop en jy besef jy is nie alleen nie en ‘n glimlag sprei oor jou hele gelaat en jy beur voort totdat jy beskawing bereik.

Die bestemming wink in die verte en opgewondenheid bruis deur jou are.  Soms is hierdie paaie in skadu gehul, geheimsinnig asof dit nie sy geheim met jou wil deel nie. Ander kere glinster dit helder voor jou uit maar gee geen aanduiding van die bestemming nie - geheimsinnig, winkend, al kronkelend verdwyn dit oor die volgende koppie of rante. Op een stadium was ons bo op die Baviaansberge en moes ek weer uitspring om ‘n hek of twee oop te maak en die verlatenheid was sprekend, tasbaar maar tog gevul met ‘n eiesoortige heimweë. Miskien na ‘n wêreld van weleer of miskien sommer net na die stiltes van die natuur. Is ek die enigste een wat dit so ervaar?

‘n Mens kan dit selfs ‘n stap verder vat. Behalwe vir die fisiese is daar ‘n figuurlike betekenis tot die oopmaak. Die oopmaak van jouself veroorsaak dat jy beter sien. Dit bring nuwe lewe asook ‘n verwagting vir die onbekende. Wanneer ons daardie hek oopmaak gebeur daar iets in ons en nuwe lewe bruis deur ons. Dit is dan wanneer ons weer gefokus raak en opnuut ons talente raaksien, onsself leer ken en sommer net weer mens word. ‘n Mens met ‘n doel.

Ons elkeen ontvang die lewe as ‘n geskenk. Reg in die begin van bevrugting het jy die drang om te leef. Dit is diep in ons gene gewortel en kan net deur dood geblus word.

Die oop graf, veral die van ‘n ouer, lig dit des te meer uit. Dit is dan wanneer jou eie kwesbaarheid onder die vergrootglas kom en jy weerloos gelaat word. Alleenheid kom nie eers naby die gevoel wat jy dan ervaar nie. Dit meng met elke sel in jou wese en jy voel verwyderd van die alledaagse bestaan.

Die belangrikheid van ‘n moeder kom skerp na vore in haar heengaan. Jy waardeer haar dan eers, lank nadat sy haar laaste asem uitgeblaas het. Daar is niemand wat soveel omgee vir jou soos jou ma nie. Haar liefde en onbaatsugtigheid plaas haar op ‘n hoër platform as enige ander mens. Soos ‘n pilaar staan sy, sterk en onwrikbaar in jou lewe. Sy koester en beskerm jou. Sy leer jou van die lewe en gee jou liefde wanneer die lewe jou ‘n wang draai. Sy is as te ware jou buffer teen die koue aanslae daarbuite.

Wanneer sy weg is, voel jy alleen, kwesbaar en verwyder van alles om jou. Maak nie saak hoe besig jy is nie jou hart bly verlang en sit vas soos klitsgras. Daar, in jou binneste, waar jy introspeksie doen in stilte. Als om jou verloor hul glans en betekenis. Jou ervaring van die lewe verander.

My verhouding met my kinders het die jaar sodanig verbeter dat ek met opregtheid kan sê dit is wel met my siel. Sonder hulle liefde, aanvaarding en bystand sou dit nie moontlik gewees het om weer my voete te vind nie. Kinders maak ons heel - selfs die kleinseuns se kleine handjies is genesing vir die moeë siel. Nathan se woorde het my nou die dag, tydens ‘n kuier, diep getref: “Ek is so bly ouma het nie Kaap toe gegaan nie.” Meer daaroor in ‘n volgende aflewering maar ek het net weereens besef hoe my besluite selfs hom geraak het. Dit is daardie woorde wat dan soos ‘n lieflike geur om my hals hang en ek weet ek is geliefd ongeag die modder waarin ek my bevind het. Miskien klink dit narsisties vir sommige maar my gemoedtoestand was so stukkend en rou dat sulke klein gebare vir my die wêreld beteken.

Alhoewel die huwelik in die slag gebly het sal die goue klontjies van wysheid en die mooi herinneringe daarvan iets wees wat ek sal vertroetel in my hartkamers en die swaar tye, die tye wat my met insig gevul het, my verder lei soos ek die lewe verder aanpak. Elke nuwe tree wat ek gee vul my met groter dankbaarheid vir dit wat tans gebeur.

Ek voel voorwaar soos die spreekwoordelike verlore seun wat in die varkhok tot die besef gekom het dat sonder Hom dit ‘n koue plek is. Weer het ek terug gekom na ‘n Vader wat met ope arms my ingewag het: Sy liefde onverandered en Sy rus balsem vir ‘n moeë gees.

Sy genade is vir my genoeg!

Die ander vrou is skielik iemand, met ‘n naam. Alhoewel jy haar nog nooit ontmoet het nie, is sy ‘n permanente deel van jou lewe. As nuweling word jy vergelyk, beoordeel en bespreek deur vriende en familie. Ongeag hoe hard jy probeer, jy kan haar nie ignoreer nie. Deels omdat sy gedurigdeur opkom in gesprekke veral as julle in dieselfde kringe beweeg of indien daar kinders en kleinkinders betrokke is.

Met sosiale media is dit selfs makliker om van die ander vrou te wete te kom en op haar te volg aka spioeneer. Wie het dit nie al gedoen nie? Ons gebruik verskeie redes om onsself te regverdig maar feit bly staan, ons wil meer weet oor die vrou wat die man in jou lewe gedeel het of deel. Dit hang af aan watter kant jy staan.

Ek onthou in my gewese huwelik het ons verhouding ook maar pas begin en het ons saam na ‘n kerkkamp gegaan. Die Sondagoggend moes hy gou ‘n draai loop en sê ek moet solank gaan sit. By ons sitplek het sy Bybel op die vloer gelê waar ek dit op getel het. Daar, voor my voete val toe ‘n foto uit van sy vorige meisie. ‘n Duisend vrae het deur my gegaan in ‘n bestek van sekondes. Agterna het hy my verseker dat die verhouding verby is. Ek het hom geglo. Ons is getroud. Met verloop van tyd het sy elke keer, op die mees onverwagse oomblikke, na vore gekom. Jy sien, sy familie kon haar nie vergeet nie, en het by tye ook kontak met haar gehad. Elke keer het hy my verseker dat sy iets van die verlede is. Maar sy het bly opduik wat wel sy stremming geplaas het. Toe ons huwelik op die rotse loop was sy skielik weer terug. Sommer netso, na 30 jaar van geen kommunikasie. (Ek wil ook nou nie enige wyshede hoor nie… Los dit daar.)

Laat lente is net voor somer. Die rypwordingstyd van plante wat hul kleur uitstoot. Tot daardie wonder wanneer hul in volle blom hul kleur en geur ten toon sal stel. 'n Heugelike gebeurtenis wat so onder ons neuse gebeur. Dit kruip al nader, omhul jou gemoed en word deel van ons – sonder moeite.

Laat lente het sy eie unieke klanke; gevul met die gezoem van bye. Die fladder van opgewonde vinke om die voëlbak. Van die mossies wat hulself met borrelende gespartel bad. Al spelende tot hulle blink. Die wind wat baljaar deur jong blare. Die geur van bloeisels uitgestal in kleure van wit, pienk en rooi; in elke skakering. Gun wonder Salomo het genoem dat ons na die natuur moet kyk nie. Niks kom by die skouspel daarvan nie. Ons lug gevul met geure van skoon grond na dit omgeploeg is; afwagtend op saad. Die sprankelende lus vir die lewe soos ‘n elektriese stroom wat gedurig suis; sonder ophou.

Ja, die natuur is in afwagting. 'n Swanger afwagting vir nuwe lewe. Soos ‘n vrou wat reg maak vir die geboorte van haar kind so maak die aarde hom reg vir nuwe vrug. Al jubelend en juigende – ‘n kakofonie van klanke gevul met kosbare sap.

Radio program

Vandag se program handel oor jou verhouding met jou kinders, hoe benader jy hulle as enkelouer? Daar is nie meer ‘n ons in jou woordeskat nie, so jou benadering gaan moet aangepas word. Aksies en optredes wat jy as vanselfsprekend in jou huwelik ervaar het is nou verwarrend en in sommige gevalle amper taboe. Waar jy voorheen sou gesê het “gaan vra jou pa,” is die pa nie daar om jou uit te help nie en moet jy nou die besluite neem. Jy kan ook nie elke keer op die foon klim om hom opdrag te gee om met die kind te praat nie. Dit mag wees dat hy alreeds in ‘n ander verhouding is en die vrou duld nie jou ontydige opdragte aan haar maat nie wat meer spanning kan veroorsaak. Of dat hy net nie beskikbaar is nie en wanneer jy eis om te weet waar hy is veroorsaak dit in ‘n geveg en die eintlike rede is dan verlore. Onthou, hy skuld jou geen verduideliking nie. Dit is in hierdie tye dat jy jou kinders se respek verloor en jy ook beheer verloor in die algemeen.

Die hele kommunikasie dinamieka verander. Waar julle ‘n familie van vier of vyf was is julle nou net drie of vier. Voorheen was dit maklik om verantwoordelikhede rond te skuif soos wat dit die situasie gepas het nou is dit net jy en jy alleen. Dit kan nogal senutergend wees. In ‘n groot mate kan jy verslae en verlore voel, selfs oorweldig. Maar jou wegkruip dae is verby. Jy is nou die een wat die pas moet aangee, die leisels moet opneem en vooruit moet loop. Jy staan alleen, met niemand om jou te rugsteun oor hierdie veranderinge of besluite wat jy moet neem nie. 

In baie gevalle sal kinders dan rebelleer bloot net omdat hulle nie verstaan nie, en, of die ander ouer mis. Of omdat hulle al die aandag soek om hul eie onsekerhede hok te slaan. Dit veroorsaak sy eie unieke probleme waarop ‘n enkelma moet bedag wees. Indien dit nie reg hanteer word nie kan jou lewe oornag in ‘n nagmerrie verander.

Die afgelope paar maande het ek gesels oor enkellopendskap en hoe om dit te hanteer. Hoekom en waarom jy in jouself moet belê en te glo dat jy waardevol is. Jy moet besef dat hierdie nie die einde van die pad is nie maar juis die begin. Ek hoop dat julle daarby baat kon vind en dat ek op my beskeie manier iets kon oordra aan jou wat op hierdie enkelpad is. Als wat ek hier deel is wat ek ervaar het, my skruikelblokke en foute in die hoop dat jy hierdie tydperk beter keuses sal maak en rerig weer glo in jouself.

Maar nou wil ek ‘n bietjie stoute skoene aantrek en tyd spandeer aan die meer praktiese dinge. Die praktiese dinge mag dalk vir sommige nie aanvaarbaar wees nie maar dit is belangrik dat dit wel aangeraak word. Daar is te veel verhoudings en huwelike wat tot niet gaan omdat ons hierdie onderwerp vermy of systap. Mense glo om soos ‘n volstruis, jou kop in ‘n gat te druk, dat die probleem sal weggaan, wat ‘n mite is. Dit is juis ons stilstwye wat veroorsaak dat die probleem groter word. Ons as mens is geskape om te voel en te ervaar met hart en siel – nie net ons liggaam nie. Alles loop saam om ons volkome mens te maak. Nie een van ons het net sekere dele gekry nie. En ander verskillende dele nie. Ons het almal dieselfde mate gekry, man en vrou. Dit is ons benadering wat dit wel misvorm en lelik maak, wat die probleme veroorsaak.

Ek wil my die reg toeëien deur te sê: Deur alles om ons te vergeestelik verloor ons in baie gevalle ons senualiteit. Ons dink as ons christelik optree of dit ignoreer, sal die drange waarmee ons gebore is, verdwyn. Maar dit is juis ons stilswye wat dit vererger. Hierdie aspek is onlosmaaklik deel van ons menswees.

‘n Man se stryd word soms oorgeslaan in die egskeiding of opbreek tyd. Ons vergeet dat hulle ook ly en dat hulle manier van doen grotendeels beinvloed word deur die gebeurtenis se impak op hul gestel. Daarom het ek dit goed gedink om op hulle te fokus vandag.

 

Op elke gebied word ‘n mens gelouter in hierdie pad. Vrouens hanteer dit anders omdat hulle meer in voeling is met hul emosies en vinniger uitreik. Mans hanteer dit stilweg, broeiend. Vrouens se uitkyk verander oor verhoudings. Wanneer ‘n vrou weer asem kry wil sy erkenning hê. As sy ‘n man gehad het wat haar voorheen versmoor het wil sy ruimte hê om haar eie ding te doen. As ‘n vorige maat ‘n huishen was wil sy nou iemand hê wat uitgaan en die lewe geniet. Sy is dalk nou ‘n werkende vrou en haar tyd is beperk of haar belangstellings is wyer verspreid.

Hoe ook al sy, ‘n man verander ook, sy verwagtings verskuil agter traak-my-nie-agtige houding en gaan hy met ‘n ander gesindheid in ‘n volgende verhouding in. Hy kom dalk koud en afsydig voort vir sommige vroue – maar dit is als deel van die beskermings meganisme. Sy verwagtings verander ook en hy kan in baie gevalle langer enkel bly vir finansieël redes wat veroorsaak dat hy stagneer.

Brandstof vir die siel.

Wat bou jou op, laat jou voortbeweeg. Wat maak jou opgewonde?

Ek spring sommer weg met ‘n paar moeilike vrae. Vir sommiges mag dit dalk maklik wees maar vir die meeste luisteraars is dit vrae wat hulle mee sukkel, selfs tot diep in hul veertigs of vyftigs.

Veral nou dat jy op ‘n nuwe pad is kom hierdie vrae weer skerp onder die soeklig en wonder jy wat is jou doel. Waarom is jy hier?

Vroeër of later word ons almal met dit gekronfronteer. Sommiges kan kies om werklik antwoorde te gaan soek soos die jongman, Tal Gur van Israel. Ek het al ‘n paar keer uit sy boek, The art of living voorgelees. Hy het letterlik vir homself doelwitte gestel wat hy dan na ‘n sekere tyd bereik het. Vandag is die man ‘n motiveringspreker wat duisende mense inspireer deur dit wat hy geleer het. Ek het al van Sunitkia gepraat wat vanuit haar ellende opgestaan het en daadwerklik ‘n verskil gemaak in haar gemeenskap. Die lys is eindeloos.

Ek is seker julle het ook al sulke stories gehoor wat julle heel moontlik geinspireer het, maar julle weet nie waar om te begin nie. Ek self was deur Janine Shapiro se man in ‘n hoek gesit toe hy die vraag, wanneer laas het jy gedroom, aan my gestel het. Dit is waar ek geleer het van droomborde.

Ek was bewus daarvan dat ‘n mens verskillende visuliaserings borde kry, veral kuns studente moet dit gereeld maak. Maar ‘n droombord, nee, ek was totaal onkundig daaroor. Toe volg ek hul raad en kort voor lank het die bord op my rekenaarskerm vorm aangeneem.

Is die nommer ‘n probleem?

As enkellopende vrou is die keuse boksie nie so baie soos voorheen nie. Jy self is nou ook nie meer ‘n jong bokkie nie – wel dit hang natuurlik af wie na jou kyk, nê.

As tiener kon jy kus en keur tussen skool- en studentmanne wat daaglikse jou pad gekruis het. Nou ontmoet jy selde iemand van jou ouderdom, en die wat jy ontmoet is of onbereikbaar of net nie volgens jou standaarde nie. Of het soveel ‘baggage’ dat jy nie wil betrokke raak nie. Jy wonder dan waar is al die hubare manne. Jy begin rond kyk; en bevind jouself skielik in ‘n terrein van ouderdomverskille. Of jy is veel ouer as die interessante manne of die man is veel ouer as jy.

‘n Paar punte vir oorweging:

Wanneer die man ouer is as jy, kyk na sy voorkoms, is hy darem netjies op hom self? Die hare is dalk yl maar hy is nog aantreklik, of wat van daardie boepie? Is dit dinge wat jou sal afskrik of aantrek?

Is hy ‘n roker of / en drinker? Hou hy matigheid voor oë of raak hy heeltemal katools dronk en vergeet sy maniere by die agterdeur?

Hoe behandel hy jou wanneer julle in die openbaar is? Dit is gewoonlik ‘n baie goeie maatstaf of dinge sal uitwerk, of nie.

Die volgende ding wat jou oog ook trek is stokperdjies. Wat geniet hy om te doen? Of is die mees interresante ding in sy lewe dit wat is op die volgende kanaal op TV is? Is hy lief om uit te gaan, en ek bedoel nie shopping nie, hoor. Indien jy lief is vir lees, hoe voel hy daaroor? Gee hy jou ruimte om dit te doen, of nog beter lees hy saam met jou? Vir my is dit nogal ‘n belangrike punt want ek is alewig met my neus in ‘n boek.

Ek hou van die Marvel karakters, spesifiek die verskillende lede van Avengers. Ek het natuurlik my voorkeure soos Thor, Iron Man, Pepper Pots - alhoewel sy nie ‘n fisiese Avenger karakter is nie is sy tog deel van die storie en staan sterk in haar ondersteuningsrol. Captain America is ook ‘n gunsteling maar Wonder Woman is beslis die karakter wat my die meeste aantrek. Haar lewe staan vir iets meer as net ‘n vrou met bonatuurlike kragte. Die vrou, Gal Gadot, wat die rol speel is self ook merkwaardig afgesien van haar uiterlike skoonheid.

Wonder Woman straal ‘n selfvertroue uit wat sy net kon kry deur opleiding en die wete wie sy is. Tog kom sy ook nederig voor selfs by tye naïef. ‘n Ander belangrike faktor uit haar lewe is dat sy besef het om die wêreld te verander moet sy ook verander. Jy mag een feit glo maar realiteit vervang dit met ‘n groter waarheid. Dit is daardie waarheid wat jou dan vorm en in jou doel in vat.

Ons het oor die naweek weer na die fliek gekyk en ek het ‘n hele paar dinge raak gesien wat ek voorheen gemis het. Haar opleiding as klein dogtertjie, tiener en jong vrou het vir my die meeste uitgestaan die keer. Haar innerlike gemoedskwellinge was ook ‘n groot faktor. In die eerste plek het sy geglo dat dit wat sy geleer het tydens haar opleiding reg was. Maar hier op aarde, gekonfronteer met die daaglikse probleme moes sy haar innerlike oortuigings vervang en toepas om werklik ‘n verskil te maak. Niks is ooit in klip geskryf nie daarom kan dit verander word.

Vir 30 jaar het ek sekere goed geglo, en dit toegepas. Dit het my hard en ongenaakbaar laat voorkom. Maar toe, agv veranderinge in my persoonlike lewe, verander my uitkyk. Ek kyk met meer meegevoel na ‘n situasie, juis agv die pad wat ek gewandel het. Net so met Wonder Woman. Dit is ‘n paridigma skuif in jou kop as te ware. Dit kos gewoonlik intense sielsveranderinge om dit te weeg te bring.

Afrikaanse Nie-Fiksie Uittreksels

Afrikaanse Uittreksels

Kliek – en nog ‘n terugflits so duidelik soos die vorige.

Kliek – wens jy was hier.

Kliek – vergeet van hom. Hy het.

Kliek - Soos kortstondige flitse spoed ons verhouding voor my verby.

Elke keer dat dat ek my ooglede knip, is daar nog ʼn herinnering; nog ʼn grepie van ons saamwees kristal helder in my gedagtes. Hoekom het ons nooit foto’s van ons geneem nie? Dit is ‘n vraag wat ek myself baie afvra.

Daar is niks tasbaar van ons kortstondige verhouding nie, maar tog speel die tonele gedurigdeur in my geestesoog af dat ek nie anders kan as om in afwagting my oë oop te maak met die hoop om hom daar te kry nie.

Sy peinsende oë priemend op my ingestel; sy glimlag wat my knieë lam gemaak het en my hart gesmelt het. Gevolg deur die ondeunde laggie wanneer hy in ʼn stoute bui was.

Die manier wat hy sou vra: “Is dit nog nie tyd vir ʼn bier nie?”

Twee weke vantevore was sy en ouma aangenaam verras met die nuwe buurman wat ingetrek het. Die huis was al ‘n geruime tyd leeg. Die eienaars het min omgegee vir die plek en verwaarlosing het ingetree. Leeglêers was gereeld rondom die plek gewaar, wat vir hulle ‘n bekommernis was. Ouma was knaend by die polisie oor die situasie maar hulle het net hul skouers opgetrek. Nou dat hy daar is kon hulle ontspan. Twee dae het verby gegaan voor hulle die man gesien het.

Gekleed in ‘n netjies swartbroek en glad gestrykte wit hemp was hulle baie nuuskierig oor die man. Sy kop het gespog met ‘n dik bos grys hare.  Die enigste keer wat Santie hom sonder ‘n hoed gesien het. Lanklaas het sy ‘n ouer man met so ‘n goeie houding gesien. Dit was iets om te waardeer.

Een middag het Santie haar ouma betrap waar sy by die voorkamer venster gestaan het. Die gordyn was versigtig weg getrek en ‘n droomverlore kyk was duidelik sigbaar op haar gelaat. Oupa is al vyf jaar gelede oorlede en ouma was alleen. Omdat Santie permanent by haar ouma woon het sy geweet hoe vereensaam sy was, so sy het die nuwe verwikkeling verwelkom.

Jy wonder seker waarheen gaan ek met dit alles en of diè gedagtegang ‘n punt het. Miskien het dit, miskien nie, ons sal maar saam hierdeur moet worstel om by die antwoord te kom. Al wat ek weet is dat ek lief is vir die man. Ek waag ‘n kans, hoe klein ookal, ‘n draadjie van hoop tot aan die bitter einde.

Dit is my normale gedagtegang die afgelope tyd: ek praat myself moed in wanneer die geduld min raak en die verlange alles oorheersend word. ‘n Tyd van afsondering waar ek niemand inlaat in die kamers van my hart nie. My gedagtes altyd by hom, gevul met hom.

Afwagtend. Hopend.

“Trieng, trieng!” word my gedagteloop onderbreek deur die klanke van my Android. ‘n Irriterende deuntjie wat ek dreig om te verander maar net nooit doen nie. Vies kyk ek na die caller ID maar dit dui ‘n ‘Unknown’ nommer en sonder om twee keer te dink trek ek ‘n streep daardeur asof ek dit wil uitwis.

Waar was ek…o ja.

Ek het vergeet hoe seer onbeantwoorde liefde kan maak. Ek het vergeet van al die fases waardeur ‘n mens gaan wanneer jy met ‘n stukkende hart sukkel. As ‘n volwasse persoon is dit nie so maklik soos toe ons jonk was nie. Tweede geleenthede is nie iets waarop jy hoop nie. Nie met hartsake nie. Ek wil glo dat ek nie net ‘n stastistieke syfer is nie maar ‘n vrou van vlees wie se hart tog die antwoorde sal kry waarna dit smag voor my uurglas leeg loop.

“Trieng, trieng…!” Ai, wie kan dit wees? Ek staar na die foon: die bron van my frustasie. Die aanhoudende gelui van die emosielose klanke doen niks vir my beswaarde gemoed nie. Inteendeel dit vul my negatiewe gedagtes nog verder sodat ek vies oor die ding vee en met ‘n sug antwoord: “Louise wat praat.”

Later, na ‘n warm bad en skoon klere vanuit Leonie se kas het Netta by haar huis ingestap. Neels, Leonie se man, was so gaaf om die karwiel om te ruil terwyl hulle binne was.

Leonie het haar dadelik in ‘n warm bad met die heerlikste borrels gesit waar sy vir ‘n paar minute net weer vrou kon word. Leonie is ‘n gelukkige vrou. Hoekom kon Frank nie ook so goed vir haar gesorg het nie?

“Mamma?” roep Nate haar terug uit haar morbiede gedagtes.

“Ja Nate?”

“Mamma, Jack het my genooi na sy verjaarsdag partytjie môre, kan ek gaan, asseblief, ma?” Haar skouers sak. Nog ‘n uitgawe. Sy is al so moeg om nee te sê. Nege jarige groen ogies staar haar opgewonde aan en sy sluk verbouereerd. “Ek weet nie Nate. Mamma kan nie nou ‘n geskenk koop nie.”

“Mamma hoef nie te worry nie, ek sal een van my onoopgemaakte karretjies vir hom gee. Ek het nie so baie karretjies nodig nie.”

“Ai my kind,” en trane stroom opnuut weer oor haar wange.

“Here, dankie vir ‘n kind wat verstaan,” prewel sy saggies as sy deur die donkerkop vryf. Haar hart stukkend. Hulle het so lank vir hom gewag. Tien jaar van hul getroude lewe was op hul knieë deurgebring. Haar beker van geluk het oorgeloop toe sy uiteindelik swanger geword het. Toe, agt jaar later vertel Frank hy het iemand anders gevind. Diè kind, het sy uitgevind is al 12. Hy het haar twaalf jaar lank verkul terwyl sy alles in haar vermoë gedoen het om vir hom ‘n kind te gee. Selfs toe sy dit gegee het was dit nie goed genoeg nie. Bitter draai sy weg.

Kos maak tyd lê soos ‘n berg voor haar.

“Jy is dinamies, Marieta Mulder.” Verspot gee sy ‘n kniebuiging aan haarself en lag vrolik. Sy kyk dan na die horlosie teen die muur en besef dat dit tyd is om te gaan. Sy tel haar swart leer-aktetas op – ‘n geskenk van haar ouers toe sy die toelatingseksamen tot die Balie geslaag het.  Maak seker sy het alles en stap by die voordeur uit. Met ‘n defnitiewe klik sluit die deur agter haar. Vir Marieta is dit die mooiste klank. Die deur simboliseer haar onafhanklikheid asook haar nuwe lewe. Sy het al die negatiewe gebeuretenisse agter gelaat en bewys sy kan dit doen. Sy moes baie brûe oorbrug om tot hier te kom. Die feit dat sy op pad is na die grootste Prokureurs firma in die stad, vir haar laaste onderhoud is ‘n groot oorwinning. Sy het gedroom van hierdie dag vandat sy 18 jaar oud was. Dit het haar 30 jaar gevat, maar sy het dit gemaak. Sy is op die regte plek.

Marieta stap na haar geparkeerde motor onder die afdak in die kompleks, een van die gegoede buurte in Pretoria. Met ‘n vinnige druk van die knoppie ontsluit sy die kattebak en plaas haar aktetas binne en druk die bak toe. Elke stap vat haar nader na haar toekoms en opgewondenheid bruis deur haar. Sy voel lig en vry en sy glimlag vir haar weerkaatsing in die motorvenster.

‘n Vinnige kyk na agter ry sy agteruit. Vir oulaas kyk sy na haar beeld in die truspieëltjie. Die vrou wat terug kyk is professioneel. Elke haar op sy plek. Met ‘n rustige verandering van ratte volg sy die geplaveide pad na die hoofhek toe. Sy word vriendelik gegroet deur die dag sekuriteit en trek haar kaart deur die kontrole paneel. Die hek swaai geruisloos oop en sy ry stadig vorentoe.

Gister se byvoeging was ‘n groen padda wat op die toilet sit en boek lees. Mamma het gedink dit sal perfek op die boekrak lyk en oupa het net onderlangs gebrom. “’n Mens sou dink die vrou het nou al genoeg van die slymerige goed, maar nee, hier is weer een, net so verspot soos die res.” Sy kon nie help om te lag nie en haar ma het hom net geïgnoreer. “Gun haar, haar plesiertjie,” sê oupa Jan gereeld. Wanneer hy kom kuier. Maar oupa Hans het geen geduld met die goed nie. Skuif dit gereeld rond, vernaamlik wanneer ma naby is… dit jaag haar die harnas in. Ma se waardevolste besitting is die padda-teestel, kompleet met ‘n teepot, die tuit lyk kompleet soos die bek van ‘n padda en sy ril – sy hou nie daarvan nie. Oupa maak gereeld vir hom koffie in die koppie, sonder ma se medewete.  Dit is haar en Oupa se geheim.

Anna fokus weer op haar doel. Paddas gaan haar nie nou help nie. Die taak moet Maandag in wees en sy het inligting nodig om die taak te voltooi. Hopelik is daar ‘n boek wat dit aan haar kan verduidelik. Een wat nie hoogdrawende woorde bevat nie. Haar Oupa glo nie aan die wêreldwye web nie. Hy sê dit is net ‘n onnodige euwel en verkwisting van sy geld. Hulle het al hoeveel keer daaroor gestry, maar hy hou voet by stuk.

“Pa het die gewoonte gehad om Sondae middae te dut. Klokslag. Ons kon ons horlosies maar stel… nie dat ons gehad het nie… maar jy verstaan wat ek bedoel.” En Anna knik haar kop. Oupa is ook so. Klokslag. En sy lag saam. “My pa was baie lief vir sy pyp ook, en die ding was nooit te ver van sy soekende hande af nie. So gebeur dit dat pa op die bepaalde Sondagmiddag weer gaan slaap met die pyp in sy broeksak vergete. Die Sondagmiddag stilte het net begin neerdaal toe ons ‘n skreeu hoor. Onaards en vreesaanjaend. Ek was soos blits by pa se bed, nie seker wat om te verwag nie… maar wat ek gesien het, het ek beslis nie verwag nie.” Oupa skater dit nou behoorlik uit, so asof hy dit weer beleef en Antjie lag saam, nie vir die storie nie maar vir oupa.

“Ai my kind, dit was nou ‘n sien wat nie ontsien kan worre nie…,” en hy proes toe Anna hom verstom aankyk, geen benul wat hy nou eintlik probeer sê nie. Almal lag gewoonlik saam hier maar Anna kon die deel nog nooit verstaan nie en bly maar stil. “Jy sien, toe ek in die kamer kom het my pa, jou grootjie, se broek op die vloer gelê. Die pyp het hom gebrand en agterna het ons uitgevind hy het gedroom van ‘n slang. Toe hy die slang probeer klap toe…” oupa bly skielik stil en bloos bloedrooi.

“Hulle was so vinnig op ons dat ons net in geskokte stilte kon toekyk hoe Pa op die mat neergeplof het, sy kop was in twee gesplit; sy growwe hande pers geskuur teen die bindings. Pa het hard probeer om sy familie te red maar dit het ons niks gebaat nie. Hulle het geen genade betoon aan hom in die meëdoenlose afbreek van sy liggaam nie: die oopkloof van sy skedel was eintlik ‘n genade hou wat ek verwelkom het op daardie oomblik. Ma het nog probeer smeek, maar ons kon net hulpeloos toekyk hoe hulle pa Dries verander het van ‘n forse boer tot ‘n voosgeslane pulp van menswees. Daar was niks heel aan hom nie. Sy bloed het vryelik gevloei oral in die vertrek. Ek het later verstaan dat die hele huis in ons bloed geverf was.” Herman sluk aan die knop in sy keel, en laat sak sy bruin kykers vir ‘n wyle. Nou, na al die jare, is die gebeure van daardie dag nog steeds vars in sy geheue.  Hy kug en gaan dan voort met die vertelling wat internasionaal opslae maak.

“Daardie beeld sal my altyd by bly. Die finale slagting het ons aldrie uit ons verslae toestand geruk en Lisa het hard probeer om by Pa uit te kom maar die booswigte het haar vasgeklem en terug gehou. Ons angsgille het onbeheersd en aaklig deur die lug geklief. Vrees het ons sinne beroof. Ma het nog probeer, vir oulaas, haar hande opgelig in ‘n stop teken maar dit was alreeds te laat. Pa was dood.

Historiese Roman

Die Oosgrens se skilderagtige natuurskoon het skuiling gebied aan verskeie roofdiere waarvan die tweevoetige soort die wreedste is. Hulle kon net nie hul waaksaamheid verslap nie en was slaap ʼn luukse. Haar lyf was nie meer die lang togte gewoond nie en sy het dit deeglik gevoel.

 Bo-op die kop het sy die plaashuis beskou met hernude krag. Die plaas het soos ʼn oase hulle nadergewink en die laaste paar myl is haastig afgelê. Selfs die osse was haastig om die groenigheid en koelte te bereik.

Toe hulle die werf inkom, lei die drywer die osse behendig onder die koelte van die bome in. Dit al klaar is ʼn hemelse gevoel. Die osse se vrolike gebulk en gemaal vul die lug en hulle skop behoorlik stof op wat neerdaal in ʼn swierige warrelwind voor dit tot ruste kom op mens en dier.

Bly om uiteindelik ʼn bekende gesig te sien, bondel Celeste haar romp om haar enkels en spring af, haar gehawende velskoene duidelik sigbaar.

"Welkom op Môregloed, liewe nig." Met stram bene kom Celeste op die grond te lande en probeer haar moeë spiere strek. Kans vir strek is egter min soos wat sy in ʼn liefderike druk vasgepen word. Die reuk van varsgebakte brood wat aan Fleur hang laat haar onmiddellik ontspan. Met ʼn klapsoen word sy nader getrek en Celeste lag verleë.

"Dankie Fleur, hoe gaan dit met julle?"

"Goed, goed. Kom in, jy moet uitgeput wees. Die koffie is hoeka al gereed." En saam swaai hulle in die rigting van die huis.

Daar is min vrouens wat daarop kan roem dat hulle nog ʼn maagd is na twee jaar se huwelik, iets waaroor sy baie dankbaar is. Sy aanraking was nie liefdevol en sag nie. Die vuis en tong se hale het haar onskuld vertrap. Dit het haar van haar onskuld ontneem, haar lyf ʼn ope kaart van sy geweld. Haar vel weerspieël die lang, uitmergelende tye op die landerye.

Ten spyte van die hitte is sy dankbaar vir die klere wat elke duim van haar bedek; haar skuiling teen die nuuskierigheid en ʼn skans teen haar opmerksame niggie se vraende oë. Van die oomblik wat sy daar aangekom het, het Fleur se deurdringende kykers haar met medelye betrag. Dit was simpatie wat sy nie wou hê nie, dit sal haar sag maak. Sy moet opstaan en simpatie gaan dit nie doen nie. Sy het lank genoeg weggekruip agter haar vernedering.

Daardie vernedering was vererger deur sy openlike keuses. Sy was die slaaf in die huis. Alhoewel sy wettig sy vrou was, was sy gelyk aan die werkers op die plaas. Haar taak was vermoeilik deur die langdurige blootstelling van mishandeling deur sy houvrou.

Om te ontvlug het sy meer tyd op die lande deurgebring waar die volk haar alles geleer het omtrent die boerdery. Hulle was haar familie en sy het vir hulle gesorg soos ʼn moeder vir haar kinders. Op die dag van sy dood het sy die brief aan Fleur gestuur en binne ʼn week het sy die antwoord gekry om te kom. Daardie selfde dag was haar paar besittings gepak en die osse gespan.

As ʼn laaste afskeidsgroet het sy die plaashuis aan die brand gesteek. Alles wat aan Darius behoort het, is verbrand. Vuur was haar vertroosting en genesing. Abe en Isaac het aangedring om saam met haar te kom en onwillekeurig het sy ingestem, iets waaroor sy eintlik baie bly was. Hulle bystand het gehelp op die lang roete.

"Hallo, Robert, ek is net so bly om jou te ontmoet," antwoord sy glimlaggend. Sy kniel langs die twee en gee Robert ʼn stywe drukkie. Nico staan terug en staar haar oopmond aan. Celeste besluit om hom eerste te groet. "Hallo, Nico, aangename kennis, Monsieur." Skamerig druk hy homself agter sy broer in sonder enige woord of glimlag. Celeste kan nie help om dadelik van die twee te hou nie. Intense blou oë staar na haar vanuit hul sproetgesiggies.

"Hoe oud is jy, Robert?"

"Ek esth vyfth en my broer esth drieth," lispel hy kordaat en onmiddellik steek klein Nico drie vingers in die lug.

"Hy praath ni met vreemdelinge ni," verduidelik Robert skamerig.

"Robert, jou maniere," onderbreek Fleur hulle, maar Celeste skerm gou.

"Wel, môreoggend sal ek nie meer ʼn vreemdeling wees nie. Sal julle my wil help om gemmerkoekmannetjies te bak as dit reg is met Mamma?"

"Kan onse mummie, kan onse ssebliefth?" vra albei gelyktydig en kyk na hul ma met verlangende ogies.

"Natuurlik kan julle, Chéri, maar nou is dit tyd vir julle bad. Kom seuns." Fleur vryf haar rug terwyl sy uitstap, stop by die deur en draai dan weer om. "Ek is nou weer terug, maak jouself tuis. Die koffie is reg, jy kan net ingooi. Dit is heerlik koel buite, sien jou nou weer."

"Daar is nie sulke luukshede hier op die grens nie. Ons het ʼn swart vrou wat nie te vêr van hier af bly nie. Liza was by tydens albei die seuns se bevallings. Ek het baie vertroue in haar. As ʼn sametrekking begin, sal Anna haar gaan haal."

"Ek kan ook help, my pa het my goed opgelei. Ek het al twee babas alleen die wêreld ingebring."

"Chéri, dit is fantastiese nuus!" Fleur omhels haar spontaan. "Sodra vroue hiervan uitvind, gaan hulle jou besig hou." Fleur lag ʼn sorgvrye en speelse lag. Celeste se gemoed styg met nog ʼn aks. Uiteindelik kan sy van nut wees.

"Ek kan saam met jou gaan en sorg dat jy gemaklik is voordat ek ook gaan inkruip."

"Tot dusver kom ek reg, maar as ek jou nodig kry sal ek jou roep."

"Dit is goed."

"Goeie nag, Celeste, Chéri."

"Goeie nag, liewe Fleur."

Met ʼn steun staan Fleur op en verdwyn die huis in, skoene in die hand.

Toe Celeste uiteindelik alleen is, ontspan sy heeltemal. Die soel aandlug se ligte briesie dans oor haar vel. Instinktief maak sy haar bolla los en laat die bries deur haar hare speel. Met haar kop agteroor weet sy niemand sal die ongewenste trane sien nie. Die hele aand was ʼn oorweldigende ervaring vir ʼn seer siel. Dit versterk net opnuut hoe alleen sy werklik is en dit verhoog die drang om te kan behoort. In een kort dag is sy opgeneem in ʼn liefdevolle huis, maar dit is nog steeds nie haar eie nie.

"Montre-moi ton chemin, cher Seigneur."

(Wys my U pad, liewe Heer.)

Celeste se trane sit vlak en dadelik draai sy weg. Hierdie liefdevolle oomblik tussen ma en seun is net te veel vir haar om te aanskou. 

Toe Anna later die gemmerbroodmannetjies inbring, volg twee pare oë opgewonde … eers vir Anna en toe vir Celeste, wat die plaat by haar vat. Anna se sagte lag vul die kombuis en albei vrouens giggel saam.

"Pasop, die plaat is warm, julle twee!" keer Celeste toe hulle te naby daaraan kom.

"Ik ga ok een kry?" vra Nico weer.

"Tante Celeste het mosth gesê onse ga elkeen twee kry, né tante Celeste?" Vraende blou ogies staar op na haar en sy knik.

"Dit is reg, Robert. Julle kan elkeen twee mannetjies kry. Wag net ʼn bietjie dat hulle eers afkoel." ʼn Klein vingertjie word uitgestoot reg om aan ʼn koekie te raak toe Celeste net betyds keer. Toe sy uiteindelik twee koekies in elkeen se hande plaas, byt hulle met genot groot happe daaruit.

"Wees versigtig, Seuns, dit is nog steeds warm," waarsku Celeste, maar hulle gretigheid het eenvoudig die hitte geblus. Beide kinders se wange bol van die lekkerny. Skamerig uiter Nico: "Dankith, Tante Celes." Haar naam is duidelik te moeilik om uit te spreek en sy glimlag teer. "Dit is ʼn plesier … nog een?"

"Mag ikth, Mummy?" Nico draai na sy ma, die een handjie klaar gereed.

"Ja, jy mag, maar dan is dit tyd om na die diere te gaan kyk. Jacob het julle twee hoeka al kom soek."

"Celeste Reyneke," sê sy terwyl sy haar kop kantel om hom beter te kan sien. Sy goue ongetemde baard is bewys van hul tyd in die veld wat die grootste gedeelte van sy gesig bedek. Haar oë beweeg hoër op en sy merk die woeste boskasie wat smeek vir ʼn skêr. Dit laat hom wild en ongenaakbaar voorkom, maar sy sagte oë spreek die teendeel. Blousel-blou kykers staar na haar met genoegdoening. ʼn Fyn glimlag huiwer om sy lippe in teenstelling met die imposantheid van die man.

"Laat my toe om jou te help, Celeste," bied hy aan en steek sy groot hande uit om die skotteltjie by haar te neem.

"Dankie, Monsieur."

"Jy moet Fleur se niggie wees?" sê-vra hy en gaan voort om die skottel uit haar hande te neem en op die tafel neer te sit.

"Ja, ek is. Ek het gister gekom." Celeste stap na die wasskottel, neem die boerseep en was haar hande deeglik.  

"Ook net betyds, lyk dit vir my."

"Definitief, anders sou Anna haar beslis moes help." Sy lag verleë. Haar hart mis ʼn slag en slaan dan bollemakiesie toe sy die deurdringende oë ontmoet. 

"Kan ek vir jou koffie skink?" vra sy ietwat ongemaklik.

"Dit sal heerlik wees, dankie. Dit is ʼn dogtertjie?" vra hy belangstellend.

 

 

 

 

 

 

Spore van Genade

Spore van Genade

Spore van Genade

Oorsig

Wat is asemloos? Asemloos was ek eendag op 'n lang dag. 'n Dag sonder dat ek die son sien opkom het, 'n dag sonder hoop, sonder tyd, sonder 'n geluid. Mense sê hulle tyd is duur. Wat is my tyd wat ek op die plek moes verduur?

Die son kom op en sak maar ek weet nie eers of dit dag of nag is nie. Die verskil tussen water en asyn, sweet en roosmaryn ken ek nie eers meer nie. Ek sit hier op die wal van die Vaalrivier.  Kaalvoet man sonder 'n van of naam... So weet dié mens min!

Ek, die man op die maan.  ‘n Man met my eie taal. In ink geteken my verhaal. Die mense lag! Daar staan die boemelaar ou maar ek stap, stap my voete rou. 'n Laaste dag dalk, ‘n laaste nag. In my hart 'n blondekop dogter en 'n donkerkop vrou wat my nog laat wag voor ek vertrek na die Hemelseprag!

Die lewe ken my stap, Vader het my pad vir my uitgekap. Gedra was ek deur gebede! As die mens maar weet! Die verskil tussen water en grond. Vis en vleis. Is soos ek, die gewonde boemelaar man. Ek op my “boks” en jy op jou "king size" bed....

Wat is die verskil? Hoekom is jy skaam vir my?

45 Woordkunstenaars, 1 Bundel

Alta van Zyl

Alta van Zyl is in Klerksdorp, Suid-Afrika gebore en het grootgeword in Randlespark. Op die ouderdom van 16 het sy swanger geraak met haar dogter. Later jare is Alta getroud en het ook ‘n stiefseun ryker geword. Vandag is sy die trotse ouma van 3 kleinkinders. In 2016 is sy geskei.

Sy is ‘n regte “Warrior Women”. Om te bly hoop, al is daar niks om voor te hoop nie, is haar leefwyse. Haar eerlikheid en sagtheid is welbekend onder haar hartsmense. Sy is altyd gereed met ‘n vriendelike groet en opbouende woord. Sy tree op soos sy is.

Na ‘n moeilike lewe het sy, op die ouderdom van 31, haar lewensverhaal begin skryf. Ander boeke het ook daarna gevolg. Haar uithouvermoë en aanhou probeer maak van haar ‘n ster wat helder skyn. Sy was betrokke in haar bediening wat vir ‘n tyd lank toe was, maar nou weer oopgestel is. Of sy ‘n boek skryf of nie, sy is besig met die bediening en die bemarking van haar boeke. Sy beskou elke mens se sukses, in wat hy/sy ookal bereik, as sukses. Die een is nie méér belangrik as die ander nie. Wanneer jy doelwitte gestel het en dit bereik het, was jy suksesvol.

Alta glo in groei, dat ‘n mens kennis moet opbou in verskeie areas en dat ‘n mens nooit genoeg intellektueel en emosioneel kan groei nie. Sy sal elke dag leersaam wil bly, want … “’n Mens is nooit te oud om te leer nie”. Emosionele volwassenheid is iets wat plaasvind met verandering van gedagtes, daarom is sy nie bang vir veranderings in haarself en haar denkwyses nie. Die swaarkry (geestelik, emosioneel en liggaamlik) van die mens lê haar na aan die hart en as sy ‘n verskil kan maak, is dit vir haar ‘n groot bonus, floreer sy en is sy in haar element. Die boemelaar op die straat wat steeds lewe en glimlag wanneer daar ‘n geldstukkie in sy hand gestop word, inspireer hierdie vrou. Dit laat Alta besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees en dit inspireer haar tot ‘n groter omgee-hart wat oorloop van liefde, sonder enige veroordeling, want niemand van ons stap in die boemelaar se skoene nie.

Lees mens dié merkwaardige vrou se verhaal, verstaan jy ook wat so inspirerend uit haar verhaal is, want sy is deur ongelooflike diep waters en vuur, nie een maal nie, maar talle kere in haar lewe. Al wou sy het sy nooit gaan lê nie, maar elke keer sterker anderkant uitgekom. Vandag is sy die vuur! ‘n “Free spirit.” Wat jy sien is wat jy kry. Sy dra geen maskers nie. Lank gelede reeds is dit verbrand en voorgee is nie in haar woordeskat en leefwyse nie. Alta is dieselfde mens agter geslote en geopende deure!

Om jouself te vind en lief te hê is vir Alta van Zyl die definisie van ware geluk. Die sleutel tot geluk vind ‘n mens net binne jouself. Jy kan niemand gelukkig maak en ook self gelukkig wees, alvorens jy nie ware geluk binne jouself ontdek, ken en leef nie.

Haar advies aan jong aspirerende skrywers is om jou boeke self te probeer publiseer. Glo in jouself, al neem dit jou jare. Hou aan glo in jou boek en skryfvermoëns. Die eerste paragraaf is al die sleutel na sukses.

Ten laaste glo sy: Dra jou kroon, want jy is vrou.

Boemelaarsvrou deur Alta van Zyl (Hope)

Vanoggend, soos elke oggend, is ek weer getrou op my pos by die robot in 3de Laan. Soos ek staan en bedel vir my daaglikse brood, dank ek my Vader wat in my behoeftes sal voorsien. Met ‘n dankbare hart loof ek Hom dat ek bevoorreg is om nog ‘n werkie te kan doen. Dit is net genade uit die hand van ‘n liefdevolle Vader wat my liefhet as boemelaarsvrou.
Daar is ‘n pyn in my hart wat my siel verteer. ‘n Diepe smart wat my soms in stukke wil skeur! Net na Hom kan ek dit bring, net Hy alleen verstaan en kan dit vir my dra. Sien, ons Koning, pragtig in al sy Glorie, is gebore in ‘n krip. Hy het óók swaarkry geken. Met een kleed het Hy sy bediening begin en vir drie jaar voortgesit. Sy voete ook stukkend en vuil van al die ver stap. Hy het honger gehad en moes bid tot sy Vader vir brood. Die mens van aansien het Hom verwerp. Hy, die Koning, was arm, vuil en slegter af as die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hoe kan dit dan? Hoe kan Hy dan die Koning wees? Maar YaH'Shua (Jesus) het geweet wie Hy is; soos ek en ander saam met my op straat. Die mens oordeel ons omdat hulle nie ons paadjie stap nie, óf in ons skoene staan nie. Elke dag bid ek dat hulle wat op ons neerkyk, nie ook eendag hier sal hoef te staan nie!
Soos die man met sy mooi blink BMW wat elke oggend ‘n paar treë van my af staan en wag vir die robot om na groen oor te slaan. Vinnig draai hy dan sy venster op en kyk ander pad. Elke oggend sien ons mekaar, ek dink soms wens hy dat ek môre nie weer daar sal staan nie. Ek hoor dan sy musiek. Pragtige geestelike liedjies, soms ‘n preek, dan bid ek dat hy sy Verlosser sal ontmoet deur die oë van ‘n kind. Dan, ja dan glo ek, sal hy Jesus werklik vind en ook eendag vir my, die boemelaarsvrou van 3de Laan, kan glimlag en bid. Hy laat my dink aan die ryk man en ek is ou Lasarus. Elke dag het Lasarus gelê as boemelaar voor die poort van die rykman. Lasarus was siek, die honde het sy swere gelek! Hy was honger en het koud gekry. Die ryk man het in weelde geleef. Alles gehad, maar een ding gemis! Hy was eintlik arm en Lasarus baie ryk. Lasarus het Jesus geken, gedien en liefgehad. Met sy dood is hy weggedra na die boesem van Abraham, deur die engele. Die rykman het ook vir Vader geken, maar was arm, want hy het geen verhouding met Hom gehad nie. Toe hy sterf is hy begrawe. Daar was geen engele nie, geen hemelse verwelkoming nie, hy het smarte beleef en Lasarus het nou die goeie gehad.
Vanoggend kon ek ook vir tannie Sarie ‘n broodjie neem. YaHWeH was goed vir my, ek kon weer uitdeel. Tannie Sarie kan nie meer bedel nie, die swaarkry het sy tol geëis. Eens was sy ‘n pragtige, suksesvolle vrou wat geleef het vir haar medemens. Oral het sy gedien en mense met haar liefde bedien. Toe word haar pos vir ‘n ander gegee en haar pensioen gesteel. Maande later het sy alles verloor, kon sy nie meer aan ander gee nie. In die ry by die Sopkombuis, waar sy altyd groente en vleis kon aflaai, moes sy ook nou staan met haar bordjie in haar hand en ‘n gebed in haar hart.
Ek bid vanoggend vir Sonja. Die lewe het haar ‘n lelike streep getrek. Hulle was invloedryk. Het alles gehad. ‘n Goeie gelukkige lewe, mooi huwelik en gesonde kinders. Hul lewe is in ‘n oomblik van hul weggeneem toe haar man sy pos as direkteur verloor het. Hul vriende het nie meer kom kuier nie. Stadig het hulle alles begin verloor. Haar man kon nie meer nie en het selfmoord gepleeg. Net daarna het die balju alles kom haal. Daar was nie meer ‘n dubbelverdiepinghuis, vier blink nuwe motors, boutiqueklere en eksotiese etes nie. Hul kaarthuis het inmekaargeval en Sonja is op straat gelaat met vier kindertjies. Later het die welsyn hul in pleegsorg geplaas. Sonja is bitter! Sy moet Jesus nog vind.
Terwyl ek so staan by my robot, kyk ek so na al die verbygaande mense. Dié op straat en dié wat nog alles het en ek wonder baie dae wie is werklik die gelukkigste? Soms sien ek hoe man en vrou baklei in hul kar by die stop. Ek sien tieners met lelike maniere wat alreeds op ons mense van die straat neerkyk. Steek vir ons tong uit of vloek ons. Soms hoor ek die woorde, hoe dit weergalm deur my kop as die mense my so slegsê, ek die bedelaarsvrou. As die vrouens met hul duur motors en mooi klere my so aangluur, dan krimp my hart ineen. Maar dan is dit juis sulke dae wat Jesus my net sterker en beter maak. Sien, eens was ek ook goed af! Het ek ook mooi klere gedra, gestaan voor my hangkas en gewonder wat trek ek vandag aan, soos alle vrouens. Eens het ek ook die beste gesigrome gebruik. Het ek ook in ‘n salon gesit en luister na die skinderstories van die dorp, maar toe kom die dag dat ek ook alles verloor. Nou kan ek soos ander, al my besittings in ‘n tassie pak. Vandag is ek ryker as voorheen, vandag het ek Jesus in my hart.
Mense kom praat met ons, dink ons is dom. Hulle dink ons ken nie die lewe nie. Het géén ondervinding of kwalifikasies nie. Ons is net die verwerptes, die uitgeworpenes van die samelewing, die melaatses. Tussen ons mense is soveel ryk verhale. Ons het geleer dat die Almagtige werklik met ons is, elke oomblik van die dag. Daar is dié van ons wat ook op dwelms en drank is, soos ook in die lewe van rykdom en prag. Dit kry mens oral. Dit is net hartseer dat ons geoordeel word aan ons buiteblad, sonder dat ons boek eers gelees word.

Skrywers en Digters

Adri Theron, Alta van Zyl, Vickey de Jager, Andre Viktor,

Anjelika Van Den Berg, Anna Malan, Anria Breed, Antonette Bisset,

Anzo Conradie, Anzé Bezuidenhout, Bernard Fielies, Bernedine Koch, 

Charlene Mocke, Danielle Lotter, Delana Goosen, Driekie J Grobler, 

Eliztha Jacobs, Francois Meyer, Ingret Wepener, Isak de Lange, Jacky de Klerk, 

Koster Cronje, Linda du Plessis, Liza Daniells, Louis Krüger, Louisa van Vliet, 

Luna, Lynelle Clark, Marie Ströh, Margaret Bennett, Marietjie Espach, Mariaan Taljaard, 

Mariaan van Zyl, Marike Erasmus, Nadine Juta Strydom, Pieter Henning, 

Salome Oppermann, Samantha Wepener, Santie Kruger, Saretha Mouton Benadé, 

Stienie Boshoff, Sybie Kleynhans, Tinus Nortje

 

Illustrasies

All sketse is gedoen deur Liefiekind en Antonette Bisset.

Foto van omslag geneem deur Theuns de Bruin.

Voorwoord – Danielle Lotter

Die lewe het my geleer ... wat is die verskil tussen hard en sag?

My lewe het my geleer wat is dankbaarheid...!

Dankbaar vir wat jy het, maar nie vir wat jy wil hê nie.

Ons het als wat ons nodig het. Meeste van ons het skoene, klere, kos, liefde in oorvloed.

GESONDHEID ...

Maar ons word wakker in die oggend ONDANKBAAR!

Maar jy’t wakker geword vanoggend, meeste van ons in ‘n huis, warm bed, kombers, kon tande borsel, skoene aan jou voete en dalk nog ‘n werk!

Moenie die lewe vir granted vat nie!

Wees dankbaar!

Klippie op die strand het nie gevra spoel my uit op die mooiste wit sand nie ... hy is uitgespoel waar die see se strome hom heen gespoel het. Elke brander wat oor hom maal en breek, groter klippe wat teen hom stamp en skuur, het daai klippie elke dag net nog meer uniek gemaak.

Waardeer eerder meer!

Een vuurhoutjie steek ‘n hele veld aan die brand.

Wees lig elke dag!

Want Liefde Wen.

Onthou ‘n verskil begin by jou.

Danielle Lotter (Dogter van Rudolf Frank Victor)

 

Opgedra aan Rudolf Frank Victor

Een nag toe ‘n yskoue wind deur die mure van die dorpie huilend waai, het ek ‘n droom gehad. ‘n Droom van ‘n blouoog boemelaar wat honger en weerloos by die stadspoort op ‘n kartondoos, toegemaak met net ‘n dun stukkende kombers, lê en wag op die nuwe dag.

Sy lewe het soos ‘n film in my droom voor my afgespeel en my hart wou met tye gaan staan. Ek het geweet hy voel deur God verlaat en word deur die mens gehaat, al is ook hý duur gekoop! Oor en oor het die vraag; hoe kan een mens soveel smart verduur en steeds lewe; my pynlik getart, want hierdie man was vanaf geboorte bekend met die verskriklikste pyn wat die hel aan ‘n mens kan bied.

Die blouoog boemelaar … Eens my Germaanse heer, ‘n geliefde en bekende man met drome in sy oë. ‘n Man wat ‘n veld aan die brand kon steek met sy lag en nie bang was vir die donker nag nie. ‘n Diep siel met ‘n hart van goud wat op sy lewensweg altyd soekend na God was en deur sy pynlike omstandighede en seer verlede gespartel het in sy bloed, en God nie kon vind nie tot die dag ook vir hom sou aanbreek en sy uur sou kom wat Vader by hom verby sou gaan en in sy bloed vir hom sou sê: LEEF… Eségiël 16:4-6.

Rudy - ‘n Lasarus soos van ouds, wat verlang het daarna om hom te versadig met die krummels van die lewe as die honde sy seerplekke lek – dáárvan was geen mens bewus nie. Die blouoog laggende boemelaar wat God op sy sterfbed gevind het en volgens sy wens in sy pers en wit doodskleed (koninglikheid), ter ruste gelê is. Die man wat nou rus waar daar geen traan of smart is.

Die engel by my … Vir ander net steeds die sondaarmens! Die blouoog man wat ek nog ontmoet in my drome en sien deur die hemelblou vensters van ons dogter en kleinkinders! Die man wat tot in ewigheid sy deel van my hart sal besit.

Die man wat my inspirasie was na ‘n nuwe boek en toe vind hy sy plek in die digbundel. ‘n Man wat my geleer het dat die hart van ons mense lê by dié met die meeste seer. Dié op die ashoop van die lewe is eintlik die diamante deur die Gewer.

Alta van Zyl

Belangrike skakels

Spore van Genade Facebook Blad

In gesprek met Alta van Zyl by Kreatio

Bestel by enige van die Woordkunstenaars teen R245, posgeld uitgesluit.

Of bestel direk by my by lynelle@kreativcollectiv.com. Of vul net die vorm onderaan in. 

Daar is nog 'n paar boeke beskikbaar. Paxi is die aanbevole koerier teen R60 per boek

5 + 5 =

You cannot copy content of this page