Spore van Genade

Spore van Genade

Spore van Genade

Oorsig

Wat is asemloos? Asemloos was ek eendag op ‘n lang dag. ‘n Dag sonder dat ek die son sien opkom het, ‘n dag sonder hoop, sonder tyd, sonder ‘n geluid. Mense sê hulle tyd is duur. Wat is my tyd wat ek op die plek moes verduur?

Die son kom op en sak maar ek weet nie eers of dit dag of nag is nie. Die verskil tussen water en asyn, sweet en roosmaryn ken ek nie eers meer nie. Ek sit hier op die wal van die Vaalrivier.  Kaalvoet man sonder ‘n van of naam… So weet dié mens min!

Ek, die man op die maan.  ‘n Man met my eie taal. In ink geteken my verhaal. Die mense lag! Daar staan die boemelaar ou maar ek stap, stap my voete rou. ‘n Laaste dag dalk, ‘n laaste nag. In my hart ‘n blondekop dogter en ‘n donkerkop vrou wat my nog laat wag voor ek vertrek na die Hemelseprag!

Die lewe ken my stap, Vader het my pad vir my uitgekap. Gedra was ek deur gebede! As die mens maar weet! Die verskil tussen water en grond. Vis en vleis. Is soos ek, die gewonde boemelaar man. Ek op my “boks” en jy op jou “king size” bed….

Wat is die verskil? Hoekom is jy skaam vir my?

45 Woordkunstenaars, 1 Bundel

Free Consultation

Project planning

Research & Content Strategy

Ghostwriting & Translations

Page layout & Uploads

Launch, Refine, Repeat

Alta van Zyl

Alta van Zyl is in Klerksdorp, Suid-Afrika gebore en het grootgeword in Randlespark. Op die ouderdom van 16 het sy swanger geraak met haar dogter. Later jare is Alta getroud en het ook ‘n stiefseun ryker geword. Vandag is sy die trotse ouma van 3 kleinkinders. In 2016 is sy geskei.

Sy is ‘n regte “Warrior Women”. Om te bly hoop, al is daar niks om voor te hoop nie, is haar leefwyse. Haar eerlikheid en sagtheid is welbekend onder haar hartsmense. Sy is altyd gereed met ‘n vriendelike groet en opbouende woord. Sy tree op soos sy is.

Na ‘n moeilike lewe het sy, op die ouderdom van 31, haar lewensverhaal begin skryf. Ander boeke het ook daarna gevolg. Haar uithouvermoë en aanhou probeer maak van haar ‘n ster wat helder skyn. Sy was betrokke in haar bediening wat vir ‘n tyd lank toe was, maar nou weer oopgestel is. Of sy ‘n boek skryf of nie, sy is besig met die bediening en die bemarking van haar boeke. Sy beskou elke mens se sukses, in wat hy/sy ookal bereik, as sukses. Die een is nie méér belangrik as die ander nie. Wanneer jy doelwitte gestel het en dit bereik het, was jy suksesvol.

Alta glo in groei, dat ‘n mens kennis moet opbou in verskeie areas en dat ‘n mens nooit genoeg intellektueel en emosioneel kan groei nie. Sy sal elke dag leersaam wil bly, want … “’n Mens is nooit te oud om te leer nie”. Emosionele volwassenheid is iets wat plaasvind met verandering van gedagtes, daarom is sy nie bang vir veranderings in haarself en haar denkwyses nie. Die swaarkry (geestelik, emosioneel en liggaamlik) van die mens lê haar na aan die hart en as sy ‘n verskil kan maak, is dit vir haar ‘n groot bonus, floreer sy en is sy in haar element. Die boemelaar op die straat wat steeds lewe en glimlag wanneer daar ‘n geldstukkie in sy hand gestop word, inspireer hierdie vrou. Dit laat Alta besef hoeveel sy het om voor dankbaar te wees en dit inspireer haar tot ‘n groter omgee-hart wat oorloop van liefde, sonder enige veroordeling, want niemand van ons stap in die boemelaar se skoene nie.

Lees mens dié merkwaardige vrou se verhaal, verstaan jy ook wat so inspirerend uit haar verhaal is, want sy is deur ongelooflike diep waters en vuur, nie een maal nie, maar talle kere in haar lewe. Al wou sy het sy nooit gaan lê nie, maar elke keer sterker anderkant uitgekom. Vandag is sy die vuur! ‘n “Free spirit.” Wat jy sien is wat jy kry. Sy dra geen maskers nie. Lank gelede reeds is dit verbrand en voorgee is nie in haar woordeskat en leefwyse nie. Alta is dieselfde mens agter geslote en geopende deure!

Om jouself te vind en lief te hê is vir Alta van Zyl die definisie van ware geluk. Die sleutel tot geluk vind ‘n mens net binne jouself. Jy kan niemand gelukkig maak en ook self gelukkig wees, alvorens jy nie ware geluk binne jouself ontdek, ken en leef nie.

Haar advies aan jong aspirerende skrywers is om jou boeke self te probeer publiseer. Glo in jouself, al neem dit jou jare. Hou aan glo in jou boek en skryfvermoëns. Die eerste paragraaf is al die sleutel na sukses.

Ten laaste glo sy: Dra jou kroon, want jy is vrou.

Boemelaarsvrou deur Alta van Zyl (Hope)

Vanoggend, soos elke oggend, is ek weer getrou op my pos by die robot in 3de Laan. Soos ek staan en bedel vir my daaglikse brood, dank ek my Vader wat in my behoeftes sal voorsien. Met ‘n dankbare hart loof ek Hom dat ek bevoorreg is om nog ‘n werkie te kan doen. Dit is net genade uit die hand van ‘n liefdevolle Vader wat my liefhet as boemelaarsvrou.
Daar is ‘n pyn in my hart wat my siel verteer. ‘n Diepe smart wat my soms in stukke wil skeur! Net na Hom kan ek dit bring, net Hy alleen verstaan en kan dit vir my dra. Sien, ons Koning, pragtig in al sy Glorie, is gebore in ‘n krip. Hy het óók swaarkry geken. Met een kleed het Hy sy bediening begin en vir drie jaar voortgesit. Sy voete ook stukkend en vuil van al die ver stap. Hy het honger gehad en moes bid tot sy Vader vir brood. Die mens van aansien het Hom verwerp. Hy, die Koning, was arm, vuil en slegter af as die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hoe kan dit dan? Hoe kan Hy dan die Koning wees? Maar YaH’Shua (Jesus) het geweet wie Hy is; soos ek en ander saam met my op straat. Die mens oordeel ons omdat hulle nie ons paadjie stap nie, óf in ons skoene staan nie. Elke dag bid ek dat hulle wat op ons neerkyk, nie ook eendag hier sal hoef te staan nie!
Soos die man met sy mooi blink BMW wat elke oggend ‘n paar treë van my af staan en wag vir die robot om na groen oor te slaan. Vinnig draai hy dan sy venster op en kyk ander pad. Elke oggend sien ons mekaar, ek dink soms wens hy dat ek môre nie weer daar sal staan nie. Ek hoor dan sy musiek. Pragtige geestelike liedjies, soms ‘n preek, dan bid ek dat hy sy Verlosser sal ontmoet deur die oë van ‘n kind. Dan, ja dan glo ek, sal hy Jesus werklik vind en ook eendag vir my, die boemelaarsvrou van 3de Laan, kan glimlag en bid. Hy laat my dink aan die ryk man en ek is ou Lasarus. Elke dag het Lasarus gelê as boemelaar voor die poort van die rykman. Lasarus was siek, die honde het sy swere gelek! Hy was honger en het koud gekry. Die ryk man het in weelde geleef. Alles gehad, maar een ding gemis! Hy was eintlik arm en Lasarus baie ryk. Lasarus het Jesus geken, gedien en liefgehad. Met sy dood is hy weggedra na die boesem van Abraham, deur die engele. Die rykman het ook vir Vader geken, maar was arm, want hy het geen verhouding met Hom gehad nie. Toe hy sterf is hy begrawe. Daar was geen engele nie, geen hemelse verwelkoming nie, hy het smarte beleef en Lasarus het nou die goeie gehad.
Vanoggend kon ek ook vir tannie Sarie ‘n broodjie neem. YaHWeH was goed vir my, ek kon weer uitdeel. Tannie Sarie kan nie meer bedel nie, die swaarkry het sy tol geëis. Eens was sy ‘n pragtige, suksesvolle vrou wat geleef het vir haar medemens. Oral het sy gedien en mense met haar liefde bedien. Toe word haar pos vir ‘n ander gegee en haar pensioen gesteel. Maande later het sy alles verloor, kon sy nie meer aan ander gee nie. In die ry by die Sopkombuis, waar sy altyd groente en vleis kon aflaai, moes sy ook nou staan met haar bordjie in haar hand en ‘n gebed in haar hart.
Ek bid vanoggend vir Sonja. Die lewe het haar ‘n lelike streep getrek. Hulle was invloedryk. Het alles gehad. ‘n Goeie gelukkige lewe, mooi huwelik en gesonde kinders. Hul lewe is in ‘n oomblik van hul weggeneem toe haar man sy pos as direkteur verloor het. Hul vriende het nie meer kom kuier nie. Stadig het hulle alles begin verloor. Haar man kon nie meer nie en het selfmoord gepleeg. Net daarna het die balju alles kom haal. Daar was nie meer ‘n dubbelverdiepinghuis, vier blink nuwe motors, boutiqueklere en eksotiese etes nie. Hul kaarthuis het inmekaargeval en Sonja is op straat gelaat met vier kindertjies. Later het die welsyn hul in pleegsorg geplaas. Sonja is bitter! Sy moet Jesus nog vind.
Terwyl ek so staan by my robot, kyk ek so na al die verbygaande mense. Dié op straat en dié wat nog alles het en ek wonder baie dae wie is werklik die gelukkigste? Soms sien ek hoe man en vrou baklei in hul kar by die stop. Ek sien tieners met lelike maniere wat alreeds op ons mense van die straat neerkyk. Steek vir ons tong uit of vloek ons. Soms hoor ek die woorde, hoe dit weergalm deur my kop as die mense my so slegsê, ek die bedelaarsvrou. As die vrouens met hul duur motors en mooi klere my so aangluur, dan krimp my hart ineen. Maar dan is dit juis sulke dae wat Jesus my net sterker en beter maak. Sien, eens was ek ook goed af! Het ek ook mooi klere gedra, gestaan voor my hangkas en gewonder wat trek ek vandag aan, soos alle vrouens. Eens het ek ook die beste gesigrome gebruik. Het ek ook in ‘n salon gesit en luister na die skinderstories van die dorp, maar toe kom die dag dat ek ook alles verloor. Nou kan ek soos ander, al my besittings in ‘n tassie pak. Vandag is ek ryker as voorheen, vandag het ek Jesus in my hart.
Mense kom praat met ons, dink ons is dom. Hulle dink ons ken nie die lewe nie. Het géén ondervinding of kwalifikasies nie. Ons is net die verwerptes, die uitgeworpenes van die samelewing, die melaatses. Tussen ons mense is soveel ryk verhale. Ons het geleer dat die Almagtige werklik met ons is, elke oomblik van die dag. Daar is dié van ons wat ook op dwelms en drank is, soos ook in die lewe van rykdom en prag. Dit kry mens oral. Dit is net hartseer dat ons geoordeel word aan ons buiteblad, sonder dat ons boek eers gelees word.

Skrywers en Digters

Adri Theron, Alta van Zyl, Vickey de Jager, Andre Viktor,

Anjelika Van Den Berg, Anna Malan, Anria Breed, Antonette Bisset,

Anzo Conradie, Anzé Bezuidenhout, Bernard Fielies, Bernedine Koch, 

Charlene Mocke, Danielle Lotter, Delana Goosen, Driekie J Grobler, 

Eliztha Jacobs, Francois Meyer, Ingret Wepener, Isak de Lange, Jacky de Klerk, 

Koster Cronje, Linda du Plessis, Liza Daniells, Louis Krüger, Louisa van Vliet, 

Luna, Lynelle Clark, Marie Ströh, Margaret Bennett, Marietjie Espach, Mariaan Taljaard, 

Mariaan van Zyl, Marike Erasmus, Nadine Juta Strydom, Pieter Henning, 

Salome Oppermann, Samantha Wepener, Santie Kruger, Saretha Mouton Benadé, 

Stienie Boshoff, Sybie Kleynhans, Tinus Nortje

 

Illustrasies 

All sketse is gedoen deur Liefiekind en Antonette Bisset.

Foto van omslag geneem deur Theuns de Bruin.

Spore van Genade

Boekomslag deur Odette Clark

Spore van Genade
Armoede
Armoede

Voorwoord – Danielle Lotter

Die lewe het my geleer … wat is die verskil tussen hard en sag?

My lewe het my geleer wat is dankbaarheid…!

Dankbaar vir wat jy het, maar nie vir wat jy wil hê nie.

Ons het als wat ons nodig het. Meeste van ons het skoene, klere, kos, liefde in oorvloed.

GESONDHEID …

Maar ons word wakker in die oggend ONDANKBAAR!

Maar jy’t wakker geword vanoggend, meeste van ons in ‘n huis, warm bed, kombers, kon tande borsel, skoene aan jou voete en dalk nog ‘n werk!

Moenie die lewe vir granted vat nie!

Wees dankbaar!

Klippie op die strand het nie gevra spoel my uit op die mooiste wit sand nie … hy is uitgespoel waar die see se strome hom heen gespoel het. Elke brander wat oor hom maal en breek, groter klippe wat teen hom stamp en skuur, het daai klippie elke dag net nog meer uniek gemaak.

Waardeer eerder meer!

Een vuurhoutjie steek ‘n hele veld aan die brand.

Wees lig elke dag!

Want Liefde Wen.

Onthou ‘n verskil begin by jou.

Danielle Lotter (Dogter van Rudolf Frank Victor)

 

Opgedra aan Rudolf Frank Victor

Een nag toe ‘n yskoue wind deur die mure van die dorpie huilend waai, het ek ‘n droom gehad. ‘n Droom van ‘n blouoog boemelaar wat honger en weerloos by die stadspoort op ‘n kartondoos, toegemaak met net ‘n dun stukkende kombers, lê en wag op die nuwe dag.

Sy lewe het soos ‘n film in my droom voor my afgespeel en my hart wou met tye gaan staan. Ek het geweet hy voel deur God verlaat en word deur die mens gehaat, al is ook hý duur gekoop! Oor en oor het die vraag; hoe kan een mens soveel smart verduur en steeds lewe; my pynlik getart, want hierdie man was vanaf geboorte bekend met die verskriklikste pyn wat die hel aan ‘n mens kan bied.

Die blouoog boemelaar … Eens my Germaanse heer, ‘n geliefde en bekende man met drome in sy oë. ‘n Man wat ‘n veld aan die brand kon steek met sy lag en nie bang was vir die donker nag nie. ‘n Diep siel met ‘n hart van goud wat op sy lewensweg altyd soekend na God was en deur sy pynlike omstandighede en seer verlede gespartel het in sy bloed, en God nie kon vind nie tot die dag ook vir hom sou aanbreek en sy uur sou kom wat Vader by hom verby sou gaan en in sy bloed vir hom sou sê: LEEF… Eségiël 16:4-6.

Rudy – ‘n Lasarus soos van ouds, wat verlang het daarna om hom te versadig met die krummels van die lewe as die honde sy seerplekke lek – dáárvan was geen mens bewus nie. Die blouoog laggende boemelaar wat God op sy sterfbed gevind het en volgens sy wens in sy pers en wit doodskleed (koninglikheid), ter ruste gelê is. Die man wat nou rus waar daar geen traan of smart is.

Die engel by my … Vir ander net steeds die sondaarmens! Die blouoog man wat ek nog ontmoet in my drome en sien deur die hemelblou vensters van ons dogter en kleinkinders! Die man wat tot in ewigheid sy deel van my hart sal besit.

Die man wat my inspirasie was na ‘n nuwe boek en toe vind hy sy plek in die digbundel. ‘n Man wat my geleer het dat die hart van ons mense lê by dié met die meeste seer. Dié op die ashoop van die lewe is eintlik die diamante deur die Gewer.

Alta van Zyl

Belangrike skakels

Boeke is landswyd beskikbaar by Exclusive Books, en Bargain Books deur Protea Boekhandel. Vra indien jy die boek nie op die rak sien nie. 

Spore van Genade Facebook Blad

In gesprek met Alta van Zyl by Kreatio

Bestel by enige van die Woordkunstenaars teen R245, posgeld uitgesluit.

Of bestel direk by my by lynelle@kreativcollectiv.com. Of vul net die vorm onderaan in. 

Daar is nog ‘n paar boeke beskikbaar. Paxi is die aanbevole koerier teen R60 per boek

5 + 2 =

You cannot copy content of this page