fbpx

Wie is ek? Outobiografie

 

My lewe is saamgeflansde potskerwe. Elke skerf ‘n letsel wat probeer om ‘n plek te vind in my lewenskruik.

 

My geboorte is gehul in vrae … wie is my pa? Die vraag met baie antwoorde, maar tog bring nie een vertroosting nie. En daarom die rede vir die vraag: Wie is Ek?

 

My eerste onthou begin op die vlaktes van Upington. Die gebeure voor dit, vasgelê in kiekies is net dit … Beelde. Die langbeen-dogtertjie, gehul in onskuld skugterheid wat vinnig moes leer sy is nie die middelpunt in haar familie se lewe nie. Die een wat altyd opsy moes staan, plek maak vir die ander. Die een wat buite staan en inkyk.

 

Ek is ‘n diamantkind wat nog nie werklik haar blink gevind het nie, Kimberley ‘n vae herinnering van my beginpad. Tussen Louisvale se swartklippe en Kanoneiland se klipperige rivierbank het ek die liefde vir die natuur ontdek en vind nog steeds myself daar in die stiltes.

 

Stories was die ander liefde in my lewe, so om die braaivuur waar die een oom se Cortina beter was as die ander en daar dan lekker gelag is oor hul manewalesse. Of die tannies wat met kleur en geur hul lewe geskilder het terwyl hul hare gedoen word met fyn permkrullerjies of groot krullers vasgepen in hul kop. Die chemiese geure, het my gewoonlik uitgejaag die vlaktes in en het ek nooit die einde van hul stories gehoor nie.

 

Vandag nog, onttrek ek maklik en hou myself besig – stil word en dink ‘n tydverdryf van ver paaie loop. Waar ek stories opmaak en dit herkou so op die terugpad – dit definieer my die beste.

 

My familie dink ek is slim, maar ek weet dit is nie waar nie. Daar is tye wat ek weet en tye wat ek niks weet nie. Ek is al geboelie oor my kamstige slimgeid. Eintlik is ek net gebore met baie common sense en realism, maar ek het myself ook geontslim. (Is dit ‘n woord? Miskien, miskien nie.)

 

Skryf het laat in my lewe begin. Ek moes eers ‘n paar skerwe leef voor die woorde begin vloei het. En toe die ink vloei toe wil dit nie stop nie. Soos die weduwee se kruik. Ek skryf meestal in Engels, dié is ook ‘n lang storie vir ‘n ander dag – en ook in Afrikaans – my moedertaal. Dit gee my ruimte en plek en maak my heel.

Die dag toe die ink begin vloei het my lewe in twee geskeur. Ek het my seer neergepen, deur karakters te skep wat my pyn uitleef. Dit was deurspek met die erotiese, ‘n plek van verlange en ‘n plek van soek na aanvaarding. Dit het my pad op vêr paaie gelei, seer paaie waar ek my eie naïwiteit moes erken. Later, tydens die genesingpad, het ek tot die insig gekom hoe verkeerd die afdraai was.

Die vraag wie is ek het my eendag in die gesig gestaar. Die persoon wat na my gekyk het was leweloos en onbekend. Ek was vasgeketting aan tekortkominge, dreigemente en wellus. Ek het gedink as ek dit saam met hom doen sal hy my aanvaar en het dit in my stories uitgestort tot groot konsternasie van hom.

“Jy is nie hierdie persoon nie,” moes ek dikwels hoor. “Ek sal nie toelaat dat jy dit publiseer nie.” En dit terwyl die kat in die donker geknyp word. My lewe was gehul in leuens en verskansings. Ons lewe ‘n Christelike lewe in die dag en in die nag begeer ons ‘n ander se lyf. Die wete dat hy vir ander kyk terwyl ek langs hom is het my vrouwees geskend. Daardie skerf het my lewe uitmekaar geruk en in woede verander. In die wegstap het die woede oorgesit in traak-my-nie-agtigheid. Ek was vry om te doen wat ek wou maar ek het ook seer gekry in dit. Die letsels daarvan moes ek mee deel, in die gesig kyk en myself vergewe.

Daardie woede was ‘n sluimerende monster wat dikwels uitgekom het in my skryf. Dit gee ‘n ander perspektief aan die storielyn, ‘n unieke kyk na ons feilbaarheid. Maar dit het my ook nader aan God gebring.

Skryf gee my ‘n platform om vrylik te praat, hetsy deur fiktiewe karakters of deur motiverende artikels waar ek my gedagtes vaspen en dit sin maak, juis omdat my praat baie keer deurmekaar is. In skryf onthou ek die woorde, in praat, hol dit weg van my en voel ek gewoonlik soos ‘n gek, daarom hou ek my bek.

Ek het al ‘n draai voor die radio gemaak waar ek my seer en my leer oop en bloot aan my gehoor van vyf vertel het. Dit was ‘n interessante en leersame tyd … ‘n heelword tyd.

Ek was nog altyd lief vir die wêreld om my, om te ontdek, en te leer. Dit verskyn ook in my stories. Ek geniet die samesyn van woorde wat gestring is in sinne. Ek geniet die orde wat dit bring. Dit gee elke potskerf ‘n plek, ‘n rede en ‘n doel.

Nou, tien jaar later, is die ink en my geloof die sement wat die skerwe kom opvul en maak dit die kruik mooi, een woord op ‘n slag. En die vraag word woord vir woord beantwoord in die stille ure waar ek en my pen alleen is.

Kopiereg Lynelle Clark

 

You cannot copy content of this page